US-konvokasie se verkiesing van voor af gehou

(Foto: Universiteit Stellenbosch/Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasieverkiesing sal van voor af gehou word nadat verskeie kandidate vroeër gediskwalifiseer is en met regsaksie in dié verband gedreig het.

Die betrokke partye het vroeër die week ʼn vergadering in Stellenbosch gehad en daar is ooreengekom dat die nominasieproses teen Maandag sal begin en vir 30 dae sal duur.

“Nadat die nominasies nagegaan is, die kandidaatwebblad saamgestel en die stemportaal gelaai is, sal ʼn tien dae lange verkiesingsproses begin. Die universiteit verstaan die dringendheid en sal met die kortste moontlike tydlyne werk sonder om die integriteit van die proses te benadeel,” het dr. Ronel Retief, US-registrateur, in ʼn boodskap aan die kandidate gesê.

Vier kandidate – almal pro-Afrikaans – is vroeër gediskwalifiseer oor ʼn veldtogplakkaat met ʼn maroen-goud-kleurkombinasie waarop hul name verskyn. Daar is bevind dat Johan Smit, Bernard Pieters, Isabelle de Taillefer en Jan de Villiers die US se institusionele reëls oortree het toe hulle glo die universiteit se sogenaamde handelsmerk op dié betrokke plakkaat gebruik het. Hulle het dit egter ten sterkste ontken en ʼn hersieningsaansoek gebring.

Die plakkaat.

Smit, Pieters, De Taillefer en De Villiers is gevolglik gediskwalifiseer en die vier oorblywende kandidate, Taryn Cohn (Moos), Simphiwe Artwell Malaza, Nomzamo Portia Ntombela en Lwazi Phakade, is vanselfsprekend verkies “aangesien die aantal kandidate nou gelyk is aan die aantal vakatures”, het Retief vroeër verduidelik.

Hoewel dr. Theo de Jager ook op die veldtogplakkaat verskyn het, is hy nie gediskwalifiseer nie aangesien hy op daardie tydstip reeds tot behoorlik verkose president verklaar is. Met die nuwe verkiesing sal De Jager weer verkiesbaar wees.

Volgens Retief sal ʼn verklaring, wat verduidelik waarom die verkiesingsproses van voor af begin is, as ʼn inleidende paragraaf by die nuwe oproep vir nominasies ingesluit word.

“Die bepalings en voorwaardes op die nominasievorm, die oproep vir nominasies, die oproep om te stem, en die prosedure sal streng deur die kantoor van die registrateur toegepas word. Belangstellendes is almal welkom om hul nominasies in te dien deur ʼn herontwerpte nominasievorm te gebruik.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.