Video: Duisende noodbokse vir boere gepak

Ronald Peters en Dewet Üngerer van AfriForum help om bokse in te dra. (Foto: Verskaf.)

AfriForum se hoofkantoor in Centurion is dié week ʼn miernes van bedrywighede terwyl duisende bokse met noodvoorraad vir boere verwerk en opgepak is vir versending na die Wes-Vrystaat en omliggende dele.

Die burgerregte-organisasie het die Boks vir ʼn Boer-projek van stapel gestuur met bokse vol niebederfbare kos en ander items wat aan boere geskenk word wat in sommige gevalle alles in wegholbrande verloor het. Die bokse het kophoogte opgestapel in AfriForum se kantore gestaan en buite was daar nog ʼn markiestent en drie gazebo’s vol bokse met skenkings. Talle van die bokse is sorgvuldig deur skenkers gepak met persoonlike en bemoedigende boodskappe aan die boere en hulle gesinne.

Boere in die Wes-Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes het enorme skade en veeverliese gely ná verwoestende brande vroeër in Oktober daar gewoed het. Na raming is sowat 130 000 ha weiding in die brand verwoes, terwyl duisende stuks vee en wild ook in die brande dood is, of van kant gemaak moes word.

Sedert die ramp die boeregemeenskap getref het, het hulp van oor die land begin instroom.

“Dit is net ongelooflik om te sien hoe die gemeenskap in Suid-Afrika hulle hande en harte oopgemaak het vir die gemeenskap van Hertzogville-omgewing waar die brande plaasgevind het,” het Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, gesê.

ʼn Mens kan sien die bokse is met liefde verpak en bevat dikwels voorrade van mense wat dit reeds self nie breed het nie, het Kruger gesê.

“Tog is dit vir ons ʼn bewys van die krag van ʼn gemeenskap wat saamstaan. Dit beteken daar is hoop vir die gemeenskap en Suid-Afrika, maak nie saak wat gebeur nie.”

AfriForum en Saai kyk tans ook hoe daar saam met ander landbou-organisasies saamgewerk kan word om die boere te help met die opbouproses ná die brande. “Ons neem ook Vrydag reeds brandbestrydingstoerusting na die gemeenskap wat reeds in hierdie brandseisoen al kan help om ʼn verskil te maak.”

Andrea van Wyk en Chanté Kelder help om noodbokse te sorteer. (Foto: Verskaf.)

Terwyl die boere ontsettend dankbaar is oor dié hulp, is die nood egter op ander vlakke steeds groot. Hulle het brandstof nodig vir brandbestryders en vir hulle bakkies waarmee lang afstande tussen dorpe afgelê moet word om brande te blus. Boere moet nou infrastruktuur soos lyndrade, heinings, windpompe, watertenks, waterpype en voerbakke vervang wat ook vernietig is. Die boere moet ook veeartse inkry en medikasie aankoop om te help met behandeling van diere wat oorleef het.

Daarvoor is geldelike hulp nodig in die vorm van skenkings.

AfriForum en ander instansies, naamlik Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, Saai, TLU Noordwes en Boere in Nood, het reeds ver oor ’n miljoen rand ingesamel. Elke sent van dié geld sal vir die boere in nood aangewend word deur ’n gekoördineerde proses. Jacaranda FM se Good Morning Angels het in samewerking met Bakkies Botha meer as R3 miljoen ingesamel.

Honderde ton voer is ook reeds gestuur of in die proses om afgelewer te word. Boere is ontsettend dankbaar vir die onmiddellike hulp. Die werklikheid is egter dat die nood nog maande gaan duur aangesien dit ’n tyd sal neem vir die veld om te herstel nadat dit gereën het.

Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, sê die skade is onbeskryflik. “Maande lange nood lê nog voor. Ons boere gaan ons nog vir lank baie nodig hê. Ons wil vir elke instansie en individu dankie sê wat tot dusver gehelp het om ’n verskil te maak en die nood te help verlig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lynette ·

Ek is een van die wat geseënd genoeg was Om twee Bokse te Kan Pak.

Zombie ·

Ek wonder wat die motief is, om die seëninge hier te noem.

Vlooitjie ·

Baie dankie vir almal se bydraes, ons kan as mense saamstaan en mekaar help. My hart pyn vir waardeer ons boere gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.