Tshwane ‘bloei geld’ weens wanbetalings, korrupsie

Jacqui Uys, burgemeesterskomiteelid vir finansies van die Tshwane-metroraad, saam met Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Ons besef dat inwoners tans nie die dienste ontvang waarvoor hulle betaal nie. Die rede hiervoor is dat korrupsie in die metro nog hoogty vier.”

Jacqui Uys, burgemeesterskomiteelid vir finansies van die Tshwane-metroraad, het vandeesweek geen doekies omgedraai oor die uitdagings wat die Tshwane-metro steeds in die gesig staar nie.

“Hoe verder ons vorder, hoe meer probleme kom ons teë. Sedert 2016 pak ons die een krisis ná die ander, maar ons sal aanhou doen wat gedoen moet word om hierdie mooi stad uit die verkeerde hande te red.”

Uys het na talle uitdagings, onder meer die Mooikloof-substasie wat verlede week vir die tweede keer in vlamme opgegaan het, verwys, asook na die waterkrisis in Hammanskraal en die drie maande lange onwettige en gewelddadige staking wat talle dienste in die stad lamgelê het.

“As ʼn mens nie bereid is om te praat oor alles wat skeefloop nie, sal jy nooit die oplossing daarvoor kan vind nie,” het Uys tydens ʼn ontbyt van die Pretoria Sakekamer gesê.

Sy meen egter dat die metro nie voortdurend al sy tyd en hulpbronne aan krisisbestuur kan afstaan nie.

“Daar gaan altyd een of ander krisis wees – en ons is nou al redelik goed met krisisbestuur – maar ons het nou die besluit geneem dat ons aandag moet gee aan vooruitbeplanning.

Jacqui Uys, burgemeesterskomiteelid vir finansies van die Tshwane-metroraad, het vandeesweek geen doekies omgedraai oor die uitdagings wat die Tshwane-metro steeds in die gesig staar nie. (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Ons het intensief na twee kardinale vrae gekyk: Wat is nodig vir die stad om vorentoe te beweeg? En wat is nodig om ons mandaat as plaaslike regering te vervul?”

Volgens Uys het die metro deur die jare baie geld bestee aan sake wat niks met hom te doen het nie.

“Daar was al telkemale oor groot planne vir die stad gepraat, maar ons fokus is om onder meer seker te maak dat mense elektrisiteit by hul huise en water in hul krane het, om rioolprobleme op te los en om seker te maak dat ons inwoners op behoorlike paaie ry.

“As hierdie dinge nie werk nie, werk niks nie.”

‘Stad bloei geld’

Uys sê die metro het begin deur alles te identifiseer wat tans skeefloop. Daar duik egter voortdurend nuwe probleme op.

Die koste om die belangrikste dienste, soos krag, water, sanitasie en vullisverwydering, te lewer, kos miljoene rande meer as die inkomste wat die stad daaruit invorder. Dit is volgens Uys hoofsaaklik weens tarieffoute, verkeerde fakturering en hoër insetkoste.

Sy sê daar is moontlik meer as 34 000 eiendomme wat nie rekenings vir eiendomsbelasting ontvang nie.

“Dit is moeilik om die randwaarde te kwantifiseer omdat verdere ontleding van die ligging van eiendomme en eiendomswaardes nodig is om die eiendomsbelasting te bepaal.

“Verder is daar ook sowat 622 gevalle waar eiendomme verkeerd gesoneer is. Dit het ʼn verdere uitwerking op [die stad se] inkomste.”

Sy sê die stad bloei geld weens rekeningprobleme en wanbetaling. “Ons kry doodeenvoudig net nie die geld wat aan ons verskuldig is nie.

“Hierdie stad het in die laaste jaar geen debietinvordering gedoen nie en het nou al jare lank nie die vermoë om dagvaardingbestuur rakende eiendomme te doen nie.

“As mense nie hul rekeninge betaal nie, het ons nie die geld om ons skuldeisers te betaal nie.”

Die metro betaal tans jaarliks tussen R400 miljoen en R500 miljoen in rente aan Eskom. “Want ons het nie geld om hom [die kragvoorsiener] te betaal nie.”

