Verdagte vas wat glo brand by Muizenberg stig

(Foto: Charl Steenkamp/NCC Wildfires/Facebook)

ʼn Verdagte is reeds in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die brand wat Maandagmiddag teen ʼn berghang by Muizenberg in Kaapstad uitgebreek het.

Die inhegtenisneming volg enkele ure nadat brandbestryders daarin kon slaag om deur “doeltreffende risikobestuur” die brand te blus.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het Maandagaand gesê dat ʼn verdagte op aanklag van brandstigting in hegtenis geneem is. Verdere besonderhede oor die individu of sy motief is egter nie bekend gemaak nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog op terugvoer oor die verdagte.

(Foto: Charl Steenkamp/NCC Wildfires/Facebook)

Die brand het die middag aan die voet van Boyesrylaan in Lakeside begin en is aangeblaas deur ʼn sterk suidoostewind. Dit het veroorsaak dat die brand vinnig langs die berghange beweeg en verskeie eiendomme in die gebied bedreig het.

Met behulp van drie watertenkwaens en ʼn aantal helikopters wat die gebied met water gebombardeer het, kon 20 brandbestryders daarin slaag om die brand te blus.

“Hoewel die brand onder beheer gebring is, het die water wat deur die helikopters laat val is verskeie rotsstortings veroorsaak,” sê Smith.

“Ingenieurs is nog op die toneel en ondersoek die strukturele integriteit van Boyesrylaan, terwyl opruimingsoperasies aan die gang is.”

Die betrokke pad was teen Maandagaand nog vir verkeer gesluit en sodra die gebied beveilig word, sal dit weer oopgestel word.

Brandbeheer ‘uitstekend’

(Foto: Charl Steenkamp/NCC Wildfires/Facebook)

Die brandbeskermingsdiens NCC Wildfires sê die hantering van hierdie brand is ʼn uitstekende voorbeeld van hoe alle brande gepak moet word.

“Alle wegholbrande wat op ʼn dag met ʼn hoë brandindeks beveg word, kan die betrokkenes wat hierdie brand geblus het se voorbeeld volg. Die doeltreffendheid van die hulpbronnebestuur wys ook hoe verskeie noodreaksiespanne kan saamwerk om ʼn gemeenskaplike doel te bereik.”

Philip Prins, brandbestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, was aan die stuur van die brandbestrydingsaksie en is volgens NCC Wildfires ʼn “ervare en hoogs bekwame voorvalbevelvoerder”.

“Nadat die brand aangemeld is, het hy hom dadelik vergewis van die weerstoestande, terrein en die moontlike risiko aan menselewens verbonde. Hy het toe die besluit geneem om die brand vroegtydig, met al die hulpbronne tot sy beskikking, te takel,” sê NCC.

NCC se omgewingspanne van Nuweland, asook NCC se Delta-bemanning is na die brand gestuur en in ʼn stadium was daar vyf helikopters in die lug wat saamgewerk het om die grondspanne te help om die verspreiding van die brand te bekamp.

Vrywillige veldbranddienste het hul hulpbronne ingespan en so ook die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste.

Enviro Wildfire het ook onmiddellik ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand van stapel gestuur, wat eindelik tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte gelei het.

“As ons een ding hieruit geleer het, is dit om alles in te span om ʼn brand onder beheer te bring voordat dit in grootte en risiko kan toeneem,” sê NCC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nicholaas ·

Ek hoop hul kry n baie lang straf, dit al wat toekomstige brandstigters 2 keer sal laat dink.

Jacobus ·

Vra hom eerstens wie het hom opdrag gegee om die brand te stig, maw wie is sy hanteerders.

M ·

Knap werk …welgedaan. Dankie aan almal wat die brand help blus het. Goeie beplanning en spoedige optrede deur toegewyde amptenare/helpers/brandslaners.

Jr ·

Niks sal gebeur met hom. Net soos die parliament se brandstigter

Pierre ·

en wat het geword van die persoon wat laas jaar inhegtenis geneem ….niks

Ronél ·

Natuurlik sal die brandbeheer UITSTEKEND wees, dis mos die KAAP!!!

Ansie ·

Knap gedaan almal wat betrokke was. Ek haal my hoed vir julle af. Met die hitte en die wind was die vinnige blus van die brand ‘n fantastiese prestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.