‘Veiligheid’ departement se prioriteit ná aanvalle op medici

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Die Gautengse departement van gesondheid sê daar is reeds verskeie stappe gedoen en maatreëls ingestel om gesondheidswerkers se veiligheid te verseker terwyl hulle pasiënte behandel.

Van die stappe help gesondheidswerkers in hul reaksie op aanvalle deur pasiënte, asook die prosedures wat gevolg moet word ná so ʼn voorval.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR van gesondheid in die provinsie, het vroeër in ʼn geskrewe antwoord op die DA se vrae in die Gautengse wetgewer gesê daar was sedert Januarie verlede jaar altesame 61 aanvalle op hospitaalpersoneel.

Pasiënte met geestesversteurings is verantwoordelik vir die meeste van die aanvalle.

Veiligheidsbeamptes, verpleegsters en selfs mediese spesialiste loop deur onder voorvalle van geweld en word soms geslaan, geskop en selfs gebyt deur pasiënte.

“Ons doelwit is om voorvalle in ons fasiliteite te verminder, indien nie heeltemal stuit nie,” sê Nkomo-Ralehoko.

“Ons moet ook saam met gesondheidswerkers en ander belangegroepe soos hospitaalrade, kliniekkomitees en die pasiënte self werk om aanvalle te stuit.”

Volgens Nkomo-Ralehoko werk die departement deurlopend daaraan om te verseker dat gesondheidswerkers toegerus is om aanvalle deur pasiënte te hanteer. Daar is ook maatreëls ingestel om dié voorvalle te help voorkom.

Die provinsiale departement verskaf onder meer opleiding aan werkers oor hoe om op voorvalle van geweld binne die fasiliteite te reageer en gee ook steun en berading aan personeel.

Die departement poog ook om sy profileringsprosesse te verbeter sodat daar meer personeellede teenwoordig is wanneer sekere pasiënte behandel word en dat die gesondheidswerkers ten volle bewus is van die pasiënt se geskiedenis en ander onderliggende toestande.

“Personeel word aangeraai om altyd die standaardbedryfsprosedures te volg wanneer hulle na pasiënte omsien en ook alle voorvalle by beroepsgesondheid- en veiligheidsbeamptes aan te meld,” sê Tshepo Shawa, woordvoerder van die LUR.

“Die departement poog ook om pasiënte en hul naasbestaandes deurlopend op te voed oor die behandelingsprosedures om beter samewerking te verseker.”

Die departement het ook werk daarvan gemaak om kringtelevisie vir moniteringsdoeleindes op strategiese plekke by gesondheidsfasiliteite te installeer.

“Die veiligheid van ons personeel en pasiënte bly ʼn prioriteit,” sê Nkomo-Ralehoko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Verskonings, verskonins, dit is mos maklik om ‘n pasient te beskuldig.

Amelia ·

hoekom is dit pasient se skuld van die verpleegsters vat n uur om net n leer te gaan haal dan wag jy weer vir n dokter vat bloddruk wag nee staatshospitale is net te erg maar intussen sit mense met pyn maar moet maar geduldig wees (dankie tog ek het medies ) hoeveel mense se wonde het bv septies geraak of roep iemand maak of hul nie jou hoor nie Dink as werk vinnig en reg gedoen word sal die mense ook nie aangeval word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.