Tshwane stel ambisieuse finansiële doelwit

Cilliers Brink en Johann Mettler van die Stad Tshwane. (Foto: Facebook)

Die Tshwane-metro het ʼn ambisieuse doelwit vir homself gestel – om in die reeks van R1 miljard per maand oor die volgende ses maande die metro se inkomste te verhoog en uitgawes te verminder.

Burgemeester Cilliers Brink sê daar is eenvoudig géén ander manier om die nodige hulpbronne te ontsluit en prestasie te bevorder nie.

“Wat ons tot ons voordeel het, is ʼn R23,3 miljard-debiteureboek (persone wat geld aan die metro skuld) wat ons beoog om in kontant om te skakel,” verduidelik Brink.

“Indien ʼn kwart van hierdie debiteureboek invorderbaar is, moet dit binne die volgende ses maande ingevorder word.”

Indien die metro daarin slaag, verbeter hy sy kontantvloei, agterstallige Eskom-rekening én sy geloofwaardigheid en kredietwaardigheid.

Brink sê dit wen boonop vir die metro tyd om probleme met tariewe reg te stel.

“Indien ons nie daarin slaag nie, sal ons teen einde Junie 2024, wanneer ʼn nuwe begroting aanvaar moet word, ʼn aantal fundamentele veranderinge moet maak aan die manier waarop ons dienste lewer.”

Brink sê om elkeen van die aspekte van die metro se finansiële reddingsmissie te verstaan, kan daar ʼn denkbeeldige reeks van vyf konsentriese sirkels geteken word.

“Die buitesirkel verteenwoordig grootmaat-aankope van Eskom en Rand Water, asook ander oorhoofse uitgawes.

“Die tweede sirkel verteenwoordig die tariewe en eiendomsbelasting wat deur die metro gehef word om hierdie uitgawes, waaronder water en elektrisiteit, te dek.

“Die derde sirkel verteenwoordig die meting van verbruik. Die vierde sirkel verteenwoordig fakturering gebaseer op meting. En die vyfde en finale sirkel verteenwoordig kredietbeheer en skuldinvordering,” verduidelik die burgemeester.

“Ons prestasie op een van hierdie kringe beïnvloed ons prestasie op daaropvolgende sirkels. Die Stad se probleem kan dus soos volg opgesom word: Die Stad se tariewe dek nie ons uitgawes om dienste te lewer nie, deels omdat daardie koste ook hoog is.”

Brink sê die metro se koste word beïnvloed deur faktore soos die produktiwiteit en vergoeding van werknemers en die waarde wat die metro uit tenders ontvang.

Brink sê nie alle dienste word egter akkuraat gemeet nie weens gebrekkige meters en onwettige verbindings.

“En diegene wie se verbruik gemeet word, ontvang te min akkurate rekeninge.

“Van die totaal wat gefaktureer word, betaal te min hul rekeninge, want ons kredietbeheer- en skuldinvorderingstelsel is ondoeltreffend. So, jy kan sien hoe verder jy by hierdie spiraal afgaan, hoe minder geld wat aan die metro verskuldig is, word eintlik in ons bankrekening [betaal],” verduidelik die burgemeester.

Brink sê deur elkeen van hierdie aspekte (sirkels) van die metro se inkomstewaardeketting reg te stel, sal die metro finansiële herstel kan bewerkstellig.

Die Tshwane-metro gaan dus nou fokus op onder meer die vermindering van grootmaat-uitgawes en die opskerping van kredietbeheer en skuldinvordering.

“Ons glo dat ons aansienlik kan bespaar op grootmaat-aankope en uitgawes indien die Rooiwal-kragstasie aanlyn gebring word en daar ʼn ooreenkoms met ʼn privaat operateur gesluit word.”

Die metro hoop dat hierdie besparing in die loop van 2025 verwesenlik sal word.

Brink sê die stadsraad se onmiddellike pogings is egter meer konserwatief. “Ons beoog om die rente wat opgeloop het op ons uitstaande Eskom-skuld te verminder deur die ander aspekte van ons finansiële herstelplan in werking te stel.

Intussen is die Tshwane-metropolisie besig om ʼn nuwe eenheid te stig wat die probleem van onwettige kragverbindings gaan pak.

Die metro beplan ook om in die begroting vir die nuwe finansiële jaar wat op 1 Julie 2024 begin, tariewe so kostereflektief moontlik te maak.

“Dit beteken nie bloot hoër pryse nie, maar, nog belangriker, om ons eie koste afwaarts te bestuur. Ons pogings sal gefokus wees om beter waarde vir geld te kry vir inwoners wat tariewe en heffings betaal,” sê Brink.

Die metro beplan ook om onder meer sy Tshwane Ya Tima-skuldinvorderingsveldtog voort te sit nadat verlede jaar se staking die metro se pogings ondermyn het.

ʼn Projekbestuurskantoor word tans opgestel om hierdie funksie uit te voer en alle beskikbare hulpbronne sal aan hierdie projek beskikbaar gestel word.

Nog fundamentele veranderinge

“So, afgesien van die R23,3 miljard-debiteureboek, hoekom dink ons ons kan sukses behaal?

“Daar is drie fundamentele veranderinge wat ons die afgelope paar maande aangebring het,” sê Brink.

“Ons het uiteindelik ʼn permanente finansiële hoof. Ons het nuwe bestuur in twee kritieke afdelings, naamlik voorsieningsketting en inkomste. En, ons het die staking agter die rug en ʼn nuutgevonde begrip van die pogings wat nodig sal wees om die toekoms van die metro te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar die man stel hordes topbestuurders aan teen hoë salarisse. Nodeloos om te sê wie hulle is.

Nicholaas ·

Ek haal my hoed af vir hom, ek kan my net indink hoe beroerd tswane se finansies moet wees soos natuurlik baie ander dorpe en stede wat deur anc beheer word, sterkte Brink.

Henker ·

Besparing wenk: jy hoef seker nie n Appel airbook laptop te he as die Acer regs van jou dieselfde job kan doen vir baie goedkoper. Benewens dit, sterkte en dankie vir die great job sover om die kreupel Tshwane reg te ruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.