US-senaat bankvas agter De Villiers

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se senaat het Vrydag sy onwrikbare ondersteuning aan die rektor, prof. Wim de Villiers, te kenne gegee, deur ʼn mosie van vertroue in De Villiers en sy bestuurspan te aanvaar.

Die mosie is ter tafel gelê deur prof. Geo Quinot van die Fakulteit Regsgeleerdheid en gesekondeer deur prof. Mbulungeni Madiba, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde. Dit volg ná bevindings deur die Menseregtekommissie (MRK) dat die universiteit wel studente se menseregte geskend het deur hulle in 2021 te verbied om Afrikaans te praat.

Die MRK het aanbeveel dat De Villiers ʼn skriftelike en openbare verskoning aan studente rig, iets wat hy nog nie gedoen het nie.

In die lig hiervan het Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in die Wes-Kaap en ook ʼn US-raadslid, gesê hy is van voorneme om ʼn mosie van wantroue teen De Villiers by die raad in te stel.

Die senaat se mosie van vertroue is skynbaar in reaksie hierop ingestel en lui soos volg: “Met kennisname van die MRK se verslag van 14 Maart en die US se reaksie daarop, bevestig die senaatslede hul vertroue in en ondersteuning van die rektor en visekanselier en sy bestuurspan in hul strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid by die US.”

Ter motivering van die mosie het prof. Quinot aan die senaat gesê:

“Ons as die US se akademiese leiers is verbind tot veeltaligheid soos uiteengesit deur die US se taalbeleid en aangedui deur die wydverspreide inwerkingstelling daarvan deur ons universiteitsgemeenskap.

“Die nie-nakoming van of verkeerde toepassing van sodanige beleid deur sekere groepe en/of individue in spesifieke kontekste binne die instelling ondersteun nie ʼn mosie van wantroue in die rektor nie, maar ondersteun eerder a) die voortgesette besinning deur die universiteitsgemeenskap oor hoe om ten beste ʼn inklusiewe en veeltalige instelling te word, waar almal se regte beskerm en bevorder word, en b) ondersteuning van die bestuur, onder wie die rektor, om ʼn inklusiewe en veeltalige gemeenskap te verwesenlik deur die doeltreffende en deurdagte inwerkingstelling van relevante beleide in ʼn komplekse, diverse en groot instelling.”

DA-LP Leon Schreiber
(Foto: Facebook)

Hy het ook gesê sodanige samewerkende strewe sal gepas wees om uitvoering te gee aan die grondwetlike verantwoordelikheid om die onregte van die verlede en die verwesenliking van gelykheid vir almal reg te stel.

Prof. Madiba het die mosie ondersteun en gesê dat hy en die dekane die beoogde mosie van wantroue beskou as ʼn ernstige saak van kommer, “nie net vir die rektor nie, maar vir ons almal, aangesien taalbeleid en beplanningsake by hierdie universiteit ʼn gemeenskaplike en samewerkende poging is”.

“As een van die voorste kenners van taalbeleid en beplanning kan ek met vertroue sê die beoogde mosie van wantroue het geen grondslag nie. Wat ons universiteit met betrekking tot veeltaligheid bereik het, word nie deur die meeste universiteite in die land geëwenaar nie.”

Hy het bygevoeg dat die taalbeleid deur verskeie howe, waaronder die Konstitusionele Hof, ondersoek is. “Selfs die verslag van die MRK kon geen fout vind met betrekking tot ons taalbeleid nie, behalwe een frase wat volgens aanbeveling verander moet word.”

Hy sê hoewel dit waar mag wees dat die taalbeleid nie korrek geïnterpreteer is deur studente by slegs twee uit die 31 koshuise gedurende die oriënteringstydperk nie, kan hierdie foute nie beskou word as verteenwoordigend van die stand van taalbeleidstoepassing in die universiteit en die algehele prestasie van die rektor met betrekking tot die inwerkingstelling van veeltaligheid in die US nie.

“Daar is baie goeie suksesverhale om te vertel met betrekking tot die inwerkingstelling van inklusiewe veeltaligheid by ons universiteit, wat die betrokke raadslid [Schreiber] verkies om te ignoreer in die nastrewing van sy beoogde wantrouestemming.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.