Vordering gemaak, sê Eskom oor verslag wat bestuur kap    

(Argieffoto: GCIS)

In die nege maande sedert ʼn onafhanklike paneel van kenners Eskom se steenkoolvloot ondersoek het, is daar volgens die kragverskaffer positiewe vordering gemaak met onder meer ontwerpverwante kwessies by die Medupi- en Kusile-kragstasie.

Daar is wysigings aan die ontwerp aangebring en dit het instandhouding en bedrywighede verbeter en aanlegbeskikbaarheid aansienlik verbeter, sê Eskom in reaksie op ʼn verslag van meer as 600 bladsye rakende ʼn onafhanklike ondersoek wat by die kragverskaffer se kragstasies gedoen is.

Daar is sedert Januarie ʼn totaal van 3 510 MW herwin deur gesamentlike pogings wat op prioriteitskragstasies fokus, het Eskom gesê. “Elke kragstasie het sy eie gedetailleerde herstelplan, en dit word sentraal gemonitor om suksesvolle implementering van die aksies te verseker. Die opwekking-herstelplan het tot dusver die afname in die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) gestuit en ons doelwit bly om ʼn gemiddeld van 65% in Maart 2024 en ʼn gemiddeld van 70% in Maart 2025 te behaal.”

Die tesourie het die verslag Vrydag, te midde van maande se kommer oor die geheimhouding daarvan, bekend gemaak. Die verslag is deur ʼn Duitse konsortium opgestel nadat daar van begin Maart 2023 tot einde Mei 2023 ʼn hersiening gedoen is van die bedryfsituasie van Eskom se steenkoolvloot. Daar is ook gekyk na die instandhoudingsbegrotings van die kragsentrales, die vaardigheidsvlakke van die onderskeie aanlegte se personeel en ʼn evaluering is van die transmissienetwerk gedoen.

Die verslag is in September aan die tesourie en die minister van finansies oorhandig en dit is nou eers bekend gemaak aangesien verskeie regering- en Eskom-belanghebbendes die afgelope maande “tyd gegun is” om die verslag voldoende te bestudeer.

Volgens Eskom het sy direksie vir Dan Marokane, die nuwe uitvoerende hoof, gevra om die opwekking-herstelplan te assesseer met die oog daarop om die uitvoering daarvan te versnel. “Hy sal ook seker maak dat die [verslag se] aanbevelings geïmplementeer word.”

‘Bestuurstelsel disfunksioneel en te kompleks’

Die ondersoek het behels ʼn hersiening van die bedryfsituasie van die steenkoolvloot, ʼn assessering van die kragsentrale-instandhoudingsbegrotings, ʼn vaardigheidsvlakassessering van kragsentralepersoneel, sowel as ʼn transmissienetwerkassessering.

Die hoofdoelwit van die steenkoolvlootondersoek was om redes vir die lae EBF van die steenkoolvloot – 50,83% sedert April 2023 – te bepaal en om maatreëls te ontwikkel om die situasie te verbeter.

Daar is bevind die meeste van die kwessies wat verband hou met die lae EBF kan toegeskryf word aan ʼn enkele hoofoorsaak: “Die bestuurstruktuur met sy benadering, struktuur en prosesse is disfunksioneel en te ingewikkeld,” lui die verslag.

Daar is te veel rompslomp met lang prosedures en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid terwyl besluitneming aan komitees gedelegeer word waarvan daar te veel op alle vlakke van die hiërargie is.

Die steenkoolvloot word sentraal bestuur en baie beperkte gesag word aan die aanlegbestuur gegee en moet hulle ingewikkelde prosedures volg en is hulle dus nie in staat om daaglikse bedrywighede en instandhoudingsuitdagings betyds en doeltreffend te bestuur nie, is daar verder bevind.

Eskom is nie meer in staat om die tegniese werkverrigting van die steenkoolkragsentrales te handhaaf of te verbeter nie. Volgens die verslag is die oplossing bedrywighede en instandhouding wat moet verbeter en volgens bedryfstandaarde uitgevoer moet word.

Die ingewikkelde verkrygingsbeleid en -prosesse het veral geblyk ʼn bottelnek te wees in die ondersteuning van die aanlegte met tydige voorsiening van onderdele en gekwalifiseerde dienste deur derde partye. Benewens die impak daarvan op aanlegprestasie, is die verkrygingsproses ook ʼn beduidende bydraer tot hoë diens- en verskaffingskoste.

‘EBF-fiksasie doodloopstraat’ 

In vergelyking met internasionale maatstawwe is die instandhoudingsbegrotings van Eskom se steenkoolvloot hoër hoewel die EBF baie laer is. “Die fiksasie op die EBF is ʼn doodloopstraat en lei tot swakker aanlegprestasie. Onderbrekings- en instandhoudingsaktiwiteite is oor die afgelope maande en jare uitgestel om die EBF op te hef – of ten minste te onderhou.”

Rakende Eskom-personeel is daar bevind dat baie werknemers gefrustreerd en gedemotiveerd is as gevolg van die voortdurende krisismodus. Salarisse is vir etlike jare nie verhoog nie en daar is geen stelsel waarin goeie prestasie beloon word nie.

Die paneel is van mening dat die kragsentrales se hoofbestuurders bemagtig moet word om die tegniese ommeswaai te bestuur. Hulle moet ook toegelaat word om vinnige verkrygingsprosesse toe te pas onder die toesig van die tesourie.

Daar word verder voorgestel die steenkoolvloot moet van die res van die opwekkingsonderneming ontkoppel word en dat sy enigste doelwit die herlewing van die bestaande kragsentrales moet wees.

“Tensy daar onmiddellik ingegryp word, sal die situasie voortgaan om te eskaleer.” Benewens die bemagtiging van die kragsentralebestuur beveel die paneel ʼn tussentydse eksterne span van deskundiges aan wat direk aan die tesourie rapporteer. “Lede van die kundige span moet permanent op elke terrein beskikbaar wees om sleutelrisikogebiede op te volg en in te gryp indien nodig.”

Parallel met die omkeeraktiwiteite moet ʼn konsep vir die langtermynsakemodel van die steenkoolafdeling ontwikkel word. “Daar is verskeie opsies wat oorweeg moet word – dit wissel van kundige ondersteuning tot toegewings vir individuele kragsentrales en privatisering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.