Die gebiede in die stad wat die meeste geld vir krag aan die metro skuld, sluit in:

  • wyk 42: Waterkloof en omliggende gebiede;
  • wyk 101: Silver Lakes, Hazeldean en omliggende gebiede;
  • die Moot, Villieria en omliggende gebiede;
  • ʼn gedeelte in Mamelodi-Wes waar die sakeondernemings geleë is; en
  • ʼn gedeelte van Mabophane.

Uys sê benewens die talle rekening- en wanbetalingprobleme is daar ook korrupsiekringe in die metro wat nog uitgeroei moet word.

“Daar is mense wat die stad aktief probeer saboteer. Ons het in hierdie stadium slegs vyf mense in die metro wat ons vertrou om dispute te hanteer.”

Sy sê aan die begin van April was daar 750 dispute wat nog geen aandag geniet het nie.

“Dit het nou verminder tot 704 en ek gaan dit weekliks na.”

Volgens Uys werk die bestuur egter onverpoos om korrupsie in die metro hok te slaan.

“Ons is 100% daartoe verbind om alle korrupsiekringe, waarvan daar baie is, te ontbind.”

Sy het sakelui ook genooi om hul vaardighede aan te bied om te help met oplossings om die metro korrupsievry te maak. “Ek glo dat ons onsself met mense moet omring wat meer weet as ons sodat ons hierdie ernstige kwessie dringend kan takel.”

Onwettige kragverbindings, wanbetalings trek metro plat

Die aantal onwettige kragverbindings in die stad is verbysterend, sê sy.

“Onwettige kragverbindings is volop in Mamelodi, maar ons moenie vir een oomblik dink dat dit net daar só gaan nie. Ek sit my geld op die persoon wat een straat in hierdie stad kry wat nie ten minste een onwettige kabel het nie.

“Ons gaan gereeld in rykmansbuurte in en vind gewoonlik binne 30 minute minstens vyf onwettige kragverbindings.

“Die rede hiervoor is dat daar korrupsienetwerke in ons metro sit. Hierdie boewe gee jou twee opsies: betaal my en ek skakel nie jou krag af nie, of ek sny jou krag af en dan betaal jy my om jou onwettig aan die kragnetwerk te verbind.

“Ons het gedink ons sal die geld wat aan ons verskuldig is, kan insamel deur wanbetalers se krag af te skakel, maar dit het nie gebeur nie.

“Net in Maart het ons dus altesame R538 miljoen meer vir elektrisiteit gefaktureer weens al die onwettige kragverbindings en wanbetalers in ons kragnetwerk.”

Volgens Uys het die metro in Januarie bevind dat soveel as 50 000 kragmeters in die stad nie aan sy stelsels gekoppel is nie en dus nie kraglesings wys nie.

Sowat sewe groot winkelsentrums in die stad ontvang nie kragrekeninge nie omdat daar geen werkende kragmeters is nie.

“In die huidige boekjaar is die maandelikse fakturering vir gemeterde dienste taamlik minder as die projeksies; altesame R250 miljoen minder vir elektrisiteit en R36 miljoen minder vir water.

“Dit is waarskynlik weens kragmeters wat nie lesings gee nie, byna 9 000 kragmeters wat vasgesteek het, 60 000 voorafbetaalde kragmeters wat lae of geen verbruik registreer nie, meterpeutery en tegniese verliese.

“As ons akkurate verbruik op hierdie rekeninge kan projekteer, kan die metro ʼn bykomende inkomste van R200 miljoen verdien.”

Uys het ook toegegee die metro se werklike meterlesings laat veel te wense oor.

“Ons is nie tegnies nie en ons het iemand nodig om die meterlesings namens ons te doen.”

Uys het ook in hierdie geval gevra vir voorstelle van ondernemings om die stad met die inwerkingstelling van slimmeters en die lees daarvan te help.

“Ons wil nie meer ons hulpbronne en geld mors met hofgedinge oor foutiewe rekeninge nie.”

Oplossings?

Uys sê dat ʼn burgemeesterskomiteelid daagliks saam met ʼn span uitgaan om onwettige verbindings en wanbetalers te probeer identifiseer.

“Ons het ook onlangs ʼn korrupsiekring in die open en sluit van rekeninge gevind.

“Indien jy die afgelope paar maande probeer het om ʼn rekening oop of toe te maak, is dit omdat ons al die regte van hierdie mense weggeneem het en omdat die stelsel tans geoudit word.

