Video: ‘Dit gaan oor meer as net matriekuitslae’

Willie Spies Dinsdag in die hof. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Dié is ʼn oorwinning vir die vrye vloei van inligting, eerder as dat die staat die sentrale mag het om inligting bekend te maak of te weerhou.

Só sê Willie Spies, die prokureur wat namens Maroela Media en AfriForum opgetree het in die saak teen die departement van onderwys sodat die media die matriekuitslae kan publiseer.

“Die fascistiese staatsideologie is een waarin die staat alle grond, alle water, alle minerale, alle hulpbronne en ook alle inligting (in dié geval die matriekuitslae) beheer en na willekeur beskikbaar stel en wegneem. Hierdie aansoek gaan dus vir my oor veel meer as net matriekuitslae in ’n koerant,” sê Spies.

“Die staat is geneig om sy houvas op inligting te probeer monopoliseer en die media en burgerlike samelewing uit te skakel by die hantering van inligting.

“Wat ons met dié saak reggekry het, was om ’n pen in die grond in te slaan en te sê: Dit is van kritieke belang dat die burgerlike samelewing erken moet word en die vrye vloei van inligting in die land waar moet word.

“Die staat alleen kan nooit hiermee vertrou word nie.”

Spies het gesê hy is dankbaar vir die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se ingesteldheid omtrent die onbestrede aansoek.

“Ek dink die minister het baie volwasse opgetree deur goeie regsadvies aan te vra en dit te eerbiedig.”

Die departement van basiese onderwys berus by die Pretoriase hooggeregshof se besluit rakende die bekendmaking van die 2021-matriekuitslae en is reeds in gesprek met mediahuise om die uitslae aan hulle te verskaf.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, sê die departement wou bloot ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) optree.

“Ons het nie [die aansoek] teengestaan nie en gaan nou voort [met die bekendmaking in die media].” Volgens Mhlanga was die departement inderwaarheid steeds gereed om met die media saam te werk sou die hof in hul guns beslis.

Dít nadat regter Anthony Millar Maroela Media, die burgerregteorganisasie AfriForum en Anlé Spies, ʼn matrikulant van die 2021-matriekklas, se aansoek Dinsdag toegestaan het. Die 2021-matriekuitslae mag dus Donderdag in die media gepubliseer word.

‘Dis ʼn oorwinning’

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, buite die hof. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het Millar se beslissing as ’n reuse-oorwinning bestempel.

Lombaard het buite die hofsaal gesê daar is besluit om die hof te nader omdat die bekendmaking van die 2021-matriekuitslae in die openbare belang is en dit vir Maroela Media belangrik is dat elke matrikulant so maklik en vinnig as moontlik toegang tot hul uitslae moet kry.

“Die publiek moet weet wat aangaan. Die matriekuitslae is vir ons ’n belangrike barometer van wat in die samelewing gebeur.

“Ons is verheug dat die hof ons gelyk gegee het in hierdie argument,” het Natasha Venter, bestuurder van onderwysregte by AfriForum, gesê. “Dit is in openbare belang dat hierdie inligting op openbare platforms gedeel word en dit is een van die redes waarom ons hierdie aansoek gebring het.”

Adv. Quintus Pelser SC het Dinsdagoggend namens die applikante in die hooggeregshof aangevoer dat die besluit om die 2021-matriekuitslae uit die openbare sfeer te hou nié by die minister berus nie.

“Daar is geen oorwegende rede dat die matriekuitslae vir die eerste keer ooit nié gepubliseer kan word nie. Dit is die kern van ons saak. Demokrasie en openheid troef alles.”

Beslissing verwelkom

“Hoewel verpersoonlikte massakommunikasie dit maklik maak om uitslae direk aan kandidate te verskaf, is daar steeds ʼn groot behoefte aan gepubliseerde uitslae,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en dié party se hoofwoordvoerder oor basiese onderwys.

Boshoff sê benewens die feit dat dit vir matrikulante en hul families belangrik is om hul eksamennommers en uitslae in die media te sien, is dit ook ʼn goeie weerspieëling van skole, distrikte en provinsies wat hard gewerk het om leerders te help om sukses te behaal.

Hy gee wel toe dat druipelinge die gepubliseerde matriekuitslae as ʼn vernedering kan beleef.

“Die vraag ontstaan of dít nie die ware rede was vir die aanvanklike besluit om uitslae nié te publiseer nie en dat die Popi-wet bloot as verskoning voorgehou is.

“Indien huiwering om matrikulante se privaatheid deur publikasie van die uitslae te skend wel die probleem was, is dit positief dat regsekerheid hieroor verkry is.”

Die uitslae sal op Vrydag, 21 Januarie op Maroela Media beskikbaar wees. Meer inligting sal binnekort bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

… en nou moet matrikulante en hul ouers op internet naslaan wat die uitslae is? So waar is die gebruiklike koerante wat nou die een na die ander gesluit word om mediahuise te pas? Dis ‘n groot grap. En mediahuise stel net belang in hul groot inkomste uit lesers wat gedwing word om te betaal vir ‘n brokkie van hul taal op ‘n duur tablet/foon? Niemand kan meer spel nie en armer gesinne sien g’n woord/foto van die nuus nie. En so speel Afrikaners saam om hul taal en kultuur te vernietig. Koop vandag gerus ‘n Ingelse koerant, boet, want môre swoeg jy vir ‘n ‘sweet, sweet’ Engelse RET-baas.

Gerra ·

Geluk julle! Na regte moet die ander mediahuise geen uitslae ontvang.

Jaco ·

Dis seker baie edel van Afriforum om by dié saak betrokke te wees, maar 1 ding pla my wel:

Wat van sake van ons eie mense? Afriforum het nou wel die saak gewen en kry al die verering en “limelight”, maar nou is hulle geld ook minder. Wat nou van die talle sake waar regstellende aksie en BEE en ander vorms van diskriminasie en rassisme ons eie mense al hoe meer benadeel.

Vergeet nou eers die prestige en die “limelight” en konsentreer NET op dit wat ons eie mense regtig raak. Betrokkenheid by ‘n saak wat gaan oor die plasing van uitslae van ‘n baie lae standaard eksamen se uitslae in koerante EENMAAL per jaar, help ons eie mense wat ELKE DAG reeds so swaarkry absoluut niks.
Hoeveel van die leerders is nou ook van Afriforum se belangegroep? Seker 5-8%. Lawyers for Human Rights sou dié saak net so goed soos Afriforum hanteer het.

SomeOne ·

“dat druipelinge die gepubliseerde matriekuitslae as ʼn vernedering kan beleef.”
kan hul dalk ook net aanspoor om beter te doen

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Wat presies is in die “open-bare belang” dat leerlinge wat gedruip het se name ook gepubliseer word?

Waarom is dit nie ook in die “openbare belang” dat alle mense se belasbare inkomstes ook gepubliseer word nie?

Die Departement van Basiese Onderwys kan mos steeds gedwing word om data te publiseer sodat die publiek in die “openbare belang” kan vasstel waar die knelpunte in die onderwys lê.

Ek reken hierdie hofbeslissing verwring die beginsel van die individu se regte teenoor die groepregte onder die dekmantel van “openbare belang”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.