Tshwane spook om dienste te herstel

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, en die stadsbestuurder, Johann Mettler, het vakbondverteenwoordigers Vrydag ontmoet en werkers op die trappe van Tshwane House toegespreek oor die stad se finansiële posisie rakende salarisverhogings (Foto: Mayor Cilliers Brink/Twitter)

Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro, het Woensdagmiddag inwoners verseker dat daar van vandag af daadwerklike dissiplinêre en strafregtelike optrede teen stakende werkers plaasgevind het.

Dit volg ná ʼn tussentydse interdik wat die Tshwane-metroraad in die arbeidshof bekom het om die week lange onwettige staking tot ʼn einde te bring.

Die burgemeester sê daar is talle munisipale werkers op hul pos.

In verband met die voortslepende onwettige stakings het die metro gebeurlikheidsplanne reeds geïmplementeer om die impak daarvan teen te werk, het Brink gesê. Dié impak sluit in die sabotasie van dienste en intimidasie van personeel.

“Talle dienste in die stad word weens die stakings ontwrig. Van die dienste is heeltemal gestaak omdat personeel gedreig en geïntimideer word. Dit sluit in klinieke, kliëntediens-instapsentrums en A Re Yeng-busdienste,” het Brink bevestig.

“Daaglikse dienste soos vullisverwydering, waterpyplekkasies, kragonderbrekings en rioolpypblokkasies word ook op plekke ontwrig.

“Ongelukkig kan al die besonderhede rondom die planne nie ten volle met die publiek gedeel word nie vanweë veiligheidsredes,” het Brink gesê.

“Daar sal baie frustrasie wees met raadslede wat nie sensitiewe inligting kan kommunikeer nie.”

Honderde lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu in die hoofstad staak sedert Maandag oor die loon- en salarisverhoging van 0% wat die stadsraad in Junie goedgekeur het (Foto: Mayor Cilliers Brink/Twitter)

Die Tshwane-metropolisie (TMPD) is ook ontbied om stakings te monitor en personeel te beskerm wat nie aan die stakings deelneem nie.

Honderde lede van die munisipale werkers- vakbond Samwu in die hoofstad staak sedert Maandag verlede week oor die loon- en salarisverhoging van 0% wat die stadsraad in Junie goedgekeur het.

“Die werkers dink dat die munisipaliteit aan hul versoeke sal voldoen indien hulle geweld en intimidasie gebruik. Ons staan by ons standpunt dat ons nie die verhogings kan bekostig nie. Wetteloosheid soos hierdie dompel die stad al hoe dieper in ʼn finansiële krisis.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois ·

Bla bla bla. Gee ons bewyse dat julle die lot afdank en ons sal julle glo.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afriforum kan seker inspring en die hoofstad help red.

SomeOne ·

dis net jammer ‘n mens kan nie die teorie toe pas nie :
indien jy aan ‘n vakbond behoort, werk jy nie vir my nie,
of indien jy by ‘n vakbond is, het jy jouself klaar gefire
die vakbonde bedreig alle besigheids omstandighede, hulle voel niks vir ‘n hof interdik nie

Anna-marie ·

Ek glo, Celiers Brink gaan op die ou einde ook maar die handoek ingooi. Soos Andre de Ruyter.

Susanna ·

Goed gedaan Cilliers Brink! Eerste keer dat iemand nie toegee aan salaris verhoging dmv geweldadige stakings nie. Staan vas in jou oortuiging Cilliers Brink!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.