VN-topvlak moet hoor van plaasmoorde

(Argieffoto: Reint Dykema)

Die dreunsang, “Kill the farmer, kill the Boer”, by die EFF se verjaarsdagvieringe en die herhaaldelike weiering om hulself daartoe te verbind om nie in die toekoms ʼn volksmoord op boere te ontketen nie, maak steeds internasionaal opslae.

Hierdie jongste wending het Saai as familieboernetwerk laat besluit om wyer as plaaslik beregtiging te soek en daarom het hy hom tot die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) gewend, wat ingestem het om Saai se familieboere-resolusie teen plaasmoorde en die swak veiligheidstoestande op die Suid-Afrikaanse platteland by die Verenigde Nasies (VN) aan te meld.

“Die familieboere-resolusie sal deur die direksie van die WLO by die VN se voedsel-en-landbou-organisasie (FAO) in Rome, asook by die algemene vergadering van die VN later vanjaar in New York voorgelê word,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Die WLO het reeds in 2015 en 2017 mosies aanvaar waarin die wêreld se landbouleiers hul steun en simpatie aan Suid-Afrikaanse boere as slagoffers van geweld wat aangehits is, toegesê het. Met die bekendstelling van die Verenigde Nasies se dekade van familieboere in 2019 in Rome, is daar bepaald verwys na die impak van plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding op die volhoubaarheid van landbou in lande soos Suid-Afrika, Venezuela, Zimbabwe, Oos-Kongo en die noorde van Nigerië.

“Dit in ag genome en die stygende plaasmoordsyfers saam met Julius Malema se kwalik bedekte dreigement dat die EFF nie moorde op boere beveel nie, ‘ten minste nie nou nie’, maar dat dit in die toekoms nie uitgesluit kan word nie, het Saai as familieboernetwerk laat besluit om wyer as plaaslik beregtiging te soek,” sê hy.

Toe Saai in 2019 in die raamwerk van die VN se dekade van familieboere in hul familieboere-resolusie sy aandag op ʼn benarde landelike veiligheidsituasie begin plaas het, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die gelykheidshof nog nie hul bevindings ten gunste van die EFF se gesing van “Kill the farmer, kill the Boer” gemaak nie.

Dr. Theo de Jager, raadsvoorsitter van Saai (Foto: Reint Dykema)

“Terwyl AfriForum die saak in September in die hoogste hof van appèl en daarna waarskynlik in die Konstitusionele Hof verder gaan voer om plaaslike remedies uit te put, fokus Saai op ander meganismes in die VN, Europese Unie en ander multilaterale instellings, waaronder die FAO en Menseregtekommissie (OHCHR), om op te tree teen die toksiese klimaat wat vir plaasaanvalle geskep word,” sê De Jager.

“Saai se inisiatiewe om plaaslik en internasionaal ʼn groter bewustheid van plaasaanvalle te skep is daarop gemik om druk op die Suid-Afrikaanse regering, en veral die veiligheidsmagte, te plaas om die probleem te erken en die landelike veiligheidsplan in te stel. Saai eis onder meer dat daar opgetree word teen diegene wat plaasmoorde aanhits en besing.”

Die DA het aangedui dat hy ook vir Malema en die ANC by die VN gaan aankla, oor Malema se “herhaalde aanhitsing van etniese geweld” en die ANC se “jare lange versuim” om teen Malema op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jacobus ·

En wat nou??? Gaan Amerika nou drie oorlogskepe stuur om ons te ondersteun. Ek het innige simpatie met elke boer wat vermoor word. Ons beste verweer lê by jouself, bewapen en beveilig jouself en wees altyd paraat.

Pieter ·

Die wat dit wel gedoen het is gearresteer en toegesluit. Moes lank veg om vrygelaat te word
In beginsel stem ek 100% met jou saam, maar dit backfire gereeld in die boere wat hul self beskerm het se gesigte

Pieter9 ·

Jy kan nie so eng daarna kyk nie; alle moontlike druk is nodig en hierdie inisiatief plus dit wat die Boere self doen is nodig.

JN ·

Man alleen teen die oormag nag sluipende moordenaars gaan jou tyd vinnig opraak.. Moet wyer as dit kan dink om te oorleef..

annie ·

Die wit bevolking val die ANC al die pad aan… Lees maar by elke berig, maar nou moet hulle die boere darem ondersteun. Dink soms, dit is moeilik ja, maar bly soms stil oor sake wat later groter skade kan veroorsaak. Ons oorlewing kan dalk indirek ook van Brics lande se goeie guns afhang. Boere se produkte verkoop orals en goeie geld help ons oorlewing. Om die hele tyd vir die VSA te smeek of ons, ons items mag uitvoer is om die minste te sê nogal siek.

Pieter ·

Hulle smeek nie dat VSA hul produkte moet aanvaar nie, hulle veg vir veiligheid. Die ANC het dit ook dekades gedoen en kyk wat het hulle gekry. Net dalk kan ons boere ook later op die wyse uitkoms kry. Net stilbly het nog nooit gewerk nie en sal ook nooit werk nie.

annie ·

Nee, ons kruip en glo my, die VSA lag in die mou vir die Boere wat so verleë smeek om tog aanvaar te word. Ons het alles verloor agv die VSA se sanksies. Dit is eintlik waar die VSA sy mag besef het en meer sanksies orals begin misbruik. Die DA het Afrikaners voorheen beswadder by die Weste maar nou skielik so besorg. Watter tragiese grap.

Nommer 7 ·

Die VN moet ook ingelig word van die moorde van 9 vroue en 4 kinders elke dag in SA.

Jakes ·

Die Republikeinse Jeugliga in die VSA is ten volle bewus van wat hier aangaan ten opsigte van Malema en sy matertjies. En hulle is nie die enigste groepering of land wat deeglik ingelig word nie. Meer as dit sal ek nie nou bekendmaak nie.

Papsak ·

Ja dis reg maar ons mag ons nie self vededig nie dan is dit nie reg nie ons mag nie eers vuurwapens he by ons nie nou hoe nou

Andre ·

Dis soos hulle dit genoem het: “Jy kan nie iemand wat die probleem veroorsaak het, daarmee vertrou om dit op te los nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.