Video: Welkom! Dié gebou is amptelik gidshond-vriendelik

(Foto: Maroela Media)

Elke hond kry sy dag… En Woensdag is die dag wat wêreldwyd gegun word vir dié hondehelde wat hul lewe wy om mense met gestremdhede te begelei.

Internasionale Gidshonddag word vandag vir die 35ste keer gevier en het ten doel om bewustheid te kweek oor die noodsaaklike rol wat hierdie ondersteuningshonde speel om mense met swak sig, outisme of ander uitdagings te bemagtig om ʼn onafhanklike lewe te lei.

Die spesiale dag word jaarliks op die laaste Woensdag in April gevier en is ʼn gulde geleentheid om die onskatbare bydraes van gidshonde wêreldwyd te vier.

Solidariteit het die afgelope week hard gewerk om hierdie mylpaal te bereik en vandeesweek is die organisasie se kantoor amptelik “gidshond-vriendelik” verklaar.

(Foto: Maroela Media)

Talle stertswaaiende honde en hul eienaars, asook die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (SAGV), is vandeesweek hartlik by die kantoor verwelkom.

Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese netwerke, sê dit is vir die organisasie ʼn besonder spesiale geleentheid.

“Ons stap nou al ʼn lang pad saam met die SAGV en deur Solidariteit vandag amptelik gidshond-vriendelik te verklaar, wil ons benadruk dat mense met gestremdhede ook ʼn belangrike bydrae tot die samelewing kan maak as hulle die welverdiende geleenthede gegun word.

“Hiermee wil ons graag ook ander ondernemings nooi om by die SAGV betrokke te raak en hul ondernemings oop te stel vir mense met gestremdhede en hul vierpoot vriende wat hulle deur alles bystaan.”

Maroela Media het in Oktober verlede jaar berig oor ʼn ervaring waar diegene sonder enige ongeskikthede die geleentheid kon kry om te beleef hoe dit voel om ʼn gidshond met jou veiligheid te vertrou. Die deelnemers is geblinddoek en het ervaar hoe dit voel om vol vertroue een voet voor die ander te sit terwyl ʼn gidshond hul lei.

Die SAGV verskaf jaarliks nagenoeg 50 gidshonde, dienshonde en outisme-ondersteuningshonde aan mense wat visuele, fisieke of ontwikkelingsbehoeftes het. Die organisasie stel ook honderde mense met gestremdhede in staat om ʼn mate van onafhanklik te verkry.

Pieter van Niekerk, hoof van openbare betrekkinge by die SAGV, sê die organisasie verskaf al vir die afgelope 70 jaar dienste aan mense met visuele, fisiese of ontwikkelingsbehoeftes deur gidshonde, dienshonde en outisme-ondersteuningshonde op te lei en aan behoeftiges te verskaf.

“Ons wil graag sien hoe hierdie mense aan wie ons die honde verskaf, vrye toegang het om te gaan waar hulle wil.

“Solidariteit wat sy hoofkantoor en fasiliteite amptelik gidshond-vriendelik verklaar het, is vir ons ʼn reusesuksesstorie.

“Ons is regtig baie dankbaar dat hierdie organisasie besluit het om met ons hande te vat en aan soveel individue die geleentheid te gee om tot ʼn mate ʼn normale lewe te lei.”

Van Niekerk sê die organisasie is geweldig trots op die groot stap wat Solidariteit ter ondersteuning van die gidshondvereniging geneem het.

“Deur die voorbeeld te stel van ʼn perseel wat vriendelik teenoor ondersteuningshonde is, is vir ons ʼn groot eer en ons hoop dat talle ander ondernemings in Solidariteit se voetspore sal volg.”

Tanya Schonwald, hoof van strategiese verhoudinge by die SAGV (Foto: Maroela Media)

Tanya Schonwald, hoof van strategiese verhoudinge by die SAGV, het aan Maroela Media gesê om ʼn gidshond op te lei behels ʼn uiters wetenskaplike proses.