“Ons het wel nou ʼn stelsel gereed wat binne die volgende week of twee in werking sal tree waarmee jy slegs een rekening kan open en waarvoor jy dubbele verifikasie benodig.

“Ons hoop dat die agterstand in die open en sluit van rekeninge teen die einde van die finansiële jaar opgelos sal wees.”

Uys sê ʼn finansiële projekbestuurskantoor kan binnekort van hierdie probleme help hokslaan.

“Ons het ʼn kantoor wat hopelik van einde Mei gereed sal wees waarin elke afdeling wat vir ʼn rekening verantwoordelik is, in een vertrek sit.”

Die kantoor sal in Tshwane House op die grondvloer geleë wees.

Sy het aan sakelui verduidelik dat ondernemings hier met topbestuurslui hul rekeningprobleme sal kan bespreek. Die kantoor sal ook vir die hele kredietbeheerproses van die stad verantwoordelik wees.

Uys het ook erken dat die metro vir die eerste keer sedert 2009 vir proaktiewe instandhouding vir water- en elektrisiteitnetwerke begroot het.

“Ons het vir verskeie netwerkopgraderings van die elektrisiteitnetwerk begroot. Die Njala-substasie – waar krag van Eskom na die stad kom – was onder meer erg beskadig. Ons is nou reeds ʼn maand besig om dit reg te stel.

“Ek besef dat al hierdie inligting nie noodwendig ʼn rooskleurige prentjie skets nie, maar ek hoop dat ons eerlikheid en die maniere waarop ons die probleme pak, tog ʼn bietjie hoop skep.

“Ons het nou uiteindelik na baie jare bekwame bestuurslede in ons metro en ons werk ywerig daaraan om stappe te doen teen dié wat nie hier hoort nie.”

“As ʼn mens nie bereid is om te praat oor alles wat skeefloop nie, sal jy nooit die oplossing daarvoor kan vind nie,” het Uys tydens ʼn ontbyt van die Pretoria Sakekamer gesê. (Fot0: janice du plessis/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Anonymouse ·

Die DA het meer Brinks nodig, en minder Steehuysens en Zilles.

Dieter ·

Wyk 42 sluit in Stad Tshwane hooggeplaasdes, diplomate, besigheids sentrums, regerings lede, ensovoorts.
Gee asb n opsomming van wat geskuld word deur wie of watter tipe erwe ens gold skuld

Republikein in die Wes Kaap ·

Tshwane is ‘n opgeblaasde ballon. Die metro knak onder werklose instromers wat gratis dienste wil hê. Hulle kry voorkeurbehandeling en suig die begroting op. Hulle besluite by die stembus dikteer sake. Besigheidseienaars ervaar erge verval en besluit om eerder op te pak en nuwe geleenthede ondersoek. Die DA en sy vennote gaan binnekort uitgeskop word.

Kokerboom ·

Soos Kaapstad begin Tshwane lig sien.
Die uitdagings is massief. Dki vir identifikasie van probleme en toegewydheid.
Toon weereens ongelooflike vernietiging van jare van ANC wanbestuur!!

Rocco ·

My vooropbetaalde elektrisiteitsmeter, watermeter werk 100% Tshwane Munisipaliteit, want ek betaal duidelik vir al die wanbetalers ook, deur my nek. Deesdae mag jy ook geen tuinvullis in jou asblik sit nie – die vullis verwyderaars haal dit uit. Hoekom weet ek nie, dit is organiese materiaal. Die munisipale werkerskorps is korrup – is bereid om jou te ‘help’ met betaling. Sterkte

Luxrider ·

Jacqui is nou al ‘n paar jaar ons wyksraadslid en mens kan die verskil sien tussen ons en baie ander wyke. Sy werk hard. Voorspoed Jacqui, jy het ‘n masiewe taak voor jou en net soos jy ‘n vekil maak in ons wyk, glo ek jy sal ook op die lange duur ‘n verskil maak in die finansies van Tshwane.

Kokerboom ·

Republikein van Weskaap
Al die metros ly onder dieselfde tendens. Motte kom na kers en versmoor dit. Waarheen gaan semigrante in Weskaap semigreer? Die kaapse vlakte die hart van Weskaap is ‘n nagmerrie.
Weghardloop help nie. Ons MOET probleme in gesig staar en oplos. Cilliers Brink en sy toegewyde span verdien net lof. Laat ons hul ondersteun.

