Vermiste ma en seuntjie gevind

Luschka Zeeman Taljaard en haar seuntjie (Foto: Facebook/Luschka Zeeman)

Die vermiste ma van Mpumalanga, Luschka Zeeman Taljaard (27), en haar vierjarige seuntjie is Vrydagaand by ʼn vulstasie in die Pretoriase middestad gevind.

Die presiese omstandighede rondom hul verdwyning is nog nie duidelik nie.

Morney Vos, ʼn senior ondersoeker by die private speurder Mike Bolhuis se Specialised Security Services (SSS), sê Taljaard het haar man, Coetzee, Vrydagaand gebel om te sê waar sy is.

Haar man het SSS in kennis gestel en ʼn taakspan is omstreeks 22:00 na die Sasol-vulstasie in Pretoria se middestad waar hulle die ma en kind aangetref het. Hoewel hulle fisiek ongedeerd was, was hulle baie emosioneel.

“Hulle was ontsettend getraumatiseerd en Mike [Bolhuis] het toe voorgestel dat ons hulle dadelik na die Unitas-hospitaal [in Centurion] neem vir verdere behandeling. Die gesin was ook baie verwilderd,” het Vos Saterdag aan Maroela Media gesê.

“Die vrou [Taljaard] wou gisteraand met niemand praat nie. Sy wou net haar man en pa by haar hê – dis al waarvoor sy gevra het. Ons sal reël om weer vanoggend [Saterdag] met die familie te praat, sodra hulle rustiger is.”

Volgens Vos is die gesin steeds by die hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig dat Taljaard en haar seuntjie Donderdagoggend by hul huis in Hendrina gery en daarna spoorloos verdwyn het.

Haar silwerkleurige Volkswagen Polo is om 09:52 op beeldmateriaal vasgevang en dieselfde middag verlate by die ingang van die KwaZamokuhle-township buite die dorp opgespoor. Die twee is as vermis by die polisie aangegee en ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur.

Beeldmateriaal van Luschka Taljaard se silwerkleurige Volkswagen Polo. Die voertuig is om 09:52 op video vasgevang en deur die maatskappy System Design Experts aan Mike Bolhuis se span gestuur. (Foto: Verskaf)

Vos sê die familie het later inligting van die publiek ontvang dat Taljaard en haar seuntjie in ʼn silwerkleurige dubbelkajuitbakkie geklim het. Dié gebeure kon egter nie deur beeldmateriaal gestaaf word nie, en dit is nog nie duidelik of dit wel die geval was nie.

Situasie was ‘bisar’

Bolhuis sê niemand anders was Vrydagaand saam met Taljaard en haar seuntjie by die vulstasie by die taakspan se aankoms op die toneel nie.

“Hulle was ook nie fisiek beseer of leed aangedoen nie. Daar was nie bloed of geskeurde klere nie. Niks was uit plek nie. Sy en die seuntjie was wel baie getraumatiseerd. Daar was emosionele histerie. ʼn Gegil en geskree, maar hulle wou nie kommunikeer nie.

“Dit was ook net hulle twee. Dit was nogal bisar.”

Benewens die taakspan het twee familielede van Pretoria ook na die toneel gekom om die ma en seun by te staan, terwyl Coetzee en Taljaard se pa, Dino Zeeman, van Mpumalanga af deurgery het.

Bolhuis sê ʼn volledige ondersoek sal nou gedoen word om vas te stel wat presies gebeur en aanleiding tot die hele voorval gegee het.

Die gesin sal later ook vir berading by SSS gaan.

Coetzee het Saterdagoggend aan Maroela Media gesê hy is dankbaar vir alles wat almal gedoen het om te help, en dat die gesin nou tyd nodig het om die hele voorval te verwerk.

“Ek probeer nog om die hele prentjie bymekaar te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.