Vaalharts-moorde: Beskuldigde se broer bel polisie

Beskuldigde vier: Kgomotso Mpulwana (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die broer van een van die beskuldigdes in die moordsaak van die Brand-gesin van Vaalharts in die Noord-Kaap het die polisie ná die moorde gekontak toe hy identiteitsdokumente, bestuurslisensies en inkopiekaarte van die gesin in sy suster se huis gevind het.

Siyabonga Frane het in die hooggeregshof in Kimberley getuig hy het Dan (83), Breggie (73) en hul dogter Elzabie Brand (54), se besittings bo-op ʼn hangkas in ʼn gastekamer in Kgomotso Mpulwana (43) se huis gevind, waarna hy die polisie ontbied het.

“Daar was foto’s van ʼn wit man en ʼn wit vrou op die ID-kaarte. Die van ‘Brand’ was op die kaarte geskryf. Ek het hulle egter nie geken nie en die polisie gekontak,” het Frane in die hof getuig.

Beskuldigde twee: Tshepo Visagie (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die polisie het by hul aankoms by die huis ook op twee skootrekenaars, selfone, laaikabels en ʼn handsak beslag gelê wat in Mpulwana se kamer gevind is. Dié is ook positief geïdentifiseer as die Brand-gesin se besittings.

Mpulwana se regsverteenwoordiger, adv. Celeste Nameka, het tydens kruisondervraging gesê Mpulwana het die skootrekenaars en selfone namens die ander beskuldigdes – Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Realeboga Manyedi (20) en Tsepaone Melato (20) – by ʼn kragpunt gelaai.

Dit volg nadat Mpulwana reeds saam met Seoleseng en Melato in die Brand-gesin se gesteelde Mazda CX5 op die N18 by die Podimoe-kruising deur die polisie afgetrek en in boeie geslaan is.

Seoleseng is ook ʼn familielid van Mpulwana en Frane. Frane woon saam met Mpulwana in die Rooiwal-nedersetting in die Taung-distrik.

Verdagtes ry met ‘wit mense se motor’

Beskuldigde een: Donald Seoleseng (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Volgens Frane was hy die Maandag omstreeks 10:00 (27 Julie 2020) – ʼn dag ná die Brand-gesin se ontvoerings en moord – besig om die huis se erf skoon te maak toe ʼn silwer Mazda CX5 voor die huis stilhou. Hy getuig daar was vier mans in die motor.

“Mpulwana het ʼn ruk met die mans gepraat voordat hulle sonder my suster gery het. Ek kon nie hoor waaroor hulle praat nie, want ek was agter die huis.”

Die mans het ná sowat twee uur teruggekeer en weer met Mpulwana gepraat, getuig Frane.

“Hulle het haar (Mpulwana) die erf in gevolg en later saam vertrek. My suster het gesê hulle gaan varke by my niggie in die Majaneng-nedersetting haal. Sy besit hoenders en varke.”

Sy het Frane aangeraai om haar nie te uit te vra oor die mans nie, want “hulle is soos familie vir haar”.

Mpulwana en die mans het later gery om haar kinders op te laai en Frane het getuig hy het hulle nie weer gesien nie. Die verdagtes is kort daarna op die N18 in hegtenis geneem.

Hy het later die aand vir Seoleseng, een van die ander beskuldigdes, op hul sitkamerbank aangetref.

Beskuldigde vyf: Tsepaone Melato (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Ao. Johannes Etzebeth van die polisie se honde-eenheid op Hartswater het vroeër getuig Seoleseng het vroeër die aand uit die honde-eenheid se polisievoertuig ontsnap nadat hy in hegtenis geneem is. Dit was naby die toneel waar Breggie se liggaam in die watergat in die Taung-omgewing gevind is.

Seoleseng se regsverteenwoordiger, Roelof van Wyk, het gesê sy kliënt het vir sy lewe gevrees en daarom ontsnap. Seoleseng beweer die polisie het hom aangerand.

Volgens Frane was Seoleseng steeds in boeie toe hy hom op die bank aangetref het. Hy getuig dat sy gesig ook geswel was en daar was bloed op sy Covid-19-gesigmasker.

Frane het sy broer, Khumoetsile Patrick Frane, gekontak en gevra hy moet na sy huis toe kom.

Khumoetsile het Dinsdag in die hof getuig dat Seoleseng vir hom en sy broer gesê het dat hul suster (Mpulwana) in hegtenis geneem is oor ʼn “motor wat aan die wit mense op die plotte behoort”.

Die hof het gehoor dat Seoleseng aan die Frane-broers erken het dat hulle (die beskuldigdes) die motor op Potchefstroom wou verkwansel.

Khumoetsile het toe die polisie probeer bel, maar getuig sy oproep na die 10111-nommer het nie deurgegaan nie. Hy wou polisiestasie toe ry, maar die polisie op daardie oomblik met ʼn private voertuig by die huis aangekom.

“Ek het vir die polisie gesê die persoon wat hulle soek is in die huis, waarna hulle toe vir Seoleseng in hegtenis geneem het.”

Nameka het namens Mpulwana ontken dat sy enigiets geweet het van ʼn motor wat verkoop gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sonblom ·

Ek dink dit moet baie moeilik wees vir ‘n broer om die polisie te bel oor sy suster, maar hierdie man het die regte ding gedoen. Baie dankie Siaybonga Frane.

Lillian ·

Hulle het moord gepleeg en die regsvertenwoordiger raak sulke onsin kwyt!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.