Vermeende verkragter wil nie self getuig

AfriForum se privaatvervolgingseenheid vervolg die beskuldigde namens die slagoffer. (Foto: Verskaf)

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy Celeste Gouws in 2017 by haar gastehuis verkrag het, het besluit om nie in sy eie verdediging te getuig nie.

Isaac Andile Memese se regsverteenwoordiger het vandeesweek aan die Somerset-Oos-landdroshof gesê hy sal twee getuies roep om eerder te getuig.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid vervolg Memese namens Gouws nadat die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap geweier het om Memese vir die beweerde misdryf te vervolg.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe Memese destyds oor etlike ure talle alkoholiese drankies vir Gouws geskink het en hoe sy naderhand erg besope raak. In ʼn stadium lyk dit ook asof Memese sy drankie met dié van Gouws ruil. Die aanklaer het tydens die aansoek om ontslag aangevoer dat dit moontlik ʼn geleentheid was om haar drankie te dokter.

Die beeldmateriaal wys verder hoe Memese die gastehuis verlaat saam met ʼn vriend wat Gouws gebel het om haar te help. Memese gaan dan terug in die huis waarna hy glo vir Gouws na die slaapkamer neem en glo verkrag het.

Memese se verweer was dat hulle konsensuele seks gehad het, terwyl die klaer enige toestemming heftig ontken.

Sers. Sipholelo Raula, die ondersoekbeampte in die saak. (Foto: Verskaf)

Memese se regsverteenwoordiger, Mike Maseti, het die ondersoekbeampte in die saak, sers. Sipholelo Raula, as sy eerste getuie geroep. Raula het getuig dat hy glo dat daar met die beeldmateriaal gepeuter is.

Tydens kruisondervraging, toe verdere feite aan hom gestel is, het hy egter toegegee dat die getuienis in die dossier nie die bewering dat daar met die beeldmateriaal gepeuter is, steun nie.

Raula het ook die definisie van toestemming, soos in die Wet op Seksuele Misdrywe, aan die hof bevestig. Hierdie definisie sluit situasies uit waar die klaer nie in staat is om die aard van die seksuele daad te besef nie of in ʼn bewustelose staat is – soos om onder die invloed van alkohol te wees.

Die saak is tot 5 September uitgestel sodat die verdediging ʼn deskundige getuie kan roep om te getuig oor of daar moontlik gepeuter is met die videomateriaal wat aan die hof voorgehou is.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dit is teleurstellend dat die saak weer uitgestel is.

“Ons bly nietemin daartoe verbind om te verseker dat geregtigheid geskied en dat die irrasionele besluit van die NVG om nie te vervolg nie, blootgelê word.”

  • Lees Maroela Media se vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Hy is seker oppad vir ons volgende minister van vroue sake.

Amelia ·

En waarom vertou mense nie meer die polisie nie nee wat gaan deur al die hel hofsaak na hofsaak en ou wonde word net weer oop gegrou en steeds uitstel na uitstel die saak sal ook seker jare vat maar dankie vir privaat vervolging ek persloonlik dink dink hy is skuldig want hoekom glase omruil nee hoop hy sit vir jare hoop hul handel saak vinnig af en dat sy nou als kan verwerk en aangaan met haar lewe sterkte

Owlie ·

Goeie genade was daardie regsverteenwoordiger teenwoordig tydens die verkragting dat daar skielik ander getuies geroep word? Van wanneer af kan jy drankies dokter en dan skielik onskuldig wees?
Weet enige een wat besope is wat die woord konsensueel beteken?
Hopeloos te veel mense suip deesdae en kom weg met al die verkeerd in die lewe.

SomeOne ·

indien daar van ‘n goedgekeurde video opname program gebruik is, is dit onmoontlik om met die beeldmateriaal te peuter, nie eers die vervaardiger van die program kan enigiets verander van die beeld materiaal nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.