US-konvokasie: Pro-Afrikaanse kandidate geskrap oor maroen-goud-plakkaat

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

Vier kandidate – almal pro-Afrikaans – in die verkiesing van die uitvoerende komitee vir die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) is gediskwalifiseer oor ʼn veldtogplakkaat met ʼn maroen-goud-kleurkombinasie waarop hul name verskyn.

Daar is bevind dat Johan Smit, Bernard Pieters, Isabelle de Taillefer en Jan de Villiers die US se institusionele reëls oortree het toe hulle glo die universiteit se sogenaamde handelsmerk op dié betrokke plakkaat gebruik het.

Hulle ontken dit ten sterkste.

Dr. Ronel Retief, registrateur van die US, sê die konvokasie het Woensdag (20 Maart 2024) ʼn klag van nienakoming van die prosedure vir die benoeming en verkiesing van die konvokasie se uitvoerende komitee ontvang.

Daar is aangevoer dat Smit, Pieters, De Taillefer en De Villiers die bepalings in die prosedure oortree het deur die US-handelsmerk tydens hul veldtog te gebruik.

Die klagte is met onder meer die US se handelsmerkkantoor en handelsmerkidentiteitskantoor bespreek en daar is bevind dat die ontwerp van die plakkaat op die US se handelsmerk gebaseer is.

Volgens Retief is daar spesifiek bevind dat die ontwerpelemente en oorkoepelende estetika die veldtogmateriaal nou met die US se handelsmerk verbind aangesien die gebruik van die US se naam tesame met die maroen-goud-kleurkombinasie en ontwerpelemente as deel van die universiteit se handelsmerk beskou word.

Smit, Pieters, De Taillefer en De Villiers is gevolglik gediskwalifiseer en die vier oorblywende kandidate, Taryn Cohn (Moos), Simphiwe Artwell Malaza, Nomzamo Portia Ntombela en Lwazi Phakade, is vanselfsprekend verkies “aangesien die aantal kandidate nou gelyk is aan die aantal vakatures”, verduidelik Retief.

Hoewel dr. Theo de Jager ook op die veldtogplakkaat verskyn, is hy nie gediskwalifiseer nie aangesien hy op daardie tydstip reeds tot behoorlik verkose president verklaar is.

Die plakkaat.

Kandidate kap terug

Die vier gediskwalifiseerde kandidate ontken egter dat hulle die universiteit se logo of handelsmerk gebruik het aangesien daar vooraf geen melding gemaak is van elemente soos die alombekende maroen wat met Maties en Stellenbosch verbind word nie.

Die kandidate het by monde van hul prokureur, Willie Spies, die universiteit daarop gewys dat die gebruik van bemarkingsmateriaal soos kleure en patrone nie in die reëls uitgesluit word nie, en nie as deel van die logo of handelsmerk beskou kan word nie.

Hulle wys ook daarop dat ander kandidate in die onlangse verlede en die huidige verkiesing skynbaar dieselfde elemente gebruik het, sonder enige gevolge.

Die kandidate sê hulle is boonop nie die geleentheid gebied om te reageer, hul saak te stel óf te appelleer nie.

Leon Schreiber, ʼn parlementslid en lid van die raad van die US, beaam dit dat ander kandidate tydens vorige verkiesings presies dieselfde gedoen het. Hy sê die diskwalifikasie van die vier pro-Afrikaanse kandidate is uiters kommerwekkend.

“Die diskwalifisering van kandidate op belaglike gronde is dalk ʼn bekende taktiek in diktatorskappe. Dit het egter geen plek in ons grondwetlike demokrasie nie, waar die reg om aan verkiesings deel te neem fundamenteel is.”

Schreiber beplan nou om as raadslid te versoek dat die aangeleentheid dringend op die agenda geplaas word vir die volgende raadsvergadering.

“Indien die US-bestuur nie onmiddellik hierdie waansinnige besluit omkeer nie, moet daar gevolge wees.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het intussen gesê die burgerregteorganisasie se regspan gaan die vier pro-Afrikaanse kandidate bystaan en die saak tot in die hoogste hof beveg.

“Die US is besig om die verkiesingsuitslag te manipuleer om hul eie agenda teen Afrikaans te dien.

“Die US se ideologiese onderrok hang duidelik uit deurdat die ander kandidate wat die US se ideologie dien wel toegelaat word om die maroen patroon te gebruik, maar die pro-Afrikaanse kandidate word daarvoor gestraf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Carl ·

Dit herinner aan die kleur “Royal Blue” wat uitsluitlik vir die gebruik van die koninklikes bedoel was. Het die universiteit nou ook n feodale instansie geword wat kleur beheptheid voorhou?

John ·

Daar wys US weer sy ware kleure. Ek kan regtig nie verstaan hoekom ondersteun Afrikaners nog daai plek nie. Daar is baie ander woorde wat ek kan gebruik om US se bestuur te beskryf, maar eerstens is daar nie genoeg plek op hierdie blad nie en tweedens gaan maroela media dit nooit toelaat nie

Martie Smartie ·

Ronel Retief, jy behoort jou te skaam. Jy en jou proEngelse instellinkie gebruik totaal ongegronde tatktieke om Afrikaans verder uit te boender, terwyl Afrikaanse akademici en studente daai plek tot stand gebring het. Swak!

Alida ·

Die situasie by Maties raak nou soveel van ‘n verleentheid dat ‘n mens eintlik nie meer wil erken dis jou alma mater nie. Was spyt toe nie een van my kinders daar wou gaan studeer nie, maar vandag is ek bly.

Staal ·

Sies Maties! Dit is nét omdat hulle Afrikaanssprekend is. My Alma Mater, maar van julle wil ek niks meer hoor nie.

annie ·

Ja, a, a. Stellenbosch word beheer deur ‘n mafia. Dit word n hool. Afrikaanses word geteiken. Tragies.

Vrijburger ·

Ek is geensins verbaas met die (s)linkses se onderduimse taktiek nie.

Treurwilger ·

Verstommende dubbele standaarde.
Hoe ongelooflik laag kan nóg gedaal word?!

houopkruip ·

Dr Theo, bly weg uit daardie gemors uit. Die hele plek en provinsie verdien mekaar. Jou teenwoordigheid in Transvaal (en terloops, die wereld-landbou) word hoog aangeslaan, waar jy enorme bydaes lewer.
Pak jou tasse en kom terug beskawing toe.

Jacobus ·

Hulle moet hulle heersers, ANC, gehoorsaam! Wie se brood mens eet, die se woord mens spreek.
Gedurende apartheid het akademici uit hul pad gegaan om die regering te kritiseer, maar deesdae is hulle so gedienstig, ek wonder wanneer gaan hulle Blade en Sirrel se voete was?

Herman L ·

Julle kan Afrikaans uit julle dokumente verwyder maar, julle sal dit nooit uit ons harte kan verwyder nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

houopkruip, Stellenbosch is nie die hele Wes-Kaap nie. Om te beweer ons hier is gemors is ongevraagd. Volgens berigte en julle kommentaar gaan dit nogal rof in Transvaal. Maar dit bevestig my punt dat ons moet afstig. Ons sal beter doen sonder julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.