Tshwane-metro kry weer nie begroting goedgekeur  

(Foto: @CityTshwane/Twitter)

Die Tshwane-metro kon nie daarin slaag om Vrydag sy aansuiweringsbegroting goed te keur nie en dit verhoog die risiko vir die metro om onder administrasie geplaas te word.

Slegs 107 raadslede het ten gunste van die aansuiweringsbegroting gestem – 108 stemme was nodig om dit goed te keur.

Die Gautengse provinsiale regering het intussen sy kommer oor die verwikkeling uitgespreek. Mzi Khumalo, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê hy het met kommer kennis geneem van die metro se mislukking om die aansuiweringsbegroting aanvaar te kry ten spyte daarvan dat hy deur Jacob Mamabolo, LUR vir finansies in die provinsie, tot vandag kans gegee is om dit te doen.

“Hierdie versuim deur die metoraad om sy statutêre verpligtinge na te kom hou ’n duidelike en huidige gevaar vir die inwoners van Tshwane in aangesien die verskaffing van basiese dienste aan inwoners nadelig beïnvloed kan word.”

Volgens Khumalo sal hy met Mamabolo in gesprek tree om die geskikste optrede binne die bestek van die Grondwet en ander toepaslike wetgewing vas te stel wat die provinsie kan neem om die situasie reg te stel.

Khumalo het beklemtoon dat die provinsiale regering “baie teleurgesteld is met hierdie verwikkeling aangesien die inwoners nou uiteindelik aan die ontvangkant van die metro se mislukking sal wees”.

Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro, het vroeër gesê daar is doelbewuste pogings om toestande te skep vir die Tshwane-metro om onder administrasie geplaas te word.

Die Tshwane-metroraad kon ook nie Donderdag daarin slaag om die aansuiweringsbegroting goed te keur nie.

“Indien hierdie twee begrotingsitems nie vandag deur die raad goedgekeur word nie, sal dit die voorwendsel skep vir die Gautengse provinsiale regering om in te gryp in die Tshwane-metro. Ek is oortuig dat, soos in die verlede, sulke ‘ingryping’ ’n bybedoelde politieke doel sal dien en rampspoedig sal wees vir dienslewering en finansiële bestuur in die hoofstad.”

Vir die grootste gedeelte van Februarie en Maart het die Tshwane-metro effektief nie ’n uitvoerende burgemeester en burgemeesterskomitee gehad nie, en daarom is die sperdatums misgeloop vir die goedkeuring van die aansuiweringsbegroting en die tertafellegging van ’n konsepbegroting vir die volgende finansiële jaar.

Stadsbestuurder Johann Mettler het die Gautengse en nasionale tesourie geraadpleeg oor ’n verlengde tydlyn, en albei het ingestem om die metro tot vandag kans te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.