Valslik van rassisme beskuldig? Privaatvervolgingseenheid wil help

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

AfriForum het nou ’n platform waar Suid-Afrikaners wat al valslik van rassisme beskuldig is dié organisasie om hulp kan vra.

Die burgerregteorganisasie sê dit wil voorkom of aantygings van valse rassisme in Suid-Afrika aan die toeneem is.

Sy privaatvervolgingseenheid is nou bereid om slagoffers van hierdie tendens te help waar dit bewys kan word dat die bewering van rassisme in werklikheid vals is.

Slagoffers of persone wat weet van iemand met wie dit gebeur het, word aangemoedig om hul stem op die nuwe platform te laat hoor.

Hierdie platform, wat Maandag amptelik bekend gestel sal word, bied ook riglyne vir die publiek om regstappe te doen in gevalle van valse rassisme.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dit is noodsaaklik om te praat aangesien gefabriseerde weergawes van gevalle van rasgebaseerde diskriminasie dieselfde gevolge dra as bona fide‑gevalle.

Bateman sê dit is kwetsend, oneerbiedig en kan ’n persoon se waardigheid ondermyn.

“Valse bewerings van rassisme het ewe skadelike sosiale en ekonomiese gevolge vir diegene wat geïmpliseer word. Dikwels is geen bewyse van die beweerde oortreding nodig vir sulke bewerings om as die waarheid aanvaar te word nie en enige beswaar dat sulke bewerings vals is of as daar nie genoegsame bewyse is nie, word voorgehou as bevestiging van ’n persoon se skuld.”

“Die onus is dan op die beskuldigde om hul onskuld te bewys terwyl die sogenaamde slagoffer se weergawe as die enigste waarheid aanvaar word en onbetwis bly. Hierdie Kafka-agtige situasie dwing dan hierdie mense om stil te bly oor die onreg wat teen hulle gepleeg word.”

Só gaan die platform lyk. (Foto: Skermgreep)

Bateman sê om in Suid-Afrika van rassisme beskuldig te word, is waarskynlik een van die ergste etikette wat op ’n persoon geplaas kan word, veral wanneer hierdie aantygings in die openbare oog afspeel.

“Die sosiale en ekonomiese gevolge is dikwels vinnig – die persoon wat aangekla word, word uitgewerp, geïsoleer en aan aanlyn mishandeling onderwerp, onder meer doodsdreigemente, en word dikwels werkloos en onindiensneembaar gelaat. Hierdie situasie kan binne enkele dae afspeel, soms ure, afhangend van hoe vinnig die inhoud wat die gedrag uitbeeld, of die bewering self, op sosiale media en elders versprei.

Daar moet geen plek vir diskriminasie of haat in Suid-Afrika wees nie en bona fide‑gevalle van rassisme moet ten sterkste veroordeel word. Persone moet opstaan teen sulke optrede in enige vorm.

“Geen persoon verwag redelikerwys van ’n ander om skuld te aanvaar en te boet vir ’n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie. Tog is dit presies wat gebeur wanneer valse bewerings van rassisme teen ’n persoon gemaak word. Ons wil graag hierdie tendens in die kiem smoor.”

Só gaan die platform lyk. (Foto: Skermgreep)

Maroela Media het net verlede maand berig ʼn strafregtelike ondersoek staar ʼn Suid-Afrikaanse TikTokker in die gesig nadat sy glo vals bewerings van rassisme teen drie jong mense gemaak het.

Reece Lopes (20), Milan Kruijer (20) en Jude Fraser-Grant (21) het in Augustus ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak, maar nadat die saak summier gesluit is, het hulle AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader.

Die drie jong mense word deur Njabulo Madlanga daarvan beskuldig dat hulle aapgeluide gemaak het toe sy en haar sibbe die pretpark Gold Reef City vroeër die jaar besoek het.

Madlanga het die beweerde voorval in ʼn reeks plasings op die sosialemediaplatform TikTok gedokumenteer. Van dié plasings is al meer as twee miljoen keer gekyk.

Die video’s het na bewering ʼn stortvloed aanlyn beledigings veroorsaak, insluitend doodsdreigemente wat aan Lopes, Kruijer en Fraser-Grant gerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.