[Video] Man stormloop selfoondief in Jhb-winkelsentrum

Jacques Erasmus. Foto: Facebook

Jacques Erasmus. Foto: Facebook

Jacques Erasmus (37) het oornag ʼn internetsensasie geword nadat hy die naweek ʼn vermeende selfoondief in ʼn gewilde winkelsentrum in Johannesburg platgetrek het.

Toe die verdagte Saterdag omstreeks 12:45 op Foschini in die Northgate-winkelsentrum toegeslaan het en homself glo met drie Samsung-selfone uit die voete gemaak het, het hy min geweet hy gaan hom in ʼn erg gefrustreerde Erasmus, ʼn inwoner van Robindale in Randburg, se skouer vashardloop.

Erasmus het Woensdag aan Maroela Media gesê swak diens wat hy van sy selfoondiensverskaffer ontvang het, het die frustrasie laat opbou.

“My selfoon is Donderdagaand gesteel en ek het sedert Vrydag gesukkel om ʼn my simkaart te vervang. Ek is ʼn industriële ontwerper, moet baie rondry en is afhanklik van my foon,” het Erasmus gesê.

Hy is Vrydagoggend vroeg na die diensverskaffer se tak in die Cresta-winkelsentrum. Ná ʼn lang relaas was hy teen Saterdag steeds sonder sein en het toe besluit om na die tak in Northgate te gaan.

“Ek het nog so rondgeloop en soek na die winkel toe ek ewe skielik mense hoor skreeu het. Ek kon nie regtig mooi sien nie en kort daarna storm ʼn man op my af. Dit was net ʼn natuurlike reaksie en ek het ingegaan en hom getackle. Dit was ʼn lekker manier om van my frustrasies ontslae te raak,” het Erasmus geskerts.

Erasmus het in sy hoërskooljare aan Hoërskool Randburg in gr. 11 en matriek vir die skool se tweede rugbyspan uitgedraf. Hy het nie weer daarna rugby gespeel nie maar fiks gebly en onder meer fiets gery totdat hy sowat ʼn jaar gelede nekprobleme begin ontwikkel het.

Hy moes sowat twee maande gelede ʼn nekoperasie ondergaan, maar het gelukkig nie sy nek in Saterdag se duikslag seergemaak nie.

“Nadat my nek begin probleme gee het, is ek nie meer so aktief soos altyd nie. Ek werk, eet en slaap net. Ek trek lekker voordeel uit die situasie,” skerts hy verder.

Erasmus het gesê die sentrum se veiligheidsbeamptes was kort ná die raakvat op die toneel en het die verdagte wegbegelei. Hy is na Foschini en is meegedeel dat niemand daar tydens die voorval seergekry het nie.

ʼn Personeellid van die winkelgroep het hom Dinsdag gebel en bedank vir sy optrede en gesê hulle gaan vir hom geskenkbewyse gee. “Dit gaan egter nie vir my oor belonings nie. Daar is so baie gevaarlike rooftogte by winkelsentrums deesdae. My instink het net ingetree. Ek is net bly dit was nie erger, soos die onlangse skietery by Clearwater Mall, nie,” het hy nederig gesê.

Rugby 15 se Facebook-groep dink egter nie Erasmus moet so beskeie wees nie. Die blad het Erasmus se video, kringtelevisiebeeldmateriaal wat hy ná die tyd met sy selfoon afgeneem en op YouTube gedeel het, geplaas en gesê die man verdien kaartjies vir die Wêreldbekertoernooi.

Benewens ʼn hele paar gelukwense, waaronder ʼn Bells-beloning, skerts ander kommentators egter dat hy sonder sy arms met sy skouers ingegaan het, en dus ʼn rooi kaart verdien.

https://youtu.be/XTrgzswEd-E

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Landie ·

Goeie werk en ons is baie dankbaar dat jy nie ernstig seergekry het nie. Die barbare loop mos deesdae met alle onwettige wapens oop en bloot op straat rond!! Terwyl ons soos gevangenes moet lewe in ons eie huise, strate, winkelsentrums en land!! Ek sê “Gee hom daai Wereldbeker kaartjies!!”

Mientjie v Zyl ·

Fantasties!!! Give that man a Bells!!! Ons het meer van die Eramusse nodig. Dankbaar jyt nie seergekry nie! Wel gedaan!!! Dit is mos nou “Trots Afrikaans” !!!

George ·

Mooi man ons is baie trots op jou en wens almal in suid afrika wil so reageer om te se dis verkeerd om te steel .
Ek hoop hulle gee jou n botel “bells “

SNEL ·

As ek nou iemand in sy spore stop gaan ek sê ek het n Erasmus op hom getrek. Ai, daai tackle het lekker gelyk en so vinnig gebeur, hy het nie geweet wat hom tref nie. Goed gedoen!! Wonderlik om te sien iemand spring nie uit die pad uit nie, maar pak die bul by die horings. Moet sê, net bly dit het sonder skote afgeloop.

Winston ·

Knap man. Puik. Gee hom n Bells ja! En net n geel kaart. Net biki rus en dinktyd kry. Bly jy is nie met n mes of wapen aangeval nie.

weskaper ·

Stuur sy naam vir Heinke Meyer, man wat so kan duik kan vir die springbokke iets beteken

Miemie ·

Hy kan nie vir die Bokke gaan speel nie…… hy is wit. Jy dan nie gehoor daar is nou genoeg wit in die span nie, teveel eintlik, Anders sou hy ‘n perfekte speler wees.

Christie Joubert ·

Dis die mooiste rugby wat ek in n laaaang tyd gekyk het. Bells vir daai man!!!

Francois ·

Rassie jou yster vat vyf man!!miskien moet die Bokke ook selfoonprobleme ervaar voor hulle die kwarteindrondte(ek hoop!) takel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.