Verslag oor brand dui op ‘growwe nalatigheid’ – DA

Die parlementêre kompleks se sproeierstelsel is luidens ’n verslag deur die brandweerdiens in 2017 laas gediens. (Foto: Verskaf)

Die DA meen die brandweerdiens se assesseringsverslag oor die brand by die parlementsgebou in Kaapstad dui op “growwe nalatigheid”.

Volgens die party is dié verslag, wat verskeie tekortkominge uitwys, net nóg ’n spyker in die doodskis van diegene wat hulle plig om die parlementêre kompleks te beskerm, versuim het.

Die verslag het onder meer bevind dat die kompleks se sproeierstelsel nie tydens die brand in werking getree het nie omdat dit jare laas versien is en die kleppe gesluit was.

Die departement van openbare werke en infrastruktuur sê egter dat inspeksies elke jaar in aanloop tot die staatsrede (Sona) gedoen word en dat brandstelsels by die parlement op 21 Desember verlede jaar ná ’n groot kragonderbreking deur kontrakteurs nagegaan en as funksioneel bevestig is.

“Ondanks die versekering wat Dinsdag tydens ’n inligtingsessie aan die parlementslede gegee is, is dit duidelik dat daar ’n absolute pligsversuim was met betrekking tot brandveiligheid in die parlement.

“Die inligtingsessie deur Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, en die voorsitter van die nasionale raad van provinsies [Amos Masondo] was niks meer as verduistering en misleiding nie. Volgens die verslag wat deur dié departement voorgelê is, is die brandbeskermingstelsel gereeld geïnspekteer en in stand gehou.

“Die verslag het boonop onomwonde verklaar dat die brandsproeiers jaarliks ​​in stand gehou word. Die [brandweer se] verslag ná die voorval dui egter aan dat die brandsproeiers in 2017 laas versien is en dat daar geen aanduiding was dat die geskeduleerde instandhouding in Februarie 2020 gedoen is nie,” het Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur, gesê.

Skade aan die parlementsgebou. (Foto: Verskaf)

Graham-Maré meen indien inspeksies wel gedoen is, sou die probleem met die sproeierstelsel se kleppe tydig opgespoor en herstel word, en dat die departement en brandweer se verslae mekaar weerspreek.

Sy sê die departement het tydens sy voorlegging beweer dat die verslag van ’n inspeksie wat in 2021 voor die staatsrede deur die brandweerdiens gedoen is, geen ongerymdhede met toerusting uitgewys het nie. Die departement het glo ook verder aangevoer dat die brandweerdiens se vereistes “voldoende hanteer is”.

“’n Afskrif van die inspeksieverslag deur die brandweer [in 2021] beklemtoon egter ’n aantal kwessies en nie-nakoming van verskeie van die metroraad se brandregulasies. Dit sluit in swak werkende brandpanele en brandfone, asook die ontbreking van brandopsporingsverklikkers. Boonop kon die brandweer dele van die gebied weens bouwerk nie ten volle inspekteer nie. “Die skreiende teenstrydighede tussen die inligting wat Dinsdag aan die parlementslede verskaf is en die inligting wat uit die verslag ná die voorval verkry is, lyk soos ’n poging om amptenare en hoofbestuur te verontskuldig.”

Die parlement het intussen gesê die bevindinge in die brandweerdiens se verslag moet nie as afdoende beskou word nie. Formele ondersoeke deur die toepaslike wetstoepassingsowerhede duur tans voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

JM ·

Ons land is in sy maai in. Wat bly nog oor om oor positief te wees?! Wat moet nóg gebeur? Net God Alleen kan uitkoms bied – mag dit gou gebeur.

piet ·

Dan moet die departement dokumentasie voorle wat aantoon dat dit verlede jaar versien is. Op grond waarvan maak die brandweer hul bevinding dat dit nie versien was nie, op grond van ‘n kaartjie wat dit aantoon?

piet ·

Lyk asof al wat oor gebly het van die Openbare Vergadering, is ‘n ope ruimte.

casper ·

DA is totaal verkeerd —
Dit is ABSOLUTE NORMALE optredes van die totaal onbevoegde mense wat die ANC in Cadre posisies in druk.
Kyk hoe lyk al ons infrastruktuur – Alles wrakke !!

Johan ·

Hoekom die land is waar hy is, is omdat “crisis management” toegepas word en nie “preventative management” nie. Kom ons maak gou vinnig die probleem reg. ons sal more kyk na die ander probleme. Daar word nooit eers weer na die ander probleme gekyk tot so ‘n groot krisis weer opduik nie. Dan is dit oor en weer beledigings geslinger oor wie se skuld die probleem is. Hierdie land is siek!!!

Anton ·

Nie eers crisis management nie, eerste en enigste doelwit is self verryking

Bertie ·

Dit help nie hulle sê hulle het inspeksies gehou nie. Hoe is die inspeksie gehou? Seker net so rondgekyk terwyl hulle bier drink en toe gesê alles werk reg.

Hendrik ·

Nou wonder ek waarom die brandweer wil lieg en waarom die anc vir die eerste keer in 30 jr die waarheid praat.

Knormoer ·

Almal wat meer as n jaar in Suid Afrika bly weet dat niks hiervan sal kom nie. Wat het gekom van de Lille se R1 miljoen/ km draad heining? Niks.

Marius ·

Nog een van toeka se indrukwekkende landmerke is vernietig :-(

Christine ·

Dit is waaroor dit gaan, Marius – om al die westerse landmerke te vernietig. Hulle sal eerder in vuil, ellende en onwerkbare omstandighede leef.

johanf ·

Gedink dit was brandstigting…… Skande vir die waterstelsel..!

JACF ·

Nou 11 opmerkings of kommentaar rondom die fiasko van die sogenaamde brand van die parlementsgebou gelees. My beskeie mening is dat dit brandstigting mag wees.
Die kommentaar is nie juis vleiend vir die huidige regering nie. Inteendeel, mens kan jou daarvoor skaam dat kiesers so praat van hul regering.
Nie eintlik snaaks nie. Dit was voorspel maar niemand wou dit glo nie.
Kom ons vertrou die saak word deeglik ondersoek met gepaste straf vir die oortreding.

MakersMark ·

Voorkomende onderhoud is ‘n westerse konsep. Soos korrupsie.

Blomme ·

Onthou tog net Aunty Pat het nie geweet dit is deel van haar portefeulje om sulke goed na te gaan. So weet baie vd ander kaders ook nie juis wat hul portefeuljes behels nie. Foeitog. Moenie so hard wees op hulle nie.

Jr ·

Dept van OPENbare werke????? . Lyk my dis die donker dept. Gordyne toe en almal slaap nog

Lynette ·

Nee wat . Wat van securities menses.. dit is nalaatigheid

christo ·

Die ANC en ly aan die ‘Pontius Pilatus sindroom’. Die Stad Kaapstad se verslag is nie ‘afdoenend’ nie, dit stel nét die feite. As ek sou kon dobbel sal ek al my geld verwed het dat die die ‘ blame games ‘ nou gaan begin. Drie hoera’s vir Patricia de Lille se Departement van Openbare Werke. En sommer ‘n merske lot vir Bheki Cele en al die instansies verantwoordelik vir ‘ staatsveiligheid’. ‘The enemy within.’…. bra Cyril, die ‘Enemy within ‘ – begin soek na die skuldiges ín die ANC.

Niklaas ·

Onderhoud van werktye of toerusting is een vreemde begrip vir ons owerhede. Daar bestaan dalks die vrees dat dit duur uitgawes en onkostes kan beteken. Bespaar eerder.

Christine ·

Nalatigheid? Se voet!!!! Niks anders as of sabotasie en terrorisme, óf onkunde deur onkundiges wat nie weet hoe om hul werk te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.