Vermeende plaasaanvallers vas ná buurtwagte ingryp

(Argieffoto)

Vier vermeende plaasaanvallers is Dinsdagaand in hegtenis geneem nadat ʼn netwerk van AfriForum se buurtwagte die mans opgespoor het.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê AfriForum se buurtwag in Brits in Noordwes het die aand ʼn noodoproep via die radionetwerk ontvang oor ʼn plaasaanval wat besig was om te gebeur.

Die plaaslike AfriForum-protospan het op die noodoproep gereageer en was eerste op die toneel ná die aanval.

Die protospanlede het die toneel beveilig, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontbied en traumaberaders gekry om die slagoffers by te staan.

Dit het aan die lig gekom dat verskeie items, waaronder vuurwapens en die slagoffer se voertuig, tydens die aanval gesteel is.

“AfriForum se protospanlede het die besonderhede van die voertuig aan verskeie voertuigopsporingsmaatskappye gekommunikeer en binne oomblikke is daar vasgestel dat die gesteelde voertuig in die rigting van Pretoria-Wes op pad was,” sê Broodryk.

“Die AfriForum-buurtwag in Pretoria-Wes en hul protospan is geaktiveer en ontplooi na al die moontlike paaie wat die aanvallers kon volg om die stad binne te gaan.

“Die plaaslike SAPD is ook ingelig en hulle het gehelp om kontrolepunte in die gebied op te stel.”

Volgens Broodryk is die gesteelde voertuig eindelik opgemerk en die spanne het inbeweeg om die verdagtes in hegtenis te neem.

Altesame vier verdagtes is in hegtenis geneem, maar twee ander het daarin geslaag om van die toneel te vlug.

Die meerderheid van die gesteelde vuurwapens is teruggevind en die polisie het daarop beslag gelê.

Maroela Media het navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog op terugvoer oor die voorval.

Broodryk sê hierdie voorval moet as ʼn duidelike waarskuwing dien vir diegene wat plaasaanvalle beplan in gebiede waar AfriForum se veiligheidstrukture is.

“As jy besluit om onskuldige burgerlikes te teiken met jou gruwelike misdade, sal ons jou vind en jou tot geregtigheid bring. Moenie dink omdat politici liedjies oor jou misdade sing dat jy gespaar sal word nie,” het Broodryk met verwysing na die EFF-leier, Julius Malema, se sing van die lied “Kill the Boer” gesê.

Volgens Broodryk wys hierdie voorval op die doeltreffendheid van veiligheidstrukture in gemeenskappe.

“Ons doen ʼn beroep op alle wetsgehoorsame burgers wat omgee oor die veiligheid van hul gemeenskappe om betrokke te raak by hul gemeenskapsveiligheidstrukture.”

AfriForum het 168 buurt- en plaaswagstrukture reg oor die land, met sowat 11 000 vrywilligers.

Broodryk het diegene wat by die buurtwagte betrokke is, bedank vir hul bereidwilligheid om hul tyd af te staan en hul eie veiligheid in gevaar te stel om hul gemeenskappe veilig te hou.

“Ons wil ook die SAPD en private sekuriteitsmaatskappye bedank wat saam met ons gewerk het om hierdie verdagtes vas te trek. Dit wys weer wat ons kan bereik wanneer gemeenskappe saamstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Mooi gedoen aan almal wat die verdagtes aangekeer het en sterkte aan die Slagoffers van die aanval..

Charles ·

Moet asb hulle nét nie in n kis sit nie. Nie lus vir daardie gefeinste skok weer nie.

Vanessa ·

Uitstekende diens!!!! Ons is trots op die mense wat betrokke geraak het. Mag dit ‘n voorbeeld wees vir al die misdadigers. Ons is moeg vir die wat wet in eie hande neem en onskuldige mense beroof en vermoor. Rot in Hell for all I care!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.