Transnet dra by tot laer wynuitvoere in 2023

(Foto: Unsplash)

Suid-Afrika het verlede jaar altesame 306 miljoen liter wyn uitgevoer, ʼn stewige daling teenoor die 369 miljoen liter wat in 2022 uitgevoer is. Luidens die 2023-uitvoerverslag van Wines of South Africa (WoSA) het die voortslepende probleme by Transnet onder meer tot die daling bygedra.

Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van WoSA, sê wynproduksievolumes in Suid-Afrika het verlede jaar met 14% afgeneem; dit is ʼn stelling wat gestaaf word in ʼn verslag van die internasionale organisasie vir wingerd en wyn (OIV) en wat kleiner oeste wêreldwyd uitgelig het.

“Die realiteit van oormatige voorraad in beide die noordelike en suidelike halfrond se wynproduserende lande het ʼn nadelige uitwerking op pryse in die geheel. Dit kan veral by die laer- en intreevlaksegment van wynmarkte gesien word waar handel besonder mededingend is en pryse binne die kommoditeitsektor tot ʼn rimpeleffek regdeur die waardeketting lei.”

Sy sê wynprodusente in Suid-Afrika steier boonop onder plaaslike probleme.

“Een van die hoofkwessies is die voortdurende toerusting- en infrastruktuur-uitdagings by Transnet se Kaapstad-hawe wat ʼn groot impak op alle produkte en kommoditeite gehad het.

“Ons is voortdurend met hawe-owerhede in gesprek en het ʼn proaktiewe benadering gevolg om maniere te vind om produsente in hierdie verband te ondersteun. ʼn Langtermynstrategie sal egter geïmplementeer moet word om hierdie uitdagings heeltemal hok te slaan,” sê Thompson.

Christo Conradie, bestuurder van belanghebbendeskakeling-, marktoegang- en beleid by WoSA, sê om in die vraag na bestellings te voldoen is deurslaggewend in internasionale wynbesigheid.

“Ons kan nie toelaat dat vertragings weens swak logistieke prestasie ons goeie naam as ʼn betroubare verskaffer van gehaltewyn aantas nie.

“Die Kaapstadse hawe is ʼn deurslaggewende instaatsteller om te verseker dat ons ons wêreldwye belofte nakom. Ons het die onderneming dat Transnet bereid is om op te tree en op die beheerbare te fokus deur middel van ʼn gesamentlike poging.

“Ondanks ʼn paar werklike logistieke uitdagings, is ons vol vertroue vir die toekoms en is ons daartoe verbind om alle ooreenkomste na te kom,” sê Conradie.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Uitdagings ten spyt het die totale uitvoerwaarde van Suid-Afrikaanse wyne egter tot ʼn noemenswaardige R10 miljard gestyg en maak dit steeds opslae op internasionale verhoë met voortdurende positiewe erkenning van wynkritici soos Tim Atkin en Anthony Mueller.

“Danksy ons unieke terroir is ons produsente bekend vir hul wyne wat uniek en verteenwoordigend van ons reënboognasie is,” sê Thompson.

“Dit is dié reputasie wat Suid-Afrikaanse wyne van hul eweknieë onderskei en die positiewe premiegroeitrajek aanvuur. Die konsekwente positiewe graderings en toekennings wat deur Suid-Afrikaanse wyne behaal is, het ons posisie op die internasionale verhoog ongetwyfeld verstewig.”

Thompson meen wyntoerisme in Suid-Afrika sal na verwagting groei in die bedryf verder versterk en dit sal tot die algehele volhoubaarheid van veral klein- en mediumgrootte instellings bydra.

“’n Voorlopige verslag na aanleiding van ’n impakstudie oor wyntoerisme (wat na verwagting op 1 Februarie vrygestel sal word), toon eksponensiële groei in omset en getalle by kelderdeure. Plaaslike en internasionale besoekers aan die Kaapse wynlande kan vir hierdie groei bedank word.”

Volgens Thompson wen Suid-Afrika se witwyne steeds die gewildheidskompetisie met sauvignon blanc wat aan die voortou is, gevolg deur chenin blanc en dan chardonnay. Al drie kultivars het ook ʼn stewige waardegroei getoon.

“Wat rooiwyn aanbetref, neem shiraz die voortou, met pinotage en cabernet sauvignon kort op sy hakke.”

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Thompson sê daar is geen twyfel dat vanjaar steeds uitdagings vir die Suid-Afrikaanse – en die internasionale wynbedryf – sal inhou nie, “aangesien geopolitieke druk ʼn groot rol in die wêreldekonomie bly speel”.

“Tog bly Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse wynbedryf oop vir sake en bly die uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn ʼn groot fokus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.