“Ek dink baie mense besef nie hoe lank dit ons neem om hierdie honde op te lei nie.”

Om te verseker dat die honde reg en verantwoordelik geteel word, het die SAGV hande gevat met die Universiteit van Pretoria (UP) se Onderstepoortkampus. Spesifieke genetiese kenmerke van labrador- en goue-apporteerhonde word geïdentifiseer waarna die honde kunsmatig geïnsemineer word. Hierna keer hulle terug na die kampus waar hulle geboorte gee.

“Ons begin dan so te sê van geboorte met die opleiding van hierdie honde. Dit neem ons 24 maande om die proses te voltooi.”

Schonwald sê dit kos die organisasie tussen R350 000 en R500 000 per hond voordat die spesiale metgesel aan iemand toevertrou word. Die organisasie vra egter net ʼn klein bedrag (tussen R5 en R205) vir diegene wat ʼn gidshond benodig maar dit reeds nie breed het nie. R200 word ook betaal vir opleiding en toerusting.

Die SAGV is ʼn organisasie sonder winsbejag en ontvang verskeie borgskappe wat help om dié diens so te sê gratis te lewer.

(Foto: Maroela Media)

(Foto: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bugsby ·

Wonderlike nuus, maar so kan nense met Major Depressie en Angs nogsteeds nie hulle Emotional Care Dog saamvat waar hulle dit die meeste nodig het nie, tussen baie mense, winkels ens. Depressie word nogsteeds wyd nie as ‘n gestremdgeid gesien nie, want dit is onsigbaar, maar gló my dit is ‘n realiteit. Komaan Solidariteit beywer julle self asseblief vir die ergste onsigbare siekte lyers, hulle het hulle hondjies naby hulle nodig om hulle dag tot dag take te kan hanteer.

popsa ·

Fantasties! Wat ‘n lieflike span – telers, opleiers, versorgers, gestremde eienaars, pragtige, liefdevolle gidshonde en dan die persele wat gidshondvriendelik verklaar word. ‘n Veer in die hoed vir ieder en elk!

Bolandse Nooi ·

@Bugsby … depressie is ‘n geestestoestand, nie ‘n fisieke gestremdheid nie. Gidshonde is diere wat opgelei word om siggestremde, liggaamsgestremde en multigestremde mense te help om te kom en gaan. Hoewel depressie en ander gemoedsversteurings die nodige aandag en empatie moet geniet, kan daar nie voorsiening gemaak word vir ieder en elk wat nie die uitdagings van die lewe kan aanpak en funksioneer sonder ‘n geselskapsdier of emosionele ondersteuningsdier nie, want hoe onderskei mens?

Gidshonde en honde wat vir mediese-toestand identifikasie of -waarskuwing gebruik word, word spesiaal opgelei om bv. nie sommer net hul “besigheid” orals te doen nie. Hoe – dink jy – sal dit lyk as ieder en elke mens wat ‘n geselskaps- of emosionele ondersteuningdier het, orals heen gaan met hul diere?

trotsNAMSA ·

Dankie Solariteit ! My hart is so gelukkig. Persone wat met angs gediagnoseer is, kan met hul opgeleide diens hond ronbeweeg. Honde kind moet sy/haar “baadjie” aan hê wat haar/hom identifiseer as ‘n diens hond.

Trinity ·

Baie dankie Solidariteit – ek wens net meer “geboue” wil dit doen.

Net omdat depressie en angs nie “opsigtelik” is nie, beteken dit nie dat dit nie fisies kan raak nie. ‘n Mens moet mooi dink voor stellings gemaak word, as jy nie ten volle ingelig is of self deur die toestand gaan nie.

Soos reeds genoem, as die dier sy of haar “diensbaadjie” aan het, kan almal gaan bars – die dier kan toegelaat word, behalwe as jy natuurlik wil diskrimineer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.