Werkers by talle hospitale loop deur onder geweld

Die ingang na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. (Foto: Thabiso Makelo/Panoramio)

Gesondheidswerkers in Gauteng moet links en regs koes vir pasiënte wat klaarblyklik hulle woede of frustrasie op hospitaalpersoneel uithaal.

Verskeie veiligheidsbeamptes, verpleegsters en selfs mediese spesialiste loop deur onder voorvalle van geweld.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in Gauteng, sê dit is kommerwekkend dat soveel hospitaalwerkers aangeval word terwyl hulle pasiënte probeer help.

“Die veiligheid by hospitale moet dringend opgeskerp word en hospitale moet gespesialiseerde fasiliteite vir pasiënte met geestesversteurings oprig om die risiko van geweld teen personeel te verminder.”

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR van gesondheid in die provinsie, het in ʼn geskrewe antwoord op die DA se vrae in die Gautengse wetgewer gesê daar was oor die afgelope jaar altesame 61 aanvalle op hospitaalpersoneel.

Pasiënte met geestesversteurings is verantwoordelik vir die meeste van die aanvalle.

Die meeste aanvalle was by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria. Altesame 21 hospitaalwerkers is aangeval en is beseer. Verskeie verpleegwerkers is in die gesig geslaan, terwyl ʼn veiligheidswag in die lies geskop is.

Daar was sewe aanvalle op die personeel van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg. Twee van die slagoffers was verpleegsters en ʼn ander ʼn spraakterapeut wat deur ʼn pasiënt aan die vingers gebyt is.

Twee kleiner hospitale – die Carletonville- asook die Verre Oos-Rand (FAR)-hospitaal – het elk nege voorvalle aangeteken. Pasiënte het minstens vyf personeellede by FAR gebyt.

Volgens die LUR was die meeste aanvalle deur pasiënte wat behandeling vir geestesgesondheid kry. Die redes vir die aanvalle wissel van woede teenoor personeel wat weier om items vir hulle te gaan koop, tot pasiënte wat uit fasiliteite probeer ontsnap.

Ontstoke familielede is nog ʼn gevaar vir hospitaalpersoneel.

By die Bertha Gxowa-hospitaal in Germiston is ʼn verpleegster by ongevalle in die gesig geslaan toe vriende van ʼn pasiënt geëis het dat hy onmiddellik behandeling moet kry.

Dit is onduidelik of enige van die hospitaalpersoneel strafregtelike stappe teen die pasiënte of hulle familielede gedoen het.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JvR ·

Iewers skop iets in. Dalk ge inkubeer deur “regte keuses”? Mense is besig om mal te word. Dalk help loadshedding met die inkubasie?

Harley Davidson ·

Dit is dieselfde mense wat gestaak het so tydjie terug en die pasiënte net so gelos het ,dit klink vir my reg onthou net die wat gehelp het tydens die staking wat nie moeilik behoort te wees nie los hulle in vrede.

Di ·

In meeste Staats hospitale is die diens so swak of GEEN diens nie, daarom raak mense so frustreerd. Pasiente moet dae lank wag om gehelp te word en die personnel daar is slegs daar om te wag vir die volgende salaris, GEEN wil om hulle werk waarvoor hulle betaal word, te doen nie.

Ansie ·

Personeel moet ook maar na hulle eie gedrag en diens oplet. Dis soms hulle eie skuld as hulle pasiënte en hulle families se humeur in die rooi laat vasslaan.

Nico ·

Die oorsake lê by die behandeling van pasiente, waar is die sogenaamdeverpleeg personeel, sit in die kantoor en drink te en eet koek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.