Tshwane maak planne ná power ouditprestasie

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, het stappe beloof om die metro se beroerde oudituitkomste te verbeter. (Foto: Twitter)

Die Tshwane-metro gaan strafregtelike klagte teen sy voormalige finansiële hoof aanhangig maak en sê die swak gehalte van die stad se finansiële state is ʼn misbruik van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, het Donderdag streng optrede beloof ná ʼn uitgelekte verslag van die ouditeur-generaal op groot gebreke in die hoofstad se bestuur van sy geldsake gewys het.

Die OG het ʼn negatiewe bevinding gemaak, wat beteken die stad se finansiële state bevat wesenlike wanvoorstellings wat nie tot spesifieke bedrae beperk is nie, of dat wanvoorstellings ʼn wesenlike gedeelte van die finansiële state verteenwoordig. Die verslag strek oor die tydperk 1 Julie 2021 tot 20 Junie 2022.

“Behoorlike oudituitkomste vorm die grondslag van goeie regering. Ons kan nie toegewings daaroor maak nie en ons sal verseker dat ons in die toekoms ʼn beter uitkoms behaal,” sê Williams.

Die OG se verslag lui onder meer dat verlof van meer as R800 miljoen uitbetaal is waarvoor die metro nie rekenskap kan gee nie, dat daar ook nie behoorlike rekenskap van miljoene rande se lenings en verbande gegee kan word nie en dat ongemagtigde besteding met meer as R600 miljoen onderverreken is.

Williams sê in sy laaste twee jaar as burgemeester het die stad ongekwalifiseerde oudits ontvang en dat die afname in prestasie onaanvaarbaar is. Hy sê Tshwane se politieke leiers moet verantwoordelikheid aanvaar en verseker dat ʼn plan dadelik in werking gestel word om beter oudituitkomste te verseker.

Hy het nou die stappe uitgestippel wat die metro gaan volg om te verseker dat die tekortkominge gepak word. Dit sluit in strafregtelike aanklagte teen die stad se voormalige finansiële hoof, Umar Banda, wie se kontrak op 31 Desember beëindig is. Die stad sal voorts eksterne ouditeure inspan om die ouditproses te help verbeter, ʼn oudit van die stad se prestasie in die eerste helfte van die huidige boekjaar – en elke kwartaal daarna – gaan gedoen word en daar sal voortgesette samewerking met die OG wees om die bevindings te hanteer en voor te berei vir die volgende oudit.

Ondersoeke gaan ook van stapel gestuur word na raadslede en amptenare wat moontlik uit verskaffingsprosesse voordeel getrek het.

Williams sê ʼn voltydse stadsbestuurder gaan ook aangestel word, en ander vakante topbestuursposte sal gevul word. Dié werwingsproses is reeds van stapel gestuur en sal in die eerste helfte van die jaar afgehandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Delia ·

Moenie beloof nie Mnr Williams . “Die proof is in die pudding”

Republikein in die Wes Kaap ·

En die politici ploeter skotvry voort. In Brittanje en Australië sou politici bedank. Dis waar die emmer stop. Die DA is nes die ANC. Blameer altyd iets of iemand anders.

Jacobus ·

Die kaders vreet hulle rond vet by die krip. Die geld is vinnig besig om op te raak.

Nie Verbaas ·

Dit is wat gebeur as jy so belangrike pos met n BEE kadertjie vul. DA, julle leer ook maar stadig. Die verslag weerspieël n tipiese verslag van n ANC beheerde munisipaliteit. Lyk my Williams sit en slaap daar.

Leon ·

Mnr Williams beloof “streng optrede”. En die skuldiges vee hulle agterente af daaraan. Wie gaan die R1,4 Bn vir belastingbetalers terugbetaal? Niemand. Dis lekker op die soustrein, maak nie saak watter party regeer nie.

Mariana ·

Geen einde aan die korrupsie nie en geen gevolge nie. Onaanvaarbaar en al wat mens kry is leë beloftes. Wanneer is genoeg dan genoeg.

annie ·

Vanjaar is die jaar van groot beloftes… Die Sjinese jaar van die galgroen mamba. Gee tog vir my ok net weer ‘n kansie. Ek beloof om jou nooit ooit weer te pik nie. Is die bytplekkie nog baie seer? Eina toggie tog… Wag laat ek ‘n bietjie spoegies vir jou aansmeer. Nee, sit stil!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.