Vonnis ‘skokkend onvanpas’ ná brandweerman kollega slaan

Duduzile Zuma, ‘n Johannesburgse brandbestryder, vertel van haar jarelange stryd om geregtigheid. Agter staan adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Maroela Media)

Sy red lewens. Dit is Duduzile Zuma, ʼn brandbestryder van Johannesburg, se roeping. Haar passie. Maar toe ʼn kollega se vuishou haar vyf jaar gelede teen die mond getref het, het sy nie besef dat sy eindelik vir haar eie behoud sou moes baklei nie.

Zuma stry sedert 2018 ʼn opdraande stryd om geregtigheid – en keer op keer het die stelsel haar in die steek gelaat.

Dié ma van twee wat binnekort haar vyftigste verjaardag vier, is ʼn brandbestryder met meer as 20 jaar ondervinding. In 2018 het ʼn kollega, self ʼn ervare brandweerman, haar ná ʼn woordewisseling in die gesig geslaan.

Sy het die voorval nie net dadelik by haar senior offisiere en stasiebevelvoerder aangemeld nie, sy het ook ʼn strafregtelike klagte by die polisie aanhangig gemaak. Geen interne tugstappe is tot dusver teen haar aanvaller gedoen nie, maar Zuma sê sy is sedertdien geviktimiseer en gemarginaliseer by die werk waar sy steeds elke dag opdaag en in haar aanvaller se oë moet kyk.

Die strafsaak is ondersoek, maar nadat ʼn ooggetuieverklaring uit die dossier verdwyn het, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om nie met vervolging voort te gaan nie. Zuma het haar uit desperaatheid na AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend.

Ondersoeker Slang Mangwale het opnuut die ooggetuieverklaring afgeneem, dit is by die dossier gevoeg en adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het druk op die NVG geplaas om die saak weer op die hofrol te plaas.

Malfas Tshota is in die Hillbrow-landdroshof aan aanranding skuldig bevind. (Foto: Verskaf)

Woensdag is Malfas Tshota, verbonde aan die Roosevelt Park-brandweerstasie, skuldig bevind aan aanranding. Sy vonnis: ʼn boete van R3 000 of twee maande tronkstraf.

Zuma vee soms die trane af terwyl sy oor die pad tot hier praat. Sy is gehospitaliseer vir depressie, uitgeskuif by die werk en moes veg om nie verplaas te word nie. As brandbestryders werk hulle in pare saam, vertel Zuma. Hulle beskerm mekaar.

“Die kollega wat veronderstel was om my te beskerm, het my geslaan.”

Nel beskryf Tshota se vonnis as “skokkend onvanpas” en sê die eenheid gaan verdere druk op die NVG plaas om teen die vonnis te appelleer.

“Ons word oorval met sake van geweld teen vroue en kinders en ons besef dat die stelsel slagoffers in die steek laat.”

Dié ervare voormalige staatsaanklaer verwys onder meer na die Jaco Swart-voorval. In dié saak, waarby die privaatvervolgingseenheid ook ingegryp het, het die hof Swart ʼn boete van R20 000 opgelê nadat hy aan die aanranding van sy vervreemde vrou, Nicoleen, skuldig bevind is.

Van die aanrandings op Nicoleen is ook op video vasgevang. Die ligte boete wat Swart opgelê is, het egter skerp kritiek en woede ontlok.

Dan is daar die jong student van Noordwes wat deur haar eks-kêrel verkrag is, sê Nel. Sy is gegryp, die bosse ingesleep en verkrag. Die saak teen haar verkragter is aanvanklik van die hofrol geskrap en ook hier het die privaatvervolgingseenheid betrokke geraak. Die saak is opnuut op die hofrol geplaas, die man is skuldig bevind aan verkragting en ʼn boete van R10 000 opgelê.

Ná die eenheid se volgehoue druk, appelleer die NVG nou teen die vonnis.

Nel sê die strafregstelsel hanteer nie sake soos hierdie met die erns wat dit verdien nie. Die howe bewys slegs lippediens aan die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. Daar word gepraat oor die aanslag teen vroue en kinders, maar die boodskap verander niks op voetsoolvlak nie. Volgende maand word Vrouemaand gevier, maar wat jaar op jaar by veldtogte gesê word, is wêrelde verwyder van dit wat in polisiestasies en howe in Suid-Afrika gebeur.

Duduzile Zuma en adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid en ondersoeker Slang Mangwale. (Foto: Maroela Media)

Zuma werk steeds as brandbestryder by dieselfde stasie waar die voorval plaasgevind het. Sy sukkel nog met depressie en is steeds erg getraumatiseer. Sy glo egter dat vroue soos sy moet opstaan om te help om verandering teweeg te bring.

“As jy ʼn probleem het, kan jy nie daarvan weghardloop nie. Weghardloop los niks op nie.”

Nel sê ook dit is hoog tyd dat die NVG met slagoffers soos Zuma konsulteer, werklik met hulle praat, eerder as om net ʼn dossier deur te lees en ʼn saak weg te werk.

  • Maroela Media het die Johannesburgse nooddienste om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kobus ·

Studeer aanklaers en landroste by sub standaard instelling? Swart kry R20,000 boete, die knaap R3,000? Hoe werk die stelsel? Indien ‘n minister geslaan het sou hy seker lewenslank gekry het. Die vrou kan haar nie verdedig nie. Verklarings raak weg, hoe? Word dit nie geskandeer en veilig bewaar nie?

Samuel ·

Die verklarings en dossiere raak weg omdat die SAPD en die grootbase wil hê dit moet verdwyn.

Barend ·

Janee in my dae toe die polisie nog polisie was het ek en vele ander afskrifte van ons dossiere se verklarings gemaak ek het myne tuis gebêre.
Niks van wegraak of omkopery nie net hof toe en tronk toe met sulke mense !

domheks ·

AfriForum se privaatvervolgingseenheid – kry die NGV nie skaam nie. Telkens moet sake heropen word! Hoekom word sekere sake net gelos?

Perdeby ·

Die Landroste van hierdie land ‘n net een groot grap!!! Die ANC kaders wil geweld teen vrouens bekamp, maar hoe dan nou???

T-Man ·

Hulle moes sommer n saak van rasisme ook ingestel het… oh nee wag…

SjN ·

Indien sy familie was van kader JZ sou die man seker lewenslank gekry het.

Harley Davidson ·

Ek wil weer sê daar is geen verskil tussen die man en die Groblersdal man nie albei skuldig aan aanranding maar die een word aan die kerktoring opgehang en die ander een word n belaglik straf gegee nadat Afriforum moes baklei om hom net aangekla te kry.

Roek ·

Waneer die klaers hulle nader met hul feite, hy kan nie net daar opdaag en dan links en regs aankla nie

Delia ·

Daai R3000 betaal hy met n smile. Belaglik. GBV sal net vererger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.