VN hoor van minderhede in SA se uitdagings 

Tammy Breedt (Foto: Verskaf10

Die VF Plus het die afgelope naweek die geleentheid gekry om die internasionale gemeenskap opnuut in te lig oor die uitdagings wat die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika ervaar.

Tammy Breedt, VF Plus-LP, het ʼn algemene vergadering van die presidensie van Unpo, die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir minderheidsgroepe se regte, in Barcelona, Spanje, bygewoon.

Die geleentheid is gebruik om te praat oor die talryke algemene probleme wat minderhede raak, onder meer dienslewering, het Breedt gesê.

“Die boodskap is sterk oorgebring dat die ANC-regering besig is om Suid-Afrika in ʼn mislukte staat te omskep waar veral die regte van minderhede geskend word.”

Breedt het tydens haar spreekbeurt ook gesê ernstige uitdagings staar minderhede in Suid-Afrika in die gesig wat tot nadeel van almal in die land sal strek indien daar nie vinnig oplossings gevind word nie.

Bykans dertig jaar ná die oorgang na ʼn nuwe bedeling, ondervind die land soveel probleme dat daar nie meer sprake kan wees van die “reënboognasie” wat op die wêreld se lippe was nie, het sy gesê.

Rasgegronde beleid en wetgewing teiken alle minderhede en die regering is deurlopend besig om dit uit te brei en te verskerp.

Breedt het verwys na president Cyril Ramaphosa wat onlangs die Wysigingswet op Billike Indiensneming onderteken het.

“Dit gee selfs groter magte aan die minister van arbeid om verdere kwotas eensydig op die private sektor af te dwing.

“In die proses speel meriete en bevoegdheid geen rol nie, slegs kleur. Dit lei ook daartoe dat geen werklike vaardigheidsoordrag en -ontwikkeling in die arbeidsmag plaasvind nie. Ook dit benadeel uiteindelik almal in die land.”

Die werkloosheidsyfer is buitensporig en ’n rekord-hoë 48% van die bevolking is hoofsaaklik aangewese op staatstoelaes om te oorleef, het Breedt gesê.

“Dienslewering het feitlik tot ʼn stilstand gekom. Daar is landwye beurtkrag en -water en riool vloei in strate wat deurspek is van slaggate. Dit is die realiteit van die Suid-Afrika waarin mense ʼn bestaan moet probeer maak.

“Misdaad is buite beheer en die kans is sowat 40% dat elke Suid-Afrikaanse vrou in haar leeftyd verkrag gaan word. Slegs een uit nege verkragtingsake word aangemeld en in slegs 14% van alle moordsake is ʼn suksesvolle vervolging.

“Die polisiemag is deurtrek van korrupsie en polisielede is in baie gevalle by misdaadsindikate betrokke.”

Wat die Afrikaner betref, is sy kulturele simbole en monumente onder beleg, het Breedt aangevoer. “Daar is nie meer plek in openbare biblioteke vir geskrifte oor die Afrikaner se kultuur en geskiedenis nie.

“Haatspraak raak ʼn algemene verskynsel, selfs in die parlement, en dit dra gewoonlik geen gevolge nie.

“Daar is wel uitsonderings op al hierdie vergrype soos die Menseregtekommissie (MRK) se uitspraak teen die Universiteit Stellenbosch (US) oor die vertrapping van Afrikaans ná ʼn klag van die VF Plus.

“Al was dit ʼn geringe oorwinning, is dit belangrik aangesien dit wys dat minderhede nie hul lot gelate moet aanvaar nie, maar met alles tot hul beskikking moet veg teen die ongeregtigheid wat die regering geskep het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jean ·

Dis net jammer dat die VN niks vir die minderhede in die land gaan help nie

Sarel ·

Daar gaan ten minste ‘n stem.op en die van ‘n.
Politieke Party en nie net Burger Organisasie nie.
Maar om John Vorster aan te haal
” Die Wereld sal.nooit na SA luister nie”

Wonder ·

dit is skrikwekkend daar is so veel wat die probleme op die lappe bring, maar so ver P ons teen die wind…

hpven ·

Vries alle kaders se buitelandse bankrekenings, stel reisbebeperkings in en kla hulle aan vir menseregte skendings. Dit is ‘n goeie begin in die regte rigting.

Frank ·

Ja nee, die VN is nou ‘n tandlose leeu…. skuus, leeu welpie

Gaitsigubib ·

Die VN het die grootse klug van ons tyd geword. Hul primere rol was om ‘n WW2 situasie te vermy d.m.v groter samewerking tussen lede, tog het die VSA Irak ingeval sonder VN goedkeuring. Tenspyte daarvan dat die gebruik van kernbomme verbied is/was deur die VN lede, het die VSA in die Vietnam oorlog d.m.v ‘n geheime program (ek het die eerste maal daarvan gelees in die boek Chicken Hawk), n kleiner tipe mortuur, soorgelyk aan die “snotneus” wat in SA gebruik was op die punt van ‘n R1, met n lae kern lading in gebruik geneem. Nou stuur Britanje “depleted uranium” plofkoppe na julle weet watter land. “Depleted Uranium” koppe staan anders bekend as “dirty bombs”, dis nog steeds n kernbom! Die VN het in elk geval nou so die “woke” ideologie aangeneem dat ek nie glo dat hulle hulself gaan bekommer oor ‘n paar konserwatiewe blanke Christene op die punt van Afrika nie. Ek is wel bly dat ons verhaal vertel word, want iemand moet die geskiedenis opskryf……

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoe het Afrikaners by hierdie punt gekom? Van die werf na die kombuis na die sitkamer na die kombuis en nou weer êrens op die werf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.