Marieta ·

Dit bly lagwekkend hoe die “rykes” se rekeninge gewoonlik agterstallig is… Sit bietjie af daar!

tweeling ·

Weskaap jy moet maar hoop die DA kry nie minder as 50% in Mei. Die kanse is daar, moenie jou so heilig hou

Republikein in die Wes Kaap ·

Kokerboom, daar is ‘n groot verskil tussen Kaapstad en Tshwane. En moenie al die probleme op die ANC pak nie. Gaan kyk maar waar die hele top bestuur vandaan kom waaroor die dame so spog. ‘n Sekere bevolkingsgroep skitter in hul afwesigheid. En die VF Plus speel rustig saam.

george ·

Die vorige Metro regering het n gemors gemaak van ons trotse en pragtige Hoofstad. Ek stem met Kokerboom, Pretoria begin die lig sien. Dit sal egter lank neem. Dis moeiliker om iets weer op te bou wat soveel jare misbruik en gebreek was. Ek wens die raad sterkte toe. Dit gaan nie n maklike taak wees nie maar asseblief moenie ophou met wat julle doen nie.

Manie ·

“Verder is daar ook sowat 622 gevalle waar eiendomme verkeerd gesoneer is. Dit het ʼn verdere uitwerking op [die stad se] inkomste.”

Beteken dit dat ‘n huis met ‘n waarde van bv 3 miljoen rand meer of minder eiendomsbelasting betaal net omdat dit in ‘n ander zone val? Behoort eiendom nie op werklike waardasie ongeag waar die huis staan, belas te word nie?

Griesel ·

Dit help nie om net die probleme te identifiseer nie. As jy nie daarvan ontslae raak nie, sal dit nooit ophou nie.

Jacques ·

So moeg vir Tshwane en al hulle verskonings en rampe. Ek sien nie die koppe van korruptes en onbevoegdes waai in groot getalle nie. Ek weet ek sal nie DA stem nie.

Bossie ·

DA EN VF is die oplossing ANC en en …….. misluk. Dit is duidelik die uitweg vir n ver n vervalle SA.

Di ·

Begin deur ondersoek te doen aan korrupte mense wat in Tswane Munisipaliteit werk. Gaan kyk maar op facebook hoe word “prepaid” krag verkoop teen spot goedkoop pryse. Hierdie mense moet beslis vir Metro werk, hoe anders kan hulle prepaid tokens uitreik. Daar is een swart man wat op facebook wat prepaid krag verkoop vir ALLE meters, Eskom, Alle Munisipaliteite, City Power, Centlec en I-Citiq Hexing. Verkoop 1600 units vir R400???? DIT is waar die meerderheid hulle krag koop vir “next to nothing” en ons moet deur ons ore betaal vir prepaid krag.

Impact ·

Wat van Tshwane wat geld vorder van ons op plase waar hulle geen dienste lewer nie, nie eens ons sypaadjies vir ons kan skoonmaak nie. Ons paaie word 1 x 6 maande net bolangs geskraap deur die ou SDR. Waarvoor moet ek erfbelasting betaal as julle absoluut “boggerol” vir ons doen???

Danie ·

Ek haal my hoed af vir hul opofferinge moet n plek opbou nadat dit deur die anc vernietig is.Korrupsie n kanker wat nie gou sal verdwyn nie dit gaan nog lank voortbestaan.

J. J. ·

Dit is wonderlike nuus, hou so aan, maar neem asb sterkte regstappe teen die oortreders en maak die stadsraad skoon van hulle.

Hendrik ·

Die DA sal moet opskud of hulle gaan Tshwane verloor. DIe meerderheid kiesers het nie ‘n saak of dit die ANC was wat die probleme veroorsaak het nie. Privatiseer vullisverwydering en soveel dienste as moontlik. Sny wanbetalers se dienste af soos julle maak met gewone huiseienaars wie se debietorders dalk net een maand nie groot genoeg was om die rekening te betaal nie.

Wakkerslaper ·

Die resultaat van die vroeë 90’s se volksverraad, maar dan staan ramaphosa op ‘n verhoog in die openbaar en sê dat die afrika hool ekonomiese toestande van hierdie eens vooruitstrewende land “apartheid” se skuld is…!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.