Video: Sussie die helde-hond veilig tuis

Kayla Muller (18) by haar hondjie, Sussie, wat Vrydag teruggevind is. (Foto: Verskaf)

Van heinde en ver was daar boodskappe van bemoediging, gebede, aanbiedinge om te help. Daar was plakkate en uitgebreide soektogte na dié heldhaftige brakkie wat haar eienaar só getrou teen huisrowers beskerm het.

En nou is Sussie tuis. En veilig. En hopeloos uit haar vel van vreugde.

Trane van blydskap het Vrydag vrylik gevloei toe Sussie, die vermiste langhaar- Jack Russell-terriër, ná meer as ʼn week veilig tussen bosse naby die Vaal-winkelsentrum in Vanderbijlpark opgespoor is.

Elvin Muller by sy hond, Sussie, kort nadat sy Vrydag opgespoor is. (Foto: Verskaf)

Lede van die gemeenskap het gou ʼn sirkel om die dapper hondjie gevorm sodat sy nie weer weghardloop nie terwyl haar oubaas, Elvin Muller, geduldig op sy knieë gewag het totdat ʼn vuil, bang Sussie uiteindelik tot in sy arms “gekruiploop” het.

Sussie het verlede Maandag spoorloos verdwyn nadat sy haar eienaar, Kayla Muller (18), teen drie gewapende rowers beskerm het. Die voorval het plaasgevind toe Kayla, ʼn matriekleerder van Hoërskool Transvalia, ná haar wiskundevraestel by die huis gekom het en deur drie gewapende mans oorval is. Die gesin se honde, Sussie en Bumper, albei Jack Russell-terriërs, het tussen Kayla en die aanvallers ingespring en die boewe die skrik op die lyf gejaag.

Die hondjie het daarna agter die rowers se wegkommotor aangehardloop en spoorloos verdwyn. Die grootskaalse soektog na haar het sedertdien voortgegaan.

‘n Opgewonde Sussie hardloop sirkels op die grasperk by haar huis nadat sy gevind is. (Foto: Verskaf)

Kayla se ousus, Lianca (24), was Vrydag by toe hul geliefde hondjie gevind is en het aan Maroela Media gesê dat almal skoon in trane was.

Sy verduidelik dat ʼn werker van mense wat verlede week by die soektog na Sussie betrokke geraak het, haar Vrydagoggend gewaar en sy werkgewers gebel het.

“Hulle het my pa dadelik gebel en laat weet dat hulle Sussie gesien het. My pa werk in Vereeniging en het my toe gebel. Ek is tans by die huis omdat ek van Johannesburg af gekom het om na Sussie te help soek, so ek het dadelik soontoe gery.

“ʼn Paar mense wat deel was van die soektog het toe reeds in ʼn sirkel om Sussie gestaan sodat sy nie weer wegkom nie. Ek het haar gesien en dadelik gaan sit in ʼn poging om haar vertroue te wen. Sy was maar baie skrikkerig. My pa het daar aangekom en ook dadelik op sy knieë neergesak. Ná so vyf of tien minute het sy na hom toe gegaan.”

Lianca sê almal was in trane – dié keer “trane van blydskap en nie van frustrasie en hartseer nie”.

‘n Opgewonde Sussie hardloop sirkels op die grasperk by haar huis nadat sy gevind is. (Foto: Verskaf)

“Ons is almal so bly. Dit was ʼn baie frustrerende week en dit was moeilik om heeltyd moed te hou.

“Sy was baie vuil, maar ons het haar gebad en sy het ʼn lekker stuk steak uit my hand geëet.

“Sy is vol bosluise en ons gaan haar nou-nou veearts toe vat sodat hulle kan kyk dat alles oukei is. Dan gaan ek Woolies toe ry en vir haar die heel duurste steak koop,” het ʼn emosionele Lianca gesê – met Sussie se geblaf wat in die agtergrond weerklink.

Sy sê Sussie is net so bly soos hulle dat sy weer tuis is.

“Sy het dadelik na haar boetie, Bumper, toe gehardloop en jaag al klaar naaldekokers om die swembad.”

Lianca sê Sussie het ook van pure blydskap esse op die grasperk gegooi en uitbundig rondgehardloop.

Sy benadruk dat Sussie se veilige terugkeer egter nooit sonder die hulp en ondersteuning van die Vanderbijlpark-gemeenskap moontlik sou wees nie.

“So baie mense het ons gehelp – mense wat ons van gʼn kant af ken nie. Dis net wonderlik. Ons is so dankbaar teenoor die mense van Vanderbijlpark. Mense het regtig saam met ons gestaan – dit is net die beste gevoel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Elma ·

Nou grens ek ook sommer oor die dappier hondjie. So bly sys veilig by haar huis. Diere is wonderlike wesens.

TO ·

Hoe tjank ek nou ook sommer van pure vreugde. Welkom terug sussie, ek glo Jesus se hand van beskerming het jou bewaar

Suzette ·

Wonderlikke nuus so op die Vrydag. Dankie Here vir die pragtige viervoet se veilige terug keer en n medalje vir ALMAL wat by die soektog betrokke was. Skep sommer weer moed vir ons volk se onbaatsugtigheid en die Here se getrouheid.

Wit Leeu ·

Hoe lekker huil ek nou van blydskap ! Dankie die Here hiervoor ! Beste nuus in ‘n baie lang tyd !!!

Lettie ·

Ook verheug dat Sussie veilig tuis is. Sy is ‘n ster. Pas haar mooi op en veilig wees julle.

Delia ·

Sulke goeie nuus op die Vrydag. Laat haar sommer chip as dit nie al gedoen is nie. Mooi naweek vir julle.

Juanita ·

Dit is die beste nuus om die week mee af te sluit! Ek snik letterlik soos ek huil :-) So bly sy is gevind :-)

Bolandse Nooi ·

@Gretha, Delia & Oom Charles. Ek kan mooi sien waarheen Latie mik. Dit is a.g.v. die ANC se onbeholpenheid wat dit grensbeheer, toegang tot die land en die voorkoming van misdaad betref, dat Sussie weggehardloop het. Dit is omdat die ANC se “mense” (met oorsigtigheid gesê) misdaad wou pleeg deur ‘n arme, onskuldige skool leerder en haar Ouma en hulle huishouding te beroof dat Sussie en Bumper heldhaftig moes wees en die dogter en tannie teen “rowers” moes beskerm. Dís waar “politiek” inkom …

Sonblom ·

Ai die trane loop nou. Ek is so bly die hondjie is gevind en dat Sussie nou weer lekker kan baljaar by haar huis. En dis wonderlik om te sien hoe gemeenskappe nog kan saam staan.

Nettie ·

Ai, dis goeie nuus. Ek het so gebid dat sy veilig terug sal keer na haar huis en mense. Dankie aan ons Vader. En aan al die vrywilligers, julle was engele!

Tink ·

Harseer,maar n baie goeie einde,so bly sy is veilig by die huis en amal wat na haar help soek het,die Here seen julle amal

Mariska ·

Ek is so vreeslik baie bly die hondjie is veilig in julle arms! So bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.