Trane van vreugde toe Denel salarisse betaal

Lede van Solidariteit by Denel betoog oor die betaling van hul uitstaande salarisse. (Foto: Solidariteit)

Honderde miljoene rand is die afgelope naweek aan Denel-werknemers uitbetaal nadat Solidariteit ʼn skikking met die wapenvervaardiger bereik het.

Denel is besig om sowat R300 miljoen se uitstaande salarisse aan ongeveer 2 000 Solidariteit-lede en ander werknemers te betaal. Die eerste betalings is Vrydag gedoen en sal na verwagting vroeg volgende week afgehandel wees.

ʼn Skikking is ook met Solidariteit bereik oor die R90 miljoen wat aan Solidariteit-lede verskuldig is.

Dit volg nadat Solidariteit ʼn hofbevel gekry het om beslag te lê op Denel se bates en salarisse. Solidariteit sou op 3 Augustus met die beslaglegging op Denel se bates en sy bankrekening voortgegaan het.

“Ons is dankbaar dat dié uitbetaling van salarisgeld intussen plaasgevind het. Dit gaan reuseverligting vir duisende mense bring,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, behels die skikking dat Solidariteit sy lasbriewe tot beslaglegging sal terugtrek en daar nie met beslaglegging van bates voortgegaan word nie. Werknemers van Denel en Solidariteit-lede sal ook hul uitstaande salarisse ontvang.

Die betalings word befonds uit die surplusse van ʼn ná aftrede- mediese voorsieningsfonds. Dit is surplusse wat nie die voordele sal raak nie. Daar behoort ook voldoende fondse vir salarisse en sekere bedryfskoste tot aan die einde van die jaar te wees.

“Ons hoop dit is nou die einde van die pad wat ons stryd met Denel betref. Denel het nou ʼn nuwe hoof van herstrukturering aangestel en ons hoop die planne wat in plek is om die maatskappy om te draai, sal suksesvol wees sodat salarisse in die toekoms uitbetaal word. Mens weet egter nooit wat die toekoms bring nie,” sê Cronjé.

Intussen word Solidariteit oorval met boodskappe van verligte werknemers.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit/Facebook)

“Ek kan nou soos ʼn trotse pa my kind se agterstallige skoolgeld en onderhoud betaal. Dit voel goed om vir my kind ʼn trui te kan koop vir die winter,” lui een van die boodskappe.

Nog ʼn boodskap lees: “Die afgelope twee jaar was glad nie maklik nie en dit was moeilik om te sien hoe jou eggenoot in meer as een opsig knak, maar ter dieselfde tyd sterk probeer wees vir sy gesin. Die betaling vanoggend is met baie trane van blydskap ontvang. Julle weet net nie hoe baie dit beteken en hoeveel gate dit gaan toestop nie. Nou kan ons weer begin droom, beplan en lewe.”

Vir baie van dié werknemers is dit egter reeds te laat, aangesien hulle onherroeplike skade berokken is weens die weerhouding van hul salarisse. Sommige moes hul huise opgee en ander het selfs hul eie lewens geneem weens die finansiële las wat net te groot geraak het.

“Dit is tragies dat daar soveel swaarkry moes wees voordat die werknemers salarisse wat aan hulle verskuldig was, ontvang het,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann is die pyn van gewone werknemers die ware gesig van staatskaping. “Ons wil hê die gesig van staatskaping moet eerder dié wees van mense agter tralies met oranje oorpakke aan,” sê Hermann.

Solidariteit gaan nou voluit voort met sy veldtog om plunderaars te vervolg. Gesprekke is ook reeds met advokaat Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid oor moontlike private vervolging gevoer.

Lees ook hier oor die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se studie oor die omvang en aard van stres onder werkers en hul welstand by Denel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

RichardC ·

“Die betalings word befonds uit die surplusse van ʼn ná aftrede mediese voorsieningsfonds”: Surplusse se voet. Dis eintlik die stroping van die trust wat geskep is om Denel pensioenarisse se mediese bydrae te finansier. Die “surplusse” is die bydraes van lede wat bedank het voor aftrede, en nie aan hulle uitbetaal is nie. Andersyds weens die feit dat Denel slegs ‘n persentasie van die mediesefonds premie subsidieer, en nie, soos die oorspronklike oogmerk was, om die volle premie te vergoed nie.

RichardC ·

Denel het, na etlike jare se onsuksesvolle onderhandeling met die Voortsettingsfonds lede, die Hooggeregshof genader o ‘n wysiging aan die grondwet van die fonds goed te keur. Ingevolge hierdie wysiging sou Denel vir die oorblywende lede persoonlike annuiteite uitneem wat die subsidie sal betaal. Dit het het tot datum nog nie gebeur nie, maar die “surplusse” word reeds aangewend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.