Verslag kap voormalige UK-visekanselier  

Prof. Mamokgethi Phakeng (Foto: UK)

Prof. Mamokgethi Phakeng, voormalige visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK), het haarself herhaaldelik onprofessioneel gedra deur onder meer dreigemente te maak, intimidasie, etniese beledigings, persoonlike beledigings en die plasing van rasse-aanstootlike materiaal op sosiale media.

Dit is een van die bevindings van ʼn ondersoek wat deur ʼn onafhanklike regterlike ondersoekpaneel gedoen is na die leierskapskrisis by UK. Phakeng het vroeër vanjaar haar pos verlaat en met ʼn yslike pakket van R12,5 miljoen weggestap.

Daar is onder meer bevind dat Phakeng en Babalwa Ngonyama, voormalige raadsvoorsitter, saamgesweer het om van die voormalige adjunkvisekanselier, prof. Lis Lange, ontslae te raak. Ngonyama het sonder dat sy die magtiging gehad het, vir Lange op 3 Januarie 2022 uit haar amp verwyder. Sy het aan Lange gesê sy sal moet gaan weens haar swak verhouding met Phakeng.

Phakeng en Ngonyama het hierna teenstrydige en vals weergawes aan die raad en senaat verskaf oor Lange se vertrek. Dit het daartoe bygedra dat Phakeng se termyn met vyf jaar verleng is. Daar is bevind dat Lange se kontrak onwettig opgeskort is. Ngonyama het in Mei vanjaar uit die raad bedank.

Die ondersoek het onder meer bevind die raad het daarin misluk om Phakeng tot verantwoording te roep en om die nodige stappe te doen om haar kontrak op te skort ondanks die risiko’s wat haar gedrag vir UK ingehou het.

Norman Arendse SC, huidige voorsitter van die UK-raad, het gesê indien die raad destyds sy bestuursrol vervul het soos vereis, die gebeure wat ontvou het en emosionele trauma vir baie individue vermy kon word.

“Ons is spyt dat ons nie vroeër opgetree het nie en ons vra onvoorwaardelik om verskoning. Ons sal die spesifieke aanbevelings nastreef wat verband hou met diegene wat deur die UK verontreg is, soos aanbeveel deur die verslag.

“Ons is besig om regstellende stappe te doen om die universiteitsgemeenskap en die publiek se vertroue in ons as ʼn toonaangewende instelling van hoër onderwys te herstel. Daar is baie om te doen, maar ons is vasbeslote om dit reg te kry. Met betrekking tot die individue wat in die verslag geïmpliseer word, beraadslaag ons oor ʼn gepaste optrede. Dit sal gedoen word in ooreenstemming met ons beleid, prosedures en gedragskode.”

Volgens Arendse is die raad vasbeslote om die verslag as ʼn padkaart te gebruik om hom te lei na ʼn toekoms gekenmerk deur aanspreeklikheid en deursigtigheid, en ʼn hernieude verbintenis om die bestuur van die universiteit te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hannes ·

So verwoes hulle mense se toekoms en stap weg met ‘n vet pakket. Die storie sal ‘n goeie einde hê as dit lees, “Lis Lange ontvang R12M in skade vergoeding van Phakeng”

Piet Snot ·

Minstens neem hulle stappe. Universiteit Stellenbosch kan v hulle leer.

Oosieoos ·

Dis mos nou eenvoudig. Ontslaan haar en trek daai masiewe onverdiende pensioen terug. Neem ook ernstige tugstappe teen die wat hul plig versuim het

Oosieoos ·

Die regte ding om nou te doen. Ontslaan haar en trek daai masiewe onverdiende pensioen terug. Neem ook ernstige tugstappe teen die wat hul plig versuim het

Cherokee ·

2 Dinge moet jy nie vergeet nie…
1. Sy en prof Lis Lange is soos ‘n outydse foto en ‘n negatief.
2. Hierdie is die stokou maar splinternuwe Suid Afrika.

Oosieoos ·

Ontslaan haar en trek daai masiewe onverdiende pensioen terug. Neem ook ernstige tugstappe teen die wat hul plig versuim het.
Die regte ding om nou te doen.

Nici ·

So hoe werk dit? Die visekanselier gedra haarself onprofessioneel en dan word sy beloon met R12,5 miljoen? Sy behoort dit terug te betaal.

Blikke ·

Ja en in die proses stap iemand weg met n sak vol geld en n ander se Hele toekoms is verwoes!!! Skandelik!!!

Marius ·

Begin om die R 12,5 mil terug te kry , en dan begin julle weer bou.

Prikkie ·

Begin deur die R12,5 miljoen terug te kry en Prof. Lange her-aangestel te kry en leer uit julle foute.

Willem ·

Wat n klap in die gesig, net R12m. Sy is sekerlik nou spyt dat sy nie by Eskom gewerk het nie. Sy kon tenminste met R80m weggekom het as sy vir Eskom gerassis het.

TO ·

O ja die hoogste posisies, dra, proffesore, maar ja etiek ontbreek steeds

Skyspy007 ·

TIPIES van die ONOPGEVOEDE…wil liewers nie sê wat nie…..!!!!!

Staal ·

Kyk jy moet darem onthou, visekanselier is ’n baie hoë pos, selfs hoër as die van ’n dominee of selfs ’n joernalis, dis dalk so net net onder die van die liewe vader, maar nie vêr onder nie.
Intimidasie, persoonlike beledigings en dreigemente is maar net ’n paar van die vereistes wat die pos op ’n mens plaas, bedoelend dat dit nou nie juis haar intensies was nie, maar dit kom met die job en jy moet darem weet met wie jy te doen het.
Maar, soos ’n ou sê aan die einde van ’n goeie pub lunch, “nou het ek lekker geëet”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.