Veediefstal ‘ekonomiese sabotasie’ van landbousektor

Polisielede tydens ‘n veediefstaloperasie. (Foto: Vrystaat Landbou)

Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) is diep bekommerd oor die oënskynlike gebrek aan hulpbronne by die polisie se veediefstaleenhede en waarsku dat dit kan lei tot ekonomiese agteruitgang wat die landboubedryf ernstig kan ondermyn.

“Weens die tekorte word misdaadtonele nie doeltreffend ondersoek nie en speurders daag soms dae nadat ʼn saak aangemeld is, eers op. Dit dra dan daartoe by dat baie van hierdie veediefstal-voorvalle nie aangemeld word nie,” lui ʼn gesamentlike verklaring van die organisasies.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, sê dit lyk nie of die polisie veediefstal as prioriteit beskou nie.

Volgens Le Roux en Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum (VVF) van die RPO, neem die astronomiese tekorte aan hulpbronne boonop net toe, met geen daadwerklike ingryping van die polisie se topbestuur nie.

“Vir boere lei hierdie situasie tot ekonomiese ondergang wat die landbousektor ernstig ondermyn. Dit is om nie eens van die uitwerking wat dit op opkomende en bestaansboere het, te praat nie,” sê Le Roux.

Hulle waarsku dat die voortgesette voorvalle van veediefstal “bykans as ekonomiese sabotasie van die landbousektor beskou kan word”.

Bheki Cele, minister van polisie, het in Augustus vanjaar aangekondig dat eiendomsverwante misdaad in vanjaar se eerste kwartaal met 6% gedaal het.

Cele het toe gesê veediefstal – ʼn afdeling van eiendomsverwante misdaad – het met 8% gedaal sedert dieselfde tyd verlede jaar en met 13,5% as dit met die sogenaamde “normale tydperk” twee jaar gelede – voor die aanvang van die Covid-19-pandemie en die instel van streng afsonderingsmaatreëls – vergelyk word.

Volgens Cele het veediefstal in ses van die nege provinsies gedaal, met die grootste getal voorvalle – altesame 398 – wat in die Oos-Kaap aangemeld is.

Dr. Jane Buys, ʼn veiligheidsrisiko-ontleder verbonde aan VL, sê uit sake wat uiteindelik wel aangemeld word, is daar boerderygemeenskappe wat verliese van tot R10 miljoen per jaar aanmeld. Gebiede wat veral deurloop, sluit in Brandfort, Ladybrand, Heilbron en Fouriesburg en die dorpe ondervind groot druk weens ʼn styging in veediefstal.

Buys sê veral dorpe wat langs die grens tussen Lesotho en Suid-Afrika geleë is, gaan gebuk onder dié soort misdaad.

“Veediefstal is ʼn georganiseerde misdaad wat toenemend deur misdaadsindikate bedryf word. Om hierdie sindikate te keer, word die betrokkenheid van ander rolspelers in die polisie, soos die Valke, die eenheid vir georganiseerde misdaad en misdaadintelligensie, benodig,” sê sy.

VL en die RPO stem saam dat boere sover moontlik moet probeer om hul eiendom en vee self te beskerm, maar dat die polisie ook sy verpligting moet nakom om hulpbronne beskikbaar te stel om die voortbestaan van die landbousektor in die Vrystaat te help verseker.

“Die toetrede van die regering en die minister van polisie het kritiek noodsaaklik geword om die tekorte te pak,” sê Buys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Veeboerdery is tans n hoë risiko boerdery.
24/7 moet jy jou vee oppas, want jy is dag en nag blootgestel aan veediefstalle.
Plase is n ” oop, deurloop besigheid”.
Jy kan hekke sluit, maar veediewe gaan deur die drade of knip die drade.
Veediefstal sake word gerapporteer en opgevolg, maar dit is ontsettend moeilik om n goeie saak op te bou of te hê teen hierdie veediewe.
Kry jy die inligting en vleis, soek veediefstal plek van slagting. As daar nie genoegsame bewyse is nie, is daar nie n saak nie!

marius ·

Waarom sal hulle ? Dis direk teen die beleid om op te tree . Dit sal nie verander nie .

Samuel ·

So word ons boere op hulle knieë gedwing. Bring die kommando stelsel terug.

Kanjynoumeer ·

Nog n opskrif kan lees:
Veldbrande “ekonomiese sabotasie” van landbousektor.

Tino ·

Maar skiet net ‘n rower dan is die hele mag binne oomblikke daar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.