Tshwane-grondtransaksies: ‘Hierdie is die feite,’ sê DA

John Moodey, DA-leier in Gauteng. Foto: DA

Die DA sê die beweerde korrupte grondtransaksies wat in die Tshwane-metro gedoen is, was voordat die party aan bewind gekom het.

Maroela Media het reeds in Augustus en September berig dat ʼn paar mense miljoene rande in die sak gesteek het nadat die Tshwane-metro groot stukke grond bekom het.

AfriForum het Maandag klagtes van miljoene rande se bedrog teen die Tshwane-metro, Proco Management, Linked Thoughts Consulting en Faragamo Trading by die SAPD ingedien in verband met die verdagte grondtransaksies.

Burgemeester Stevens Mokgalapa het kort daarna aangekondig die metro is ook reeds besig met sy eie ondersoek na die grondtransaksies nadat daar glo reeds in Mei vanjaar talle klagtes daaroor ontvang is.

John Moodey, die DA se leier in Gauteng, het gesê hy wil graag die ware feite weergee rakende die beweerde korrupte aankoop van die plase Strydfontein, Klipfontein en Roodepoort.

“Hierdie korrupsie het plaasgevind tydens die voormalige Tshwane-burgemeester, Sputla Ramokgopa, se ampstermyn en lank voordat die DA beheer oorgeneem het.”

Die party het Mokgalapa se ondersoek van die transaksies en sy onderneming om op te tree teen enigiemand wat korrup is, verwelkom. “Die DA is vasbeslote om presies vas te stel wat hier gebeur het en doen sy bes om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is, die geld terugbetaal as hulle skuldig bevind word.”

Proco Management het die oorspronklike eienaars van die plaas Strydfontein met R117 miljoen vergoed. Tshwane-metro het op dieselfde dag dié plaas vir R211 miljoen gekoop en Proco Management kon dus ʼn wins van R94 miljoen in hul sak steek.

Tshwane-metro het die Klipfontein-plaas vir R85,5 miljoen by Linked Thoughts Consulting gekoop, wat die plaas op sy beurt vir R53 miljoen by die oorspronklike eienaar gekoop het. Dié middelman het ʼn wins van meer as R32 miljoen uit die transaksie gemaak.

Faragamo Trading het die Roodepoort 504-plaas wat in die Bronkhorstspruit-omgewing geleë is, vir R40 miljoen by die oorspronklike eienaar gekoop en 40 dae later vir R90 miljoen aan die Tshwane-metro verkoop. Dié oordragte is direk ná mekaar gedoen. Dié plaas is intern deur die Tshwane-metro vir R5,9 miljoen waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

… en vertel ons wat gaan Tswane met die grondjies doen? Dit gratis weg gee of weer teen ‘n groot wins verkoop?

JV ·

Hierdie transaksies het in April 2016 plaasgevind, een maand voor die Plaaslike Verkiesing in Mei 2016. Toevallig?

Gert van Wierdapark ·

Die vraag is – WAT gaan die DA aan die Skelms se feite doen? Word enige vervolgings-optrede beplan, of word die mat bloot opgelig?

aj ·

GANGSTER STATE …. ANC…!

Wat het hulle laat dink hulle is BEVOEG om ‘n goed ontwikkelde stad te kan bestuur?

Ongebreidelde arrogansie!

Pieter ·

Als in die land is een groot grap dit is lekker om ons geld so te mors

Sarel ·

Ja die prokureers wat die oordrag gedoen het voor betaling/waarborge. Hulle kan gerus ook geskraap word van die rol en terug betaal wat hulle ontvang vir hul aandeel. Verseker is dit nie laat deurglip nie.
Hier is die definisie vir korrupsie.

Sarel ·

Die wortel van hierdie korrupsie is in die oordrag prokureurs wat wel bewus was van hierdie vermeende rug aan rus transaksies. Oordrag vind plaas nadat die bedrag betaal of bankwaarborge verskaf is. Ek vermoed die middel waarborge en geld was nie in plek nie, want… eers moes die grond betaal wees voordat die oordrag geaktiveer kan word. Daarna kan dit verder aan die stadsraad verkoop word.
Dan die onderhandeling van die grond aan die tussengangers moes nie moontlik gewees het nie. Dit moes alleenlik met die eienaars gewees het.
Betaal maar terug

humor ·

Die ondersoek moet net verder gevoer word. Natuulik het dit nie by die middelman gestop nie. Die middelmanne het hierdie ruimskootse winste met die kaders in die Tshwane – metroraad so onder deur die tafel gedeel..

Erdvark ·

Noudat Afriforum klagtes ingedien het, steek die DA skielik, uit die bloute, sy hand op en sê hy is ook besig met n ondersoek. Die DA weet al n geruime tyd van die korrupsie maar het net mooi niks daaraan gedoen nie. Nou moet n instansie van buite af doen wat die DA al lankal moes gedoen het. Dit is net soos Trump wat die Guptas nou aanvat terwyl die sleg Anc regering te sleg is om dit te doen. Dit is soos hulle sê die DA is maar n ANC Lite, net so agterbaks en onvoorspelbaar.

Johanna Botha ·

Dink die DA gaan n groot verrassing kry met die volgende verkiesing …..in Pta het hulle nou genoeg tyd gehad om n verskil te maak ….en gebeur dit ? ….straatligte brand 24/7, vuil strate plastiek waai oral rand …SWAK !

WonderMaarNet ·

Die papiere het voor die DA al rondgewaai. Die korrupsie het voor die DA aanbewind gekom het gebeur. Rome is nie in een dag afgebreek nie, en gaan ook nie in eendag opgebou word nie. Om te dink meer as 20 jaar se afbreek moet binne 2 en half jaar uitgesorteer wees, dan moet paar mense wakker skrik. Gaan kyk wel waar veranderinge al aangebring is. As mense dink die VF plus gaan oorneem gaan hul moet wakker skrik en vinnig, want met watter getalle? O terloops ek het nog geen VF plus persoon iets sien doen die laaste 25 jaar in die area waar ek bly nie.

Net ek ·

Wondermaarnet, kom kyk hoe lyk die park in Jackson van-Zyl park, Tileba van sluipslapers, dwelmhandel, spuitnaalde, drankbottels…

Thelsa ·

Is daar wragtag enigiets wat die Persone hulle hande op lê wat nie ‘n totale gemors of bedrogspul is nie? Van Tshwane grond tot die bestuur van die WB lughawe. Vader behoed ons teen die skreiende onbevoegde en skelm Persone.

Stan ·

Hierdie is ‘n duidelike voorbeeld wat die ware motivering vir grondhervorming is. Mag julle korruptes deur God gestraf word. Siek verby!! Daar is mense wat in shanty towns bly environment kripeer en julle korrupte amptenare rol in die geld!!

Joe Olivier ·

En intussen ” neem” die DA steeds ongeveer R 100 milj per maand van sy inwoners vir stadsreinigings heffings wat volgens Afriforum onwettig van inwoners gehef word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.