Van stukkende telefone tot ingenieursdeurbrake vir US-dosent

Dr. Karen Garner. (Foto: Verskaf)

Dr. Karen Garner het gedurende haar kinderjare in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte daarvan gedroom om eendag ʼn ingenieur te word. Jare later het sy die droom – te midde van teëspoed – verwesenlik en nou help sy weer ander jonges met hul drome.

“Ek het op 13 reeds geweet ek wil ʼn ingenieur word. Ek het eenkeer ʼn episode van Popular Mechanics op die TV gekyk en dit het my belangstelling geprikkel,” vertel Garner.

“My pa het by Telkom gewerk en altyd ou telefone huis toe gebring. Ek en my twee jonger broers het graag met hierdie stukkende telefone gespeel en gekyk hoe hulle werk.”

Garner is nou ʼn senior dosent in die departement elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Maar voordat Garner haar reis kon aanpak om ʼn ingenieur te word, moes sy eers haar ouers, veral haar pa, oortuig om haar na ʼn tegniese hoërskool te stuur.

“In daardie stadium was dit ongehoord [vir vroue] om na ʼn tegniese skool toe te gaan. Maar die hardkoppige mens wat ek is, het vir my pa gevra om my ʼn kans te gee,” sê sy.

Garner se ouers het haar uiteindelik toegelaat om by ʼn tegniese skool naby hul huis in te skryf. Hier het die eerste van talle mentors haar pad gekruis wat ʼn sleutelrol in haar persoonlike en professionele ontwikkeling sou speel.

“Al was die meisies in die minderheid in die skool, het die seuns ons redelik maklik aanvaar en was die meeste van die onderwysers baie ondersteunend. Ek onthou nog my Engelse-onderwyser, mnr. Nightingale, wat ons almal altyd gemotiveer en bemoedig het. Hy het my altyd gevra of ek nog byhou.”

Danksy harde werk was Garner ʼn toppresteerder op skool en het sy ʼn Eskom-beurs losgeslaan om by die US te kom studeer. Sy het gedurende vakansies by Eskom gewerk waar sy saam met ʼn vroueingenieur, Leanne Perumal, gewerk het wat ook vir haar ʼn mentor was.

“As ek nou terugkyk, was dit baie motiverend om te sien daar is vroue in die werkplek wat baanbrekers is en sukses behaal.”

Nadat sy gegradueer het, het Garner by Eskom gaan werk en later na Sasol verskuif waar sy ʼn briljante tegniese opleier gehad het. Maar dit was nie maklik om die eerste vroueingenieur in haar departement te wees nie.

“Toe ek daar begin het, het ek bietjie die wind van voor van die mans op die aanleg gekry. Maar ons sekretaresse het my bemoedig en vir my gesê dat al werk jy in ʼn omgewing wat deur mans oorheers word, dit nie noodwendig beteken jy moet soos ʼn man aantrek of optree nie. Jy kan nog steeds jou naels en hare versorg, want jou vaardighede en jou werk sal ʼn aanduiding van jou vermoë wees. Hoe jy lyk, is nie ʼn aanduiding van jou vermoëns nie.”

Volgens Garner het die mentor wat sy toe gehad het, nie veel in haar professionele ontwikkeling belanggestel nie, maar gelukkig vir haar was daar talle ander mentors wat in die proses opgeduik het.

“My tegniese opleier was meer van ʼn mentor vir my. Ek was ook gelukkig om ʼn informele mentor in die senior ingenieur Joe Sikhonde – wat nie lank ná my daar begin werk het nie – te hê. Hy het my nie net baie as ingenieur gehelp nie, maar ook met my persoonlike ontwikkeling en hoe om my pad te vind en moeilike situasies te hanteer.”

Nadat Garner van Sasol na Chevron verskuif het en haar kontrak daar verstryk het, het sy besluit om ʼn PhD by die US aan te pak. Soos die toeval dit wou hê, het Maarten Kamper, wat toe hoof van die departement elektriese en elektroniese ingenieurswese was, haar gevra of sy nie in ʼn dosentepos sou belangstel terwyl sy met haar doktorsgraad besig is nie. Sy het die geleentheid met albei hande aangegryp en haar doktorsgraad onder Kamper se toesig voltooi.

As sy nou terugkyk, is sy dankbaar vir die rol wat hy in haar lewe gespeel het.

“Hy het my so baie met my studie en my loopbaan gehelp. Hy het my gehelp om my tegniese vermoë te slyp en hoe om as ʼn navorser te dink.”

Aangesien sy so baie by mentorskap op kritieke tye in haar lewe baat gevind het, wil sy dieselfde vir die volgende geslag ingenieurs doen.

“Ek weet hoe moeilik dit vir my was, maar ek was gelukkig om die regte mense op die regte tydstip in my lewe te hê wat daardie rolle in my lewe kon vervul en my gehelp het om te kom waar ek vandag is. Ek het al hierdie mense gehad wat my aangemoedig en geluister het wanneer dinge moeilik geraak het. Nou kan ek dieselfde doen.”

Sy glo mentorskap is uiters belangrik vir mense wanneer hulle hul voete in die beroepspolitieke dinamika van ʼn nuwe werkplek moet vind en by die organisasie se visie en waardes moet aanpas. Boonop kan mense nie altyd self hul eie swakpunte en blindekolle raaksien nie, maar mentors kan help om mense te wys op punte wat verbetering benodig.

“Dit help wanneer daar iemand is wat jou kan help om jou pad te vind en om ook vir jou ʼn stem te wees.”

Wat mentorskap vir haar studente betref, meen Garner dit is belangrik om hulle te help om ingenieurswese te geniet en om die brug te bou na waar hulle wil wees. Sy is ook ʼn informele mentor vir junior personeel wat nog hul voete in die departement vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MJLS ·

Baíe geluk aan haar! Sy stel ‘n voorbeeld vir baie mense hier in SA! Wens haar ‘n wonderlike toekoms.

Antoinette ·

Good girl go!!! Jesus sal jou die pad verlig wat jy moet gaan, hou net jou oë op Hom. Hy is die voleinder van ons geloof. Ek bid God se Wysheid, Insig en Beskerming op jou pad.

trotsNAMSA ·

Dit wys weereens, maak nie saak waar jy gebore is of watter geslag jy is of watter kleur jy nie nie, as daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Fantastiese storie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.