Chaos het Vrydagaand by die News Café-restaurant in Rosebank losgebars toe ʼn man met sy voertuig in die kuierplek probeer injaag het.
In ʼn video van die voorval kan gesien word hoe die motorbestuurder met die voertuig in die buitenste sitgedeelte van die restaurant inry. Dan ry hy agteruit en ry weer tot binne-in die restaurant. Die bestuurder ry dan weer agteruit. Dit lyk dan of hy probeer wegjaag voordat hy teen nog ʼn geparkeerde voertuig bots.
Die man se eksvriendin was glo in die restaurant, maar wou nie met hom praat nie.
Die restaurant wou Maandag geen kommentaar oor die voorval lewer nie. News Café het egter in ʼn verklaring op Twitter gesê die restaurant was die toneel van ʼn “betreurenswaardige voorval”.
The Management District is aware of the unfortunate incident that took place at Newscafe last night and our reaction officers were available to assist despite one of our vehicles being damaged in the process. The matters is now in the hands of law enforcement #Rosebank pic.twitter.com/eXbGrIyZjg
— Rosebank (@RosebankJoburg) April 24, 2021
Luidens die verklaring het iemand wat nie ʼn klant was nie die restaurant ingeloop en klante beledig, vyandig opgetree en mense geïntimideer.
“Veiligheidsbeamptes het die persoon verwyder, maar hy het later teruggekeer en in ʼn woedebui probeer om met sy voertuig in die plek in te ry. Voertuie, meubels en die gebou is beskadig,” lui die verklaring.
Die polisie het die man kort daarna in hegtenis geneem.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het luidens berigte gesê die man word aangekla van roekelose en nalatige bestuur, asook bestuur onder die invloed van alkohol.
Hy sou na verwagting vandag in die Hillbrow-landdroshof verskyn.
News Café het die span wat die man aangekeer het, asook almal wat ingegryp het om te help, daarvoor bedank.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Haai nee on SA’s moet bietjie grootword!!
Wat is fout met onse mense….genade
Nog een wat help om te verwoes.
Liewe genade! Wat word van ons land?
Die arme man se hongerpyne nadat hy die luukse voertuig se paaiement betaal het, het hom seker desperaat na die geur van kos gelei?