UFC: Du Plessis stoomroller Whittaker!

Dricus du Plessis het nóg ’n teenstander planke toe gestuur! (Foto: Steve Marcus/Getty Images via AFP)

Wanneer Dricus “Stillknocks” du Plessis praat kan die res van die gemengdegevegskuns-wêreld maar gerus luister – hy voeg immers gereeld daad by woord.

Die Suid-Afrikaner het in Las Vegas gedoen wat hy vooraf beloof het toe hy vir Robert Whittaker in die tweede ronde van hul Ultimate Fighting Championship-geveg planke toe gestuur het.

Du Plessis se vuiste het ongetwyfeld die praatwerk vir hom gedoen en hy het die topgekeurde Aussie met ʼn paar goed berekende houe harpuis laat ruik.

Die geveg is ʼn kort rukkie later stopgesit en die Pretorianer kon sy sesde UFC-oorwinning op ʼn streep vier.

Terwyl Joe Rogan en kie sy lof vanuit die kommentatorsgedeelte sing, het Du Plessis blad met oudpres. Donald Trump en Dana White (UFC-grootbaas) geskud.

Ja-nee, dit was beslis ʼn aand om te onthou.

Die middelgewigkampioen, Israel Adesanya, het die aksie vanuit sy sitplek langs die hok dopgeghou en hy het terstond Du Plessis se onderhoud met Joe Rogan onderbreek.

Adesanya is in Nigerië gebore, maar hy woon al vir meer as tien jaar in Nieu-Seeland. Hy het egter steeds nie veel ooghare vir die sosialemediakommentaar wat die Pretorianer uitsonder as die enigste UFC-vegter in dié gewigsklas wat in Afrika woon én oefen nie.

Die 33-jarige inwoner van Auckland het probeer om die kollig te steel, maar dit het nie geklink of hy juis geweet het wat om te sê nie.

Tussendeur ʼn rits vloekwoorde het hy onder meer van ʼn DNS-toets gepraat om te bepaal wie nou eintlik van Afrika is, maar Du Plessis het hom nie veel lugtyd gegee nie.

“Wat gaan jy nou vir almal in Nieu-Seeland sê?” het hy gevra voordat hy omgedraai en weggestap het.

Hierdie oorwinning gee ook vir elke ongelowige Thomas ʼn rede om in Du Plessis se vaardighede te glo.

Baie ontleders het gemeen dat hy nie fiks genoeg is om met die bestes saam te gesels nie, maar ʼn neusoperasie het die Suid-Afrikaner se asemhaling ʼn lekker hupstoot gegee en hy het nou nie eens moeg gelyk nie.

“Kan julle almal sien hoe moeg ek nou is?” het hy na afloop van die geveg geskerts. “Ek het julle gesê dat daar niks met my kardiofiksheid skort nie.”

Du Plessis het terselfdertyd hulde aan Whittaker gebring en gesê dat hy een van die sport se legendes is.

Rogan het egter dinge perfek opgesom.

“Dricus du Plessis is ʼn pantserwa en niemand kan meer bekostig om skepties oor hom te wees of hom te onderskat nie. Hy het nou sy plek op die bergpiek verdien – ons het ʼn wêreldtitelgeveg wat vir ons wag.”

Intussen kan Adesanya maar vloek en skel: Stillknocks is gereed vir hom.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Ek sien Dricus as die volgende wereld kampion nadat hy die grootbek man van Nigeria binnekort slae gaan gee

gpsa ·

Geluk Dricus, Nou net die style bender uit die pad kry, goed voorberei. Groot verbetering sedert vorige geveg, van hier af net beter.

Gaitsigubib ·

Dricus nou ken nog min mense jou naam, maar dit gaan verander. Ek sal geld daarop sit! Ek hoop jy sien dalk hierdie skrywe, want jy moet bly soos jy is, nie as nie, maar wanneer jy bekend word. Jy maak ons trots!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.