Vaalharts-moorde: Verhoor lank uitgestel  

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Die vier beskuldigdes wat teregstaan vir die grumoorde op drie lede van die Brand-gesin, se verhoor sal in April volgende jaar voortgesit word.

Donald Seoleseng (23), Tshepo Visagie (39), Kgomotso Mpumlwana (46) en Tsepaone Melato (22) word aangekla in verband met die moorde op Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54). Die drie lede van die Brand-gesin is op 26 Julie 2020 op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater, ontvoer en dae later dood gevind.

Die staat het in Mei vanjaar sy saak gesluit. Tydens die verdediging se saak is Seoleseng onder kruisondervraging geneem en het die hof getuienis gehoor oor een van die Brands se motors wat gesteel is en hoe die beskuldigdes te werk gegaan het om die slagoffers se gesteelde items, soos ‘n skootrekenaar, te probeer verkoop.

Die verhoor sal op 24 April 2024 in die hooggeregshof in Kimberley hervat word. Die beskuldigdes bly in aanhouding in die Kimberley-gevangenis.

Die vier verdagtes van links: Donald Seoleseng, Tshepo Visagie, Kgomotso Mpumlwana en Tsepaone Melato (agter). (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Breggie se liggaam is op 29 Julie 2020 in ʼn blou duvet in ʼn watergat in die Taung-omgewing gevind, gevolg deur Dan en Elzabie sʼn op dieselfde dag naby Taung in die veld. Al drie oorledenes was vasgebind.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig Trudie de Beer en Heidie Taljaard het die moordverhoor van hul ouers en suster van die begin af bygewoon.

“Dit was swaar om al die detail van die verskillende getuies te hoor,” het die susters aan Maroela Media gesê.

Trudie de Beer en Heidie Taljaard (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die twee susters het gesê hul ouers en suster “het iets beteken en saak gemaak” en daarom wil hulle dit graag aan die wêreld verkondig.

“Hulle was ons alles. Ons sal elke hofverrigting bywoon totdat die beskuldigdes gevonnis is. Ons het aan die begin van die saak vir die staatsaanklaer mooi foto’s van ons ouers en Elzabie gegee. Mooi foto’s. Ons wou hê hulle moes die mense wie hulle was, raaksien en hulle nie net herken aan verminkte forensiese foto’s in hul lêer nie,” sê die susters.

Die susters vind dit ook ontstellend dat die verdagtes “doodluiters voortgaan met hul lewens” en dat “hul regsverteenwoordigers alles in hul vermoë doen om op klein tegniese punte hul kliënte los te kry”.

“Terwyl hulle presies weet met watter wreedheid en kwaadwilligheid hulle ons geliefdes gemartel en uiteindelik vermoor het. Die verdagtes het geen berou nie. Hulle gesels en kuier saam met hul families, die bewaarders dra kombersies vir die koue aan en ons mense se gebroke liggame was in die winter koue iewers in ʼn veld gelos.

“Die ironie is dat ons in ons land so hipersensitief is vir mense se menswaardigheid, maar mense se lewens beteken niks nie. Ons is kwaad, want as jy mense se lewens nie respekteer nie, verdien jy nie om in die samelewing te wees nie.”

Dié susters moes onder meer getuienis aanhoor oor hoe hul geliefdes wreedaardig aangerand en vermoor is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannelie ·

Hoekom????? Hul het nie geskroom om te moor nie. Nou lyk dit kompleet of hul jammer gekry word!l deur die staat.
Wat van Trudie en Heidie? Hul wil ook afsluiting kry

Wondermaarnet ·

So byna 4 jaar later gaan daar eers begin word met die saak en dit gaan seker oor en oor uitgestel word.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Simptomaties van ‘n vervalle kriminele regstelsel.

kaplyn ·

Dit sal interessant wees om te hoor hoeveel sake in die land word uitgestel teenoor hoeveel sake in die land word suksesvol verhoor en die misdadigers word gevonnis.

Bolandse Nooi ·

Myns insiens doen dit meer skade as goed, vir die naasbestaandes van wreed-vermoordes om die hofverrigtinge dag-tot-dag by te woon. Jy word dan nie alleen net gekonfronteer deur die teenwoordigheid van “mense” wat jou geliefdes se dood na bewering veroorsaak het nie, maar ook moet jy vreeslike forensiese getuienis aanhoor en ontwrigtende foto’s van die misdaad toneel aanskou. Ek sou sê – laat die gereg sy loop neem. Wees daar die dag wanneer slagoffer-impak getuienis gegee moet word en wanneer die vonnis opgelê word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.