Vermoorde Bfn-man was Comrades-atleet

Moeketsi Selemela (Foto: Facebook)

Moeketsi Selemela (46) wie se liggaam Sondag langs die N1-snelweg in Bloemfontein gevind is, was ʼn kranige drawwer en het aan die Comrades- en Two Oceans-marathon deelgeneem. Huldeblyke vanaf mededrawwers en vriende het sedert die naweek op sosiale media ingestroom.

Selemela was geliefd onder die atletiekgemeenskap in Bloemfontein en was deel van die Centre City Titaniums Athletics Club. Hy was die klub se woordvoerder en bemarker.

Hy is Sondag ontvoer en sy bebloede liggaam is omstreeks 13:30 in sy voertuig se agtersitplek langs die N1-snelweg gevind.

Maroela Media het vroeër berig sy vrou, Tebatso (41), het omstreeks 08:00 teruggekeer na die gesin se huis in Fichardtpark toe sy deur ʼn gewapende man oorval en in die huis gedwing is. Sy en haar twee kinders, Atleha (15) en Reya (4), is in die badkamer toegesluit. Hul hande en voete is vasgebind.

Selemela het ʼn ruk daarna by die huis opgedaag en is deur die verdagtes met ʼn vuurwapen oorrompel. Hulle het hom in sy Toyota Hilux-bakkie gedwing. Sy hande en voete is ook vasgebind en die verdagtes het ʼn plastieksak oor sy kop getrek.

Tebatso het daarin geslaag om haarself los te maak en het hulp gaan soek.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê dat die verdagtes nog op vrye voet is en dat die polisie hoop om hulle spoedig in hegtenis te neem.

Die Centre City Titaniums Athletics Club het Selemela op Facebook as hul leier, broer en vriend beskryf.

“Moeketsi het ʼn vol en inspirerende lewe gelei,” skryf die klub.

Tahleho Stahla Mohlakoana skryf dat Selemela ʼn kalm maar energieke siel gehad het.

“Dankie dat jy my oor die jare gedruk het met die draf. Ons groet jou nou. Jy het jou reis met grasie gehardloop,” sê Mohlakoana.

“My hart is waarlik beswaard. Bid asseblief saam met my dat die mense wat Selemela se lewe geneem het, hulself aan die polisie oorgee. Mag God vir hulle gewetens gee,” skryf Mokhatla Teboho.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

kaplyn ·

Strekte aan die familie. Moeketsi was ook aan my bekend en hy was ‘n goeie man. Ja en hoed sit in sy warm MINISTERS huis met sy eie GENERATOR waarvoor die belastingbetaler betaal.

Swerwer ·

Hartverskeurend. Medelye met Tebatso, kinders en familie. Mag daar dringend ‘n ingryping kom in hierdie land van ons.

SjN ·

Tragiese gebeurtenis, wettelose land, jy kan dink wat jy wil maar jy kan nie se wat jy wil nie, hoop die skuldiges word vinnig opgespoor.

Harley Davidson ·

Ek verstaan nie wanneer gaan ons in opstand kom teen hierdie doellose aanvalle en misdaad op onskuldige mense wat net in vrede hulle gesinne wil onderhou.

KatjieDeKat ·

Ag nee dis baie hartseer! My innige simpatie aan Moeketsi se geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.