Video: Groot kommer oor sprinkane in Noord-Kaap

Bruinsprinkane op ’n plaas in Aggeneys tussen Pofadder en Springbok in die Noord-Kaap in November 2021. (Foto: Verskaf / Departement van landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling)

Daar heers tans groot kommer oor die moontlikheid van ’n reuse-bruinsprinkaanuitbreking na afloop van die onlangse reën in die Noord-Kaap.

Maroela Media het vroeër berig dat dele van dié provinsie sedert September onder ’n sprinkaanplaag gebuk gaan wat boere se gewasse en weiding teiken.

Die departement van landbou, omgewingsake, grondhervorming en ontwikkeling, sê hy neem kennis van onlangse meldings oor die oplewing van dié plaag in verskeie dorpe.

Die sprinkane is boonop nou in die vliegstadium, wat dit moeiliker maak om hulle te beheer.

“Die swerm is ook in die binnelandse dele van die provinsie opgemerk soos Upington, Kakamas, Keimoes, Sutherland en Colesberg. Tot dusver is die uitbreking hanteerbaar, met ʼn paar gevalle waar vlieënde sprinkane sommige huishoudings binnegeval het.

“Al kon die departement die swerm beheer, is daar met die onlangse reën wat ons ontvang het ’n groot moontlikheid van ’n reuse-uitbreking. Daar is boonop reeds melding van nuwe swerms in Springbok, Askham, Bladgrond, Colesberg en Sutherland,” sê Zandisile Luphala, woordvoerder van die departement.

Sy sê die groot uitdaging met vlieënde bruinsprinkane is dat hulle in ʼn baie kort tyd van een gebied na ʼn ander kan beweeg, afhangende van die beskikbare weiding en plantegroei. Dit maak dit uiteraard moeiliker om die plaag te beheer.

Mase Manopole, Noord-Kaapse LUR vir landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het reeds in November gewaarsku dat die plaag groot skade kan aanrig indien daar nie gou gespring word om dit te bekamp nie.

Sy doen nou opnuut ʼn beroep op plaaseienaars om plaagbeheerders toegang tot hul plase te gee.

Manopole het ook ʼn beroep op motoriste gedoen om versigtig te bestuur aangesien die vlieënde sprinkane sig op paaie kan belemmer.

“Ek wil graag ons amptenare, beheerders, boere en verskeie ander belanghebbendes bedank vir hul volgehoue ​​ondersteuning om die verspreiding te bekamp. Sonder hul bydrae sal ons voedselsekerheid in gedrang wees.

“Ek wil ook ons gemeenskappe bedank wat ons voortdurend oor nuwe uitbrekings in hul onderskeie gebiede inlig. Saam sal ons die plaag kan oorwin.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Laat mens aan die ANC gedink. Saai net verwoesting en vernietig alles in hul pad

Marius ·

Die departement neem kennis? Staan op en doen iets !!! Dalk help dit.

Terry ·

Ek is nie n kenner nie, maar my verstand se vir my die sprinkane kan net met vliegtuie bestrei word. Groot oppervlaktes verg groot aksies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.