Vier dood ná polisie rooftog fnuik

Vier verdagtes is doodgeskiet en daar is op vuurwapens beslag gelê nadat die polisie ’n transitorooftog in Soweto gefnuik het.

’n Intelligensie-gedrewe multidissiplinêre span bestaande uit lede van misdaadintelligensie en die nasionale ingrypingseenheid het omstreeks 14:30 Donderdagmiddag op inligting oor ’n beplande aanval op ’n geldwa gereageer.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het beamptes twee verdagte motors opgemerk wat agter die geldwa by ’n vulstasie in Bram Fischerville ingery het.

“Toe die verdagtes in die twee motors die polisiebeamptes opgemerk het, het hulle op die vlug probeer slaan en ’n hoëspoed-jaagtog het gevolg. Die beamptes het die verdagtes tot by ’n onbekende adres in die omgewing gevolg waar ’n skietery uitgebreek het.”

Altesaam vier verdagtes is doodgeskiet terwyl die ander daarin kon slaag om te vlug. Daar is op twee gewere en ’n pistool beslag gelê. Volgens Mathe sal ondersoek ingestel word oor of die verdagtes moontlik verbind kan word aan ’n vlaag gewelddadige misdade, insluitend verskeie transitorooftogte, die afgelope tyd in Gauteng.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die span se waaksaamheid geloof en gesê ’n 72-uur-aksieplan is in werking gestel om die oorblywende verdagtes vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.