‘Vals propaganda teen OB media se skuld’ – Mpofu

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Adv. Dali Mpofu het Maandag voor die parlement se art. 194-komitee aangevoer dat “vals propaganda teen adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste Openbare Beskermer (OB), geskep en deur die media georkestreer is”.

Dié komitee is belas met die proses oor die moontlike verwydering van Mkhwebane as OB.

Mpofu, wat namens Mkhwebane optree, het dié argumente tydens sy kruisondervraging van Sphelo Samuel, Vrystaatse OB-hoof, gelewer. Die ondervraging is Maandag voor die komitee voortgesit.

Mpofu het aan Samuel gesê dis onregverdig om die skuld op Mkhwebane te pak vir die negatiewe reaksie wat op hofuitsprake gevolg het. Dit volg nadat Samuel verlede week getuig het dat hofuitsprake teen die geskorste OB ʼn negatiewe uitwerking op die kantoor van die OB het. Samuel het ook gesê dat die OB ʼn gebrek aan praktiese toepassing van die wet toon.

Luidens ʼn verklaring deur die art. 194-komitee se kantoor het Mpofu Maandag verder aangevoer dat Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, ook hofsake verloor het, en dat skadelike uitsprake ook teen haar gelewer is.

Samuel het gesê hy stem saam dat Madonsela wel al hofsake verloor het, maar hy kan nie onthou dat daar ooit verdoemende uitsprake rakende haar toepassing van die wet was nie.

Hy het Donderdag en Vrydag voor dié komitee getuig waar hy onder meer ook gesê het dat Mkhwebane nie oor die kennis en vermoë beskik wat nodig is vir haar amp nie.

Samuel het ook gesê die feit dat ʼn politikus – wat deur Mkhwebane ondersoek is – destyds haar verjaardagpartytjie bygewoon het, het wenkbroue oor die ondersoek teen hom laat lig.

Samuel het verwys na Mosebenzi Zwane, voormalige LUR vir landbou in die Vrystaat, wat in verband met die Estina-suiwelprojek by Vrede ondersoek is.

Mpofu het Samuel daarvan beskuldig dat hy oor bewerings teen Mkhwebane lieg omdat hy wil hê sy moet verwyder word. Samuel het egter ontken dat hy enige bewyse teen die geskorste OB versin.

ʼn Voormalige ondersoeker in die kantoor van Mkhwebane het verlede week getuig oor Mkhwebane se CIEX-verslag waarin sy aanbeveel het dat die Grondwet verander moet word om die mandaat van die Suid-Afrikaanse Reserwebank te wysig.

Kekana beweer dat Mkhwebane hom opdrag gegee het om bevindings by te voeg dat die Reserwebank genasionaliseer moet word. Een van Kekana se take was om aantekeninge te maak en vergaderings op te neem. Volgens Kekana is hy in ʼn betrokke geval egter verhoed om dit te doen.

Die verhoor duur Dinsdag voort, wanneer ʼn nuwe getuie onder kruisondervraging geplaas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Dalk bietjie laat om nou wakker te skrik deur uiteindelik agter te kom dat vals propaganda seëvier in ons land. Dit is mos wat die ANC/EFF ingebring het.

Bertie ·

Mpofu gebruik boelie-taktiek om die getuies te diskrediteer, omdat hy nie feite het om sy standpunte te staaf nie.

Anel ·

Een skelm verdedig ‘n ander skelm. Die een is soos die ander.

Oosieoos ·

Mpofu is pateties. Het geen feite om sy standpunte te staaf nie rerig swak en moet self ondersoek word. Regte boelie en gebruik boelie-taktiek om die getuies te diskrediteer, Skande vir sy beroep.

Fran ·

Wanneer gaan dit ent kry??? Goeie hemel hierdie skuim sal aanhou uitstel en steeds betaal word deur ons, die belastingbetaler!

Gaitsigubib ·

Eers is sy agter die Reserve Bank aan en toe dit nie werk nie, ABSA bank. Ek weet nie of dit gierigheid of onbevoegdheid, of n kombinasie van beide is, wat haar so ongeskik vir hierdie pos maak nie.

domheks ·

Die ding het geen skaamte nie! Hoeveel keer is sy deur ‘n hof verkeerd bewys. Maar sy dink sy is die kat se snor! Nou begin hulle vergelyk met Madonselle… wat ‘n grap!

Manie ·

Maak die OB se kantoor toe, dis niks anders as ‘n filter vir ANC kader beskerming nie.

marius ·

Sirkus met meer narre as toeskouers . Dis wat die hool is .

AndrewL ·

Dali meen nou seker die howe luister na die media as hul uitsprake maak teen die OB.

Dis niks anders as benoude spronge nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.