Tshwane-varsproduktemark gou uit metro se hande

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die Tshwane-metro het uiteindelik die groen lig vir Johann Mettler, die stadsbestuurder, gegee om ʼn munisipale entiteit vir die bestuur van die Tshwane-varsproduktemark aan te stel.

Maroela Media het vroeër berig boere, landbouverenigings en markagente is uiters bekommerd oor die gebrek aan sekuriteit, swak onderhoud, higiënestandaarde en veral die doeltreffendheid van die markbestuur by die Tshwane-varsproduktemark.

Die mark is ʼn prominente handelsentrum vir landbouprodukte en speel ʼn belangrike rol in die metro se ekonomie. Met ʼn omset van ongeveer R4 miljard per jaar – waarvan die Tshwane-metro 5%, of ongeveer R20 miljoen per maand vir die bedryf van die mark invorder – is daar talle vrae oor waarom die mark al vir soveel jare net verder agteruitgegaan het.

Hannes Coetzee, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning by die Tshwane-metro, sê die varsproduktemark funksioneer in ʼn hoogs mededingende omgewing en hoë gehalte dienste, infrastruktuur en ondersteuning is onontbeerlik om ʼn doeltreffende varsprodukte-verhandelingsplatform te bedryf.

“Om relevant en mededingend te bly moet die varsproduktemark uitstekende fasiliteite en dienste bied. Die mark moet ook in landboubesigheidsbehoeftes kan voorsien, aan wetlike vereistes voldoen en by veranderinge, neigings en bedreigings aanpas,” sê Coetzee.

“Dit is ʼn stap in die regte rigting; die mark word al vir etlike jare deur talle uitdagings geteister.

“Ons besef dat dit ʼn langtermynoplossing is en dat die voordele daarvan eers oor ʼn ruk sigbaar sal wees. Die burgemeesterskomitee het egter ʼn bedryfsplan goedgekeur om die varsproduktemark te stabiliseer,” sê Coetzee.

“Hierdie plan poog om diensleweringskwessies – wat tydens die middeltermynbegrotingsoorsig vir onmiddellike inwerkingstelling oorweeg sal word – te hanteer.”

Volgens Coetzee sal dit verskeie voordele inhou:

  • Die Tshwane-metro sal voortgaan om inkomste uit ʼn volhoubare sakemodel te verkry;
  • ʼn Groot moontlikheid bestaan ​​dat die sakemodel groter opbrengste vir die metro en die gemeenskap sal genereer;
  • Die gemeenskap sal ʼn alternatiewe bemarkingskanaal geniet wat mededinging sal versterk, asook voedselveiligheid en sekuriteit sal verskaf;
  • Varsproduktemarkverbruikers sal beter dienste en fasiliteite geniet danksy voortdurende belegging in markfasiliteite, tegnologie en dienste;
  • Verbetering van transformasieprogramme om opkomende boere en SEB-agente by hierdie verspreidings- en bemarkingskanaal in te sluit.

Peter Meijer, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metro, sê hy is verheug oor die nuus.

“My oogmerk was dat die varsproduktemark ʼn munisipale entiteit word.

“Dit beteken dat die varsproduktemark nie meer deur die munisipaliteit bestuur sal word nie, maar ʼn entiteit op sy eie sal wees.

“In die kort tydperk wat ek as raadslid dien, het ek gesien dat die varsproduktemark glad nie werk soos dit moet nie. Dit was altyd my plan dat die mark uiteindelik na ʼn entiteit omgeskakel word en dit is uiteindelik wat nou gaan gebeur.”

Volgens Meijer is die stadsraad nie bevoeg om die mark te bedryf nie en sal die instelling voortaan deur ʼn direksie – wat uit kundiges verbonde aan die mark bestaan – bestuur word.

Meijer sê dit gaan egter heelwat tyd neem om die entiteit te skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

houopkruip ·

Dis hoe dit gedoen word – binne die raamwerk van die regerende party (wat aan bewind gaan bly solank as wat ons deel van Afrika is).
Om te droom van “onafhanklikheid” sal bly wat dit is in Afrika – ‘n droom.
Welgedaan Metro.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou toe nou. Klaar gehensop. Onafhanklikheid vir die Wes-Kaap is ‘n realiteit. Gauteng moet maar voortploeter onder die ANC.

JohanR ·

Dit sal aam die gehuil gaan as die Sassa geld nie in die bank is en moet dag na dag terugkom totdat iemand besluit om geld in die rekening te sit, maar dan sal in 2024 maar weer vir die ANC stem! Mens moet alles in die land UIT die regeering se hande hou!

Johann ·

Ja en die straatverkopers gaan seker aandele demand en op die Direksie dien? Free en gratis vregte ant groewnte elleke.dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.