VBS-skandaal: Shivambu moet opdok maar Malema nie

Floyd Shivambu en Julius Malema (Foto: EFF/Facebook)

Die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange kon nie ʼn bevinding maak teen EFF-leier Julius Malema oor die kwessie of hy die gedragskode oortree het rakende die VBS-skandaal nie, maar sy adjunk Floyd Shivambu was egter nie so gelukkig nie.

Die DA het in 2018 en 2019 klagte by die komitees ingedien teen Shivambu en Malema. Die komitee het bevind dat Shivambu die kode oor etiese gedrag en die openbaarmaking van ledebelange oortree het deur nie die R180 000 te verklaar wat die maatskappy Sgameka in 2017 aan hom betaal het nie. Die komitee sal by die Nasionale Vergadering aanbeveel dat Shivambu met nege dae se salaris beboet word.

Die komitee kon egter weens onvoldoende inligting nie ʼn bevinding teen Malema maak nie. Die komitee het die likwidateur in die VBS-aangeleentheid ontbied om ʼn verslag oor die beweging van geld in die VBS-skandaal aan hom te verskaf. Die verslag is op 23 Augustus 2021 aan die komitee voorgelê. Ingevolge die verslag het Sgameka Projects ʼn bedrag van R4 803 180 in ʼn Absa-bankrekening wat aan Mahuna Investments behoort, inbetaal.

Die Sgameka-rekening is deur die likwidateur geïdentifiseer as die rekening waarin geld van die VBS inbetaal is en dan na ander bankrekeninge oorgeplaas is. Ingevolge die verslag het Malema nie ʼn bankrekening by die VBS gehad nie. Die verslag dui ook aan dat geen geld van die Sgameka-bankrekening na Malema oorgeplaas is nie. Daar is geen verwysing in die verslag na enige rekening wat deur Malema in stand gehou word wat hom by die VBS-skandaal kan betrek nie.

Die komitee het toe besluit om die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) te ontbied om finansiële intelligensie te bekom oor die kwessie of Malema geld deur Mahuna se Absa-bankrekening ontvang het. Die FIS was egter van mening dat dit onwettig sou wees om die komitee van finansiële intelligensie te voorsien. Die komitee was in die proses om hom op artikel 14 van die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die parlement te beroep om die inligting te bekom, maar het op grond van regsadvies besluit om nie met die uitreiking van die dagvaarding voort te gaan nie.

Die komitee het ook opgemerk dat artikel 40 van die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum die komitee verhinder om die bewerings verder te voer. “Vir hierdie doel is die komitee se ondersoek onbeslis, aangesien die komitee nie oor voldoende inligting beskik het om ʼn bevinding te maak nie. Die komitee het besluit om die saak te sluit.”

Die DA het die komitee se beslissing teen Shivambu verwelkom. Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, het gesê dit wys dat daar nooit een stel reëls vir sommige parlementslede en vrystellings vir ander kan wees nie.

“Ons verwelkom hierdie bevinding hoewel dit die komitee vier jaar geneem het om te voltooi. Ons is parlementslede wat aan lede van die publiek verantwoordbaar is. Daarom is dit belangrik dat ons alle finansiële en nie-finansiële belange openbaar en verklaar. Dit is vir aanspreeklikheid en deursigtigheid. Shivambu se versuim om geld wat deur VBS ontvang is, te verklaar, het twyfel laat ontstaan oor alle openbare verklarings wat hy oor hierdie aangeleentheid gemaak het. Ons vertrou dat wetstoepassingsagentskappe sal voortgaan in hul soektog na die waarheid.”

Die saak teen 14 verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle die VBS Mutual Bank geplunder het, gaan intussen voort. Die beskuldigdes, wat op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en diefstal teregstaan, word daarvan aangekla dat hulle R2,3 miljard van die bank gesteel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie ·

Shivambu is net so skuldig, asof hy nie geweet het waar die geld vandaan kom nie.

Wondermaarnet ·

Die hele lot is skuldig en wat van Shivambu se broer? Hy is die “main konyn” in die hele sage.

Waarnemer ·

En so stap ou julias weereens skotvry weg,net soos met sy lied kill the boer kill the farmer en die afvuur van n vuurwapen in die openbaar.Hy is “untouchable”..

Pierre ·

Politieke leiers in die land is onaantasbaar die regerende party is te bang daar word intimidasie geskree as teen ander op getree gaan word en sodoende hulle eie wasgoed dan in die publiek sal moet was.

Wit Leeu ·

Daarsy, Julius weer onskuldig ! Hulle kyk mooi na hom oor hulle bang is vir hom. Die hele wêreld is mos bang vir heilige Julius !!!!!!!!!!!

Vonkprop ·

Ag snert man. Hoekom net 9 dae se salaris as boete? Hy moet die volle R180 000 met rente terugbetaal. En ons almal weet die ANC sal belastingbetalers se geld gebruik en daardie 9 dae borg so hy sal dit nie voel nie.

Grassie ·

Dit is ‘n skandalige toesmeeraksie, tog so eie aan die ANC-regering. Die een man kry R180 000 van die gegapste geld. Sy straf – 9 dae se salaris. Die ondersoek teen Malema is gestaak omdat die inligting om die een of ander obskure bepaling nie bekend gemaak mag word nie. Dit is die belaglikste verduideliking waarvan ek nog ooit gehoor het. Ek begin al meer glo dat die regering vir Malema beskerm omdat hulle hom na die verkiesing in die een of ander amp wil plaas, wat hulle nie kan doen as hy ‘n kriminele rekord het nie.

domheks ·

Nou wat het van oom jacob zuma se lening geword om nkandla te betaal? Het dit ook verdwyn soos ou julias se skuld? VBS se beokhouding nie wel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.