Tuisgeboorte vir Chris Chameleon se 2de pienkvoet

Chris en sy vrou, Daniella (Foto: Facebook)

“Maar soos die kar ry, skud die kinders reg en dis  ʼn pragtige rit. Daar is nou nog  ʼn gesie in die huis, nog  ʼn maatjie, nog  ʼn mening, nog iemand wat saam kan lag, nog iemand wat saans saam op stappies gaan, en nog iemand wat  ʼn bydrae maak tot hierdie familieboom se skadu en wortels.”

Só sê Daniella Mulder, vrou van Chris Chameleon, oor die geboorte van hul tweede dogtertjie. Sy gesels oor hoe hul gesin aangepas het nadat hul babatjie 23 Februarie vanjaar haar opwagting gemaak het.

Dié egpaar het ’n rustige tuisgeboorte gekies, en het selfs deur die dag gaan stap, met hul normale roetine aangegaan en familietyd saam deurgebring.

“Ons het waatlemoen geëet, langs die swembad gesit en net die dag gevat om mekaar, ons seëninge en omgewing te waardeer. Dit was die mooiste dag van net ons drie as ’n gesin,” skryf sy in ’n onlangse Facebook-plasing.

Daniella het nie gedurende enige van haar swangerskappe ’n dokter gaan sien nie, en Chris het as doula ingestaan.

Die gesin glo in ’n genesingsraamwerk, Ajoerveda, afkomstig van Indië. Dit word beskryf as alternatiewe medisyne en sluit spesiale diëte, kruiemedisyne, meditasie en joga in.

“My man het weens omstandighede ʼn moeilike begin met sy gesondheid vroeg in sy lewe gehad.  Sy gesondheid was nog nooit optimaal nie, en as vrou voel ek dis my plig om hom met voeding en versorging te bou en te onderhou, soos wat hy op sy beurt ons huis en gesin bou en onderhou,” verduidelik Daniella aan Maroela Media.

Daniella het lank voordat sy kinders gekry het oor derm- en maaggesondheid opgelees soos wat dit in die Ajoerveda uiteengesit word. Binne hierdie genesingsraamwerk, vertel sy, het Chris goeie resultate met sy gesondheid gekry.

“Dit vorm nou die begrondende raamwerk vir ons huis se gesondheid.”

Sy verduidelik verder dat volgens hierdie raamwerk, lê die sleutel tot ʼn lang lewe in maag- en dermgesondheid, en dat die fondasies van die mikrobioom van elke mens reeds by geboorte gelê word.

“Dit het ons as gesin geweldig bemagtig,” vertel sy.

“Ons voel baie meer gedug. Ons sien baie meer kans vir uitdagings, want ons het gesien dat ons met fokus, toewyding en geloof iets soos hierdie suksesvol saam as ’n kernfamilie kon doen.

“Hoe jy gebore word, wat die mikrobioom van die omgewing is waarin jy gebore word en hoe gesond jou ma se mikrobioom is wanneer jy gebore word, asook die eerste bakterieë waarmee jy in aanraking kom, het dan verreikende gevolge vir jou eie mikrobioom en gesondheid.”

“Ek wou seker maak ons kinders kry hiervolgens die beste moontlike begin wat hulle gesondheid betref.”

’n Vriendin het die geboortedag van die babatjie voorspel, en twee dae voordat dié dag aangebreek het, het Daniella ’n koek gebak om in die yskas te hou totdat sy gebore is.

Die dag van die geboorte het die gesin tyd buite spandeer, saam met hul hond en kat gaan stap, televisie gekyk en gerus. Teen die aand het Daniella begin agterkom dat sy waarskynlik binnekort geboorte gaan skenk.

“Ons het klein Lente teen negeuur in die bed gesit,” skryf sy.

“Sy het gevra of ek Jan en die boontjierank vir haar kan lees.”

Daniella het egter toe al reeds kontraksies gehad, en skerts dat haar stem bietjie hoër as gewoonlik geraak het teen die einde van die verhaal.

“Sy het my net vreemd aangekyk en gevra vir nog ’n storie, maar ek het haar net op die kop gesoen, nag gesê en die kamer verlaat.”

Sy het deur die huis geloop, op soek na waar sy die gemaklikste voel, en het in die proses sommer besluit om bietjie buitentoe te gaan. Sy beskryf die paar ure voor die geboorte as iets wat sy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Nadat hul dogtertjie gebore is, het Chris die naelstring met ’n gesteriliseerde jagmes gesny.

Die gesin het daarna net tyd saam deurgebring, met Lente wat weens die babatjie se skreegeluide wakker geword het.

“Ons vier het op die bed gesit saam met ons verskietende ster, ons het gelag, gesels en al Lente se vrae beantwoord,” skryf sy.

“Ons het so goed gevoel, dat ons gesukkel het om aan die slaap te raak. Ek het eindelik aan die slaap geraak, ongelooflik gelukkig, besig om na die aandhemel buite ons venster te kyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

Wow, baie dapper van julle. Julle bly by julle beginsels en min mense kan julle nadoen.

Mariaan ·

Sjoe hierdie klink vir my net te veel van n sprokie…so maklik is dit darem wraggies nie..om geboorte te skenk is n traumatiese ervaring in MEESTE gevalle…ek is bly als het goed afgeloop vir julle..geniet die kleinding

JL ·

Pragtig gestel “Maar soos die kar ry, skud die kinders reg en dis ñ pragtige rit.”

Oujongvrou ·

Het onse Hemelse Vader darem ook n rol gespeel hier. Mag Jesus die gesin seën

Miskruier ·

Dié vrou is meer werd as korale. Sy benadeel nie haar baba met haastige dokters, medikasie en bottel voeding nie.

JohanR ·

Sjoe Chris Chameleon kan darem sing. Wonderlike stem. Hy moet meer optree. Geluk met die tweede baba.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.