Vat werkloosheidsyfer ‘met ʼn knippie sout’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Op die oog af blyk dit verblydende nuus te wees dat die amptelike werkloosheidsyfer gedurende die tweede kwartaal vanjaar met 0,6 persentasiepunte van 34,5% in die eerste kwartaal na 33,9% gedaal het.

Altesame 648 000 nuwe werksgeleenthede is immers vanaf April tot Junie geskep, aldus Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste syfers.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is egter skepties oor die betroubaarheid van die jongste statistieke aangesien daar tot onlangs nog ’n lae reaksiekoers in die opstel van die indiensnemingsyfers aangeteken was. Nietemin sê hy die hoeveelheid jong mense wat steeds sonder enige werk óf hoop tuis sit, is uiters kommerwekkend.

Die kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) word opgestel deur middel van ʼn opname onder ongeveer 30 000 huishoudings. Verlede jaar, tydens die Covid-19-pandemie, het minder as 14 300 mense egter aan die opname deelgeneem.

Syfers sou dus nie akkuraat met dié van verlede jaar vergelyk kon word nie.

StatsSA sê in sy jongste verslag die opname vir die tweede kwartaal is in persoon gedoen en die reaksiekoers het ’n verbetering getoon. Die presiese reaksiekoers is egter nié in die verslag bekend gemaak nie.

Du Buisson sê die feit dat die algehele landswye afsondering iets van die verlede is vir Suid-Afrikaners, het wel ’n groot rol in werkskepping tydens die tweede kwartaal gespeel. Tog sit die land met 168 000 meer werkloses vergeleke met ’n jaar gelede.

Die land benodig ook werk vir die 4,8 miljoen (61%) Suid-Afrikaanse jong mense tussen die ouderdom van 15 en 24, wat volgens StatsSA steeds sonder werk is. Du Buisson dink egter dié syfer is veel hoër.

“Twee kwartale gelede het dié syfer nog op 75% gestaan. Só ’n groot afname terwyl die hoeveelheid mense wat in diens is nie dienooreenkomstig toegeneem het nie, blyk nie moontlik te wees nie.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Du Buisson sê daar kan met sekerheid gesê word dat daar ’n afname in werkloosheid onder jong mense is, maar dis “nie naastenby genoeg” nie. “Die hoë werkloosheidsyfers is uiters kommerwekkend aangesien sommige dele in die VSA dit as ʼn krisis beskou indien werkloosheid onder die jeug op 8% te staan kom.

“Dit skep natuurlik ook maatskaplike probleme indien jong mense wat ná skool veronderstel is om groot hoop vir hul toekoms te hê, nié werk het nie.”

Maroela Media het vroeër berig die getal werklose persone wat aktief na werk soek het tydens die tweede kwartaal vanjaar met 132 000 toegeneem. Die totale syfer is agt miljoen.

Daar was egter ’n afname van 183 000 (4,9%) in die mense wat moed opgegee en ophou werk soek het, asook ’n afname van 452 000 (3,3%) in die mense wat nie ekonomies aktief was nie.

Dié statistiek is bemoedigend, meen Du Buisson. “Dit toon dat mens in ’n mate meer hoop het. Dit is egter weer eens nie naastenby genoeg om oor opgewonde te raak nie.”

Provinsies

Wat die provinsies betref het die amptelike werkloosheidsyfer volgens StatsSA gedurende die tweede kwartaal in vyf van die nege provinsies afgeneem.

Die Noord-Kaap is tans die provinsie met die laagste werkloosheidskoers (23,7%), en ook die provinsie wat die grootste jaar-op-jaar daling (4,4%) in die werkloosheidskoers toon.

“Ek glo nie dié statistiek vir ’n oomblik nie,” sê Du Buisson.

“Die Noord-Kaap is baie yl bevolk en die opname word reeds onder baie min mense gedoen. Indien jy dan nog boonop baie min van hulle in die hande kry vir die opname, dan kry jy sulke groot swaaie.”

Die Oos-Kaap beskik tans oor die grootste persentasie werklose bevolking (42,8%) gevolg deur Limpopo met ʼn werkloosheidskoers van 36,3%. Dié provinsie het die afgelope jaar ʼn massiewe toename van 5,9% in werkloosheidsvlakke gesien.

Du Buisson sê só ’n provinsie sal maar altyd ’n probleem bly. “In Suid-Afrika kom dit basies daarop neer dat indien jy buite Gauteng of die Wes-Kaap woon, gaan dit maar altyd redelik sleg met jou gaan en is die kanse dat jy werk kry redelik skraal.”

Hoewel die Wes-Kaap se werkloosheid tydens die tweede kwartaal met 2,5% en jaar-op-jaar met 1,7% toegeneem het, beskik dié provinsie tans oor die tweede laagste werkloosheidskoers (27,5%)

Du Buisson sê hy is veral bekommerd oor Noordwes, al wys die syfers dat werkloosheid hier van verlede jaar met 3% (van 35,2% na 32,2%) afgeneem het.

“Dit is die enigste provinsie waar die hoeveelheid mense in diens met 55 000 afgeneem het. Ons moet baie bekommerd wees oor Noordwes,” meen Du Buisson. Hy skryf dit grotendeels toe aan nywerhede wat onttrek het uit Noordwes weens verval van infrastruktuur en swak munisipale dienslewering.

Só lyk die werkloosheidsyfer per provinsie tydens die tweede kwartaal. (Grafika: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antie Sarie ·

Een van die grootste oorsake van werkloosheid is die absurde arbeids wette. Dit is gevaarlik om iemand in diens te neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.