Vragmotor met duisende kuikens slaan om

Inspekteurs van die NDBV by die kuikens (Foto: NSPCA – National Council of SPCAs, Facebook)

WAARSKUWING: Die foto’s in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

ʼn Vragmotor met sowat 41 500 dag oue kuikens het Maandag omgeslaan nadat dit in ʼn gru-ongeluk met twee ander vragmotors, ʼn bakkie en ʼn motor betrokke was. Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se eenheid vir plaasdierebeskerming is ontbied om die kuikens te red. Van die kuikens moes van kant gemaak word weens die aard van hul beserings.

Luidens ʼn verklaring van die NDBV het die ongeluk op die N3-suid digby Heidelberg in Gauteng plaasgevind. Die vragmotor was onderweg na ʼn braaikuikenboerdery in die Vrystaat.

Met die NDBV se inspekteurs se aankoms op die toneel het hulle van die kuikens dood aangetref, terwyl hordes ander die snelweg vol gehardloop het.

(Foto: NSPCA – National Council of SPCAs, Facebook)

“Duisende van die kuikens was met diesel deurdrenk. Dit het klaarblyklik op die kuikens gedrup terwyl die vragmotor op sy dak gelê het,” lui die NDBV se verklaring.

(Foto: NSPCA – National Council of SPCAs, Facebook)

“Die NDBV-inspekteurs, saam met die DBV-spanne van Heidelberg, Boksburg, Alberton en Brakpan, moes van die kuikens wat erge beserings opgedoen het, van kant maak om hulle onnodige lyding te spaar.”

Altesaam 21 000 kuikens wat ongedeerd van die voorval afgekom het, is in ʼn voertuig gelaai en onder toesig van inspekteurs na die naaste broeiplaas geneem. Dié groep kuikens is daarna na ʼn braaikuikenplaas in Noordwes oorgeplaas.

“Inspekteurs het Dinsdag ