Verkiesing: Só gaan dinge by nasionale uitslagsentrum

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria op stemdag. (Foto: Tania Heyns)

Bedrywighede by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria was Woensdag rustig ondanks probleme wat by enkele kiesstasies oor die hele land ontstaan het.

Hoewel dié sentrum, wat reeds op 30 April in die weste van die stad op die been gebring is om die verkiesingsproses vir die sesde demokratiese verkiesing so deursigtig moontlik te maak tans nog taamlik stil is, staan verteenwoordigers van politieke partye slaggereed om enige probleme wat moontlik deur die loop van die dag opduik te takel.

Stewart Murphy, bestuurder van verkiesingsake vir die OVK, het vroeër gesê die grootste probleem wat die OVK aan die begin van die stemdag ervaar het, is dat sekere stemlokale nie betyds oopgemaak het nie.

Murphy het gewys na ʼn groot digitale skerm wat verkiesingspersoneel en media by dié sentrum op die hoogte hou van die stand van sake. ʼn Kaart op dié skerm dui met die kleur groen aan watter stemlokale oor die hele land reeds oop is. Geel dui stemlokale aan wat hangend is en rooi die stemlokale wat gesluit is.

Teen 09:00 was sowat 94% van stemlokale oor die land op dié kaart oop.

Volgens Murphy is dit egter moeilik om te sê waarom die ander 6% van stemlokale nie betyds oopgemaak het nie. Hy het gesê dit is moontlik te wyte aan slegte weerstoestande in sekere dele. “Slegte weerstoestande is in die suidelike en sentrale dele van die land vandag voorspel,” het hy gesê.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria op stemdag. (Foto: Tania Heyns)

Die meeste stemlokale wat nie betyds oop was nie, was egter in die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal, die noordelike dele van die Noord-Kaap en dele van Gauteng wat nie onder reënweer gebuk gegaan het nie. “Een van die redes kan bloot ʼn oponthoud in die aanmeld van inligting wees,” het Murphy verduidelik.

Toonbanke op die grondvloer van die sentrum hanteer vandag klagtes vanaf provinsiale amptenare asook lede van die publiek aangaande enige bedryfsprobleme by stemlokale. Dié probleme handel oor enigiets van stemlokale wat nog nie oop is nie óf personeel wat staak of bloot nie betyds opgedaag het nie tot stemlokale wat te min stembriewe het, het Murray verduidelik.

Hiér word inligting van dié aard op die OVK se stelsel gelaai wat na die onderskeie provinsiale operasionele sentrums verwys word om die spesifieke probleme te hanteer.

Langs dié toonbanke op die grondvloer van die uitslagsentrum kry elke deelnemende party in die verkiesing ook ʼn stasie om sý party se vordering deur die loop van die dag te monitor.

“Ons is deur die loop van die oggend en middag hier om enige klagtes in ons party te ontvang wat vanaf ons party-agente by die onderskeie stemlokale ingedien word. Daarna gaan ons vanaand ons party se uitslae inlees. Dít is ons werk vir die dag,” verduidelik Nathi Prince van Land Party.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria op stemdag. (Foto: Tania Heyns)

Volgens Prince was daar nog geen klagtes van dié party se kant af nie.

Nathaniel Bricknell, sekretaris-generaal van African Democratic Change, het verduidelik dat klagtes wat die partye ontvang by die OVK aangemeld word om te hanteer.

Dié party het tot dusver ook nog geen groot probleme ondervind nie. “Ons het uitdagings soos party-agente wat toegang by stemlokale geweier is weens effense verwarring, maar niks ernstigs nie. Ons is bewus van sekere betogings in die Vrystaat en Oos-Kaap, maar dit gaan redelik goed. Die OVK het sy vinger op die pols,” het Bricknell gesê.

“Die afgelope twee dae was ʼn goeie toets vir die OVK en die partye. Ons verwag ʼn goeie dag.”

Mike Moriaty van die DA erken dat daar probleme is soos die stemlokale wat nog nie oop is nie, maar meen dat dié probleme stelselmatig opgelos word. “Daar is ook probleme soos stemmateriaal wat nie by sekere stemlokale versprei is nie, maar dié lokale is in die minderheid.”

Moriaty voorspel dat die meeste probleme waarskynlik deur die loop van die dag in KwaZulu-Natal sal opduik.

Vanita Coetzee, sekretaris van regering en administrasie by Cope, het verduidelik dat die OVK se stelsel vir klagtes van dié aard goed werk. “Daar is hier en daar probleme soos stemlokale wat nog nie oopgemaak het weens weerstoestande nie, maar daar is geen groot krisisse nie.”

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria op stemdag. (Foto: Tania Heyns)

Coetzee verwag wel probleme by tydelike stemlokale deur die loop van die dag aangesien weersomstandighede probleme kan veroorsaak, soos dat tente kan omwaai of kragonderbrekings kan voorkom wanneer stemme vanaand getel moet word.

Dakota Lekgoete, waarnemende nasionale woordvoerder van die ANC, het gesê die party is tot dusver gelukkig. “Ons wil die OVK gelukwens met ʼn taak wat goed gedoen word. Die enigste probleem is die weer. Ek hoop ons mense gaan beoefen hul demokratiese reg om te stem. Moenie dat die weer jou daarvan weerhou om te stem nie.”

Hy sê die regerende party het nog geen noemenswaardige klagtes ontvang nie. “Tot dusver gaan dit goed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

Cyril is besig om die wet te oortree deur buite die stemlokaal politiek te besig en ‘n toespraak ten gunste van die ANC te hou.

jaco ·

waarom is die probleem stemlokale altyd in sterk ANC-wereld? Dis so met ELKE verkiesing.
Waarom nie in die Wes-Kaap nie? volgens die ANC (so 2 jaar gelede) straf die Here dan klaar die Wes-Kaap met droogte omdat meester kiesers daar die sonde doen van DA stem. Dan moet dié “straf” nou mos voortgaan met stemlokale in die Wes-Kaap wat nie oop is nie.

EP ·

John wat verwag jy van so prez …. daar sal niks gebeur maar weë was dit n wit persoon was !!!! Nee wat hy het sy opleiding by zuma gekry ….

Tanya ·

Soveel bedrog word al reeds gepleeg op straat word daar al vir 3 dae gevate her dit aan gegee nou ja wat gaan aan dit gedoen word (niks nie)

Blaarman ·

Onthou net elkeen wat gaan stem het – wanneer hulle jou eiendom kom vat… julle het hulle toestemming gegee daarvoor.

Realis ·

Nee TN, ek mag dan skiet want ek het op geen stadium my deel gemaak van die “proses” nie. As jy stem móét jy inval by die uitslag. Dis waaroor demokrasie gaan. Of jy dit nou wil glo of nie. Vir 5 jaar moet jy stilbly tot jy weer ‘n kans kry om te “praat”.

CHAPPIES ·

UITEINDELIK…is dié lagwekkende sirkus verby…van trop partye wat klagtes van kortupsie,swak organisie lê…so tipies donker afrika…
DANKIE dat ons vannaand,die sterrehemel van afrika,kan trek oor ons sorge…
Wetende dat die Skepper van die sterrehemel,GODDANK IN BEHEER IS EN BLÝ en nié stupid politiekery!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.