Vermiste KZN-vrou se liggaam in wrak gekry

Wendy Conde (Foto: Facebook)

Nooddienswerkers het die liggaam van Wendy Conde, ʼn inwoner van Umtentweni in KwaZulu-Natal, in haar motorwrak gevind. Vloedwater oor die N2-hoofweg het haar motor vermoedelik meegesleur.

Conde het Dinsdag by haar werkplek in Shelley Beach vertrek, maar nooit by die huis aangekom nie. Haar familie het haar as vermis aangemeld.

Robert McKenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, het gesê ʼn soektog na Conde is van stapel gestuur, maar weens baie swaar reën in die gebied moes dit Dinsdagaand opgeskort word.

Volgens hom het die bestuurder van ʼn insleepvoertuig gisteroggend die motorwrak se wiele sien uitsteek en paramedici ontbied.

“Haar motor is sowat 300 m rivieraf meegesleur,” het McKenzie gesê.

Hy het gesê nooddienswerkers het Conde se liggaam in die motorwrak gekry. Sy was reeds dood.

KwaZulu-Natal het die afgelope week gesteier ná ʼn woeste storm Durban en omstreke Maandagaand getref het. Die dodetal weens vloede daar het reeds tot sowat 70 gestyg. Sowat ʼn duisend mense is dakloos gelaat.

Pres. Cyril Ramaphosa het die gebied gister besoek en onderneem om noodfondse beskikbaar te stel om inwoners ná die ramp te help.

McKenzie het intussen ʼn beroep op mense gedoen om nie kanse te waag met vloedwater nie.

“Mense besef dalk nie altyd hoe gevaarlik vloedwater is nie. Bly eerder weg. Oewerwalle kan meegee en selfs in ʼn voertuig kan jy nie behoorlik die diepte van die water skat nie.

“Die water vloei ongelooflik vinnig. Dit gáán jou meesleur. Mense probeer die water oorsteek en dis wanneer hulle in die moeilikheid beland,” het McKenzie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Mm iets nie lekke in berig nie. Vrou het Woensdag van werk vertrek maar weens swaar reen Dinsdag moes soektog op gesort word tot Woensdag oggend.
Loer gou asb

Jaco ·

Fout in berig. Woensdag vertrek by werk en soektog Dinsdag weens swaar reen of gelas

PaulV ·

Die storm het nou al baie families in rou gedompel. My innige simpatie met die vrou se naasbestaandes, asook almal deur die storm geraak.

Gesiggie ·

My innige meegevoel aan Wendy se familie, soveel mense se lewens is al geneem met die vloede…sterkte aan elkeen wat n familielid verloor het . Mag elkeen wat soveel skade lei ondersteun word deur noodfondse , dit sal nie die lewe van n geliefde terugbring of jou besittings wat jy verloor het, maar darem n bietjie vertroosting.

Dorothy ·

Dit moes angswekkend gewees het. Magteloos. Dis verskriklik. Voel so jammer vir die families. Dis amper Moedersdag en sy lyk na so dierbare ma en ouma. Sterkte!

Anja van der Merwe ·

Dagsê Lesers,

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Sy het inderdaad Dinsdag vertrek. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.