Tshwane kap terug oor ‘vals bewerings’ oor tender

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die Tshwane-metro verwerp bewerings in ʼn Sondagkoerant dat hy watervoorsieningstenders onregmatig toegeken het, en dat hierdie tenders boonop R4 miljard oor die volgende drie jaar sal beloop.

ʼn Berig wat deur City Press gepubliseer is, lui dat die metro 42 maatskappye aangestel het om drinkwater aan sy inwoners te verskaf, “ongeag bewerings van tenderonreëlmatighede, omkopery en ʼn bevel deur die Pretoriase hooggeregshof wat die nuwe kontrakte ter syde stel”.

City Press berig voorts dat dié tenders altesame R4 miljard beloop en ondanks advies deur interne ouditeurs, die bodkomitee en twee regsmenings toegeken is.

Die tenders is vir die huur van 10 000-liter-watertenkwaens by ʼn maksimum van 50 diensverskaffers om drinkwater, soos nodig, aan landelike en informele nedersettings in Tshwane te voorsien.

Die metro sê egter dat die hof die tenders nooit ongeldig verklaar het nie, dat alles volgens die reëls gedoen is, en dat dit die metro na raming R1 miljard oor drie jaar sal kos.

“Die stad het slegs sowat R262 miljoen vir die 2022-’23-boekjaar begroot,” het Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, gesê.

“Die tender is nooit deur die Pretoria-hooggeregshof ter syde gestel nie. Die stad het inteendeel gereeld verslae aan die hooggeregshof verskaf aangaande sy besluite en die prosesse wat tot die toekenning van hierdie tenders gelei het. Alles rakende hierdie tenders is ingevolge die reëls gedoen.”

Bokaba sê Tshwane se bestuur het ook nie resolusies van die bodkomitee teengegaan nie.

Volgens die metro het hy regsmenings ingewin om die stad in sy besluitneming te lei.

Bokaba sê dit is wel so dat die hooggeregshof op 28 November 2022 ʼn bevel teen Tshwane uitgereik het wat bepaal dat die tender vir die aanstelling van diensverskaffers om water te voorsien ter syde gestel word op grond van die geldigheidstydperk van die tender wat by die toekenning daarvan verval het.

Dié saak het betrekking op ʼn hofaansoek wat deur Aptitude Trading Enterprise (Pty) Ltd, Mdoseni Trading & Projects (Pty) Ltd en LTC Holding CC ingedien is om die tendertoekenning te hersien en weens die geldigheid daarvan ter syde te stel.

Volgens Bokaba het die metro ondersoeke van stapel gestuur soos in die sogenaamde Probity-verslag [wat verkrygingsprosesse ondersoek het] aanbeveel is, asook bewerings dat verskeie verkrygingskettingbestuur-beamptes by tenderbedrog betrokke is.

Volgens City Press was daar ook vrese dat huidige diensverskaffers uitgelaat sou word en probleme vir nuwe kontrakteurs veroorsaak.

ʼn Sekondêre tender is glo toegeken om huidige diensverskaffers tevrede te stel.

Die metro verwerp aantygings dat hy ʼn sekondêre tender uitgereik het om ʼn “geveg” te voorkom, en sê ʼn sekondêre tenderproses is bloot van stapel gestuur om die tekortkominge in die aantal watertenkwaens deur sy huidige verskaffer in te haal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.