Tshwane-magspel: Hier’s wat voorlê vir die metro

Stevens Mokgalapa, voormalige burgemeester van Tshwane. (Foto: Christel Cornelissen)

Intense gesprekke is tussen politieke partye in Pretoria se Tshwane-metro aan die gang in die lig van die voortgesette onvermoë van die metroraadslede van alle partye om ʼn burgemeester te kies, die aansuiweringsbegroting te aanvaar of selfs net ʼn beskaafde vergadering sonder terminale ontwrigting te hou.

Aangesien politici maklik geteiken word as oneerlik indien hulle te vroeg in die openbaar standpunt inneem en omdat daar voorkeurverskille intern binne partye is, is politici tans onwillig om by name aangehaal te word. Wydlopende gesprekke sedert Vrydag met rolspelers van die vier grootste partye in die Tshwane-metro het egter ʼn akkurate en verteenwoordigende skets van ʼn veranderlike werklikheid met ʼn onseker afloop moontlik gemaak.

Aan die wortel van die probleem lê die uitmekaarval van die samewerkende ooreenkoms tussen die EFF en die kapitalistiese groepering (DA, VF Plus, Cope en ACDP) in die raad, wat sedert 2016 funksioneer sonder dat enige party ʼn volstrekte meerderheid het.

In die raad van 214 lede het die DA 93 setels, die ANC 89, die EFF 25, die VF Plus 4, en die ACDP, Cope en PAC elk een.

In praktyk beteken dit nie een van die drie grootste partye kan deel van die stadsregering wees sonder die medewerking van minstens een van die drie ander grootste partye nie.

As die metroraad deurlopend misluk om ʼn burgemeester te kies of ʼn begroting te aanvaar, moet die provinsiale LUR vir plaaslike regering die hele stadsraad ontbind, soos die afgelope paar jaar in Nquthu, Metsimaholo (Sasolburg) en Mamusa (Schweizer-Reneke) gebeur het.

As dit gebeur (en aanduidings is dat dit op hande is as die situasie nie teen 12 Maart verander nie), sal ʼn volledige stadsraadsverkiesing binne 90 dae in elke wyk in Tshwane plaasvind.

In hierdie stadium vergader verteenwoordigers van die DA, ANC en EFF dus voortdurend, maar bilateraal – nooit ʼn verteenwoordiger van al drie gelyk in dieselfde plek nie, want hulle wedywer om mag of, soos hulle aanvoer, in belang van hul kiesers – en hulle hou niks van mekaar nie.

In hierdie verband is die DA as’t ware in ʼn hoek vasgeverf, deels deur hul eie gedrag en deels deur omstandighede, waarin die VF Plus ʼn belangrike indirekte rol speel.

Helen Zille Foto: Helen Zille, Facebook

Helen Zille, voorsitter van die party se federale dagbestuur, is besonder uitgesproke daaroor dat die DA in geen omstandighede met veral die EFF maar ook eintlik die ANC moet saamwerk nie. Gevolglik het die DA geen troefkaarte in onderhandelings nie – ooreenkomste is in die praktyk grootliks onmoontlik weens die identiteit van die ander party, ongeag veranderlikes of die aard en inhoud van samewerkingsvoorstelle.

Parallel hiermee is die standpunt van die VF Plus, wat in wese soortgelyk aan Zille s’n is. Die VF Plus is nie bereid om in formele koalisie met die ANC of die EFF te dien in Tshwane waar dit beteken die ANC of EFF kry enige uitvoerende poste nie. Dit is ʼn maklik verstaanbare standpunt wat instinktief resoneer met kiesers by wie daar ʼn morele renons in die ANC en/of EFF is. Dit laat egter geen ruimte vir aanpassing indien jou opponent verander, of selfs vir die behoorlike oorweging van jou opponent se voorstel nie, omdat jou opposisie spruit uit die identiteit eerder as die voorstelle van jou opponent.

Die DA steur hom juis aan die standpunte van ʼn party so klein as die VF Plus omdat die DA se wit kiesers in Pretoria (meer as enige ander metro) die VF Plus as ʼn oorweegbare alternatiewe stemkeuse sien. Dit is dus vir die party noodsaaklik om in die lig van potensiële stemverliese een oog op die VF Plus te hou – die DA kan geen samewerking met die ANC en/of die EFF oorweeg (onafhanklik van die potensiële voorkeur vir hul kiesers) as die VF Plus dit nie ook doen nie.

Die EFF en ANC kan dus in die praktyk geen formele ooreenkoms met die DA verwag nie, so die enigste manier waarop hulle deel van die mag kan bekom en/of in belang van hul kiesers kan regeer, is deur met mekaar saam te werk.

Dit is, gegewe die DA se onbeweeglikheid, die enigste werklike politieke veranderlike in die Tshwane-skaakspel, maar nog nie ʼn uitgemaakte saak nie. Ingeligtes oor ʼn wye spektrum voer aan dis hoekom die ANC en EFF se stadsraadslede dit met hul ontwrigtende gedrag onmoontlik maak vir die metroraad om ʼn sinvolle vergadering te hou – hulle probeer tyd wen vir hul onderhandelingspanne.

Lede van die EFF en ANC buite die Tshwane-raadsaal (30 Augustus 2018) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Wat samewerking tussen die ANC en EFF beduiwel, is eerstens erge haat op voetsoolvlak in die grimmige townships, plakkergebiede en ook die landelike gebiede aan die grens van Limpopo.

“Die bloed van ons mense lê letterlik in daardie strate, waar die media nooit kom en waarvan die buitewêreld nie wil weet nie. Daardie bloed is verspil deur die ANC, nie die DA nie, en ons mense weet dit,” het ʼn EFF-bron aan Maroela Media verduidelik.

Dit skep groot probleme vir die topleierskap van die ANC en EFF, want daardie grondvak-haat, gedoop in bloed, is wedersyds. Soveel as wat sommiges in die topleierskap van die ANC en EFF wil saamwerk omdat dit weens die DA-onbeweeglikheid die enigste strategiese opsie is, wil hul ondersteuners op voetsoolvlak tans niks daarvan weet nie.

ʼn Ander oorweging is dat die EFF tans aandring op Tshwane se burgemeesterskap, en baie in die ANC nie daarvoor kans sien nie.

As bogenoemde omstandighede nie verander nie, bly twee opsies oop. Die eerste is ʼn DA-minderheidsregering saam met die kapitalistiese kleiner partye, maar dit sou byna vir seker misluk.

As ander opsie, wat ʼn al sterker moontlikheid raak as die ANC en EFF nie ʼn ooreenkoms bereik nie, word die stadsraad ontbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

So dan lyk dit vir my koalisies werk ook nie in die land nie. Dan is daar mos nou net een oplossing, elke haan op sy eie mishoop?

FM ·

Mooi man!!!!! So groot metropool met duisende inwoners sonder behoorlike bestuur????? Dis nie ‘n natuur ramp nie. Dis mense – ‘n RAMP!!!!!

Johan Venter ·

Ja, die wit haan op die wit haan se mishoop, die swart haan op die swart haan se mishoop en die rooi haan op die rooi haan se mishoop.

koos10 ·

Ontbind maar en hou weer verkiesing, slegter as wat dit tans in Pretoria gaan, kan dit nie regtig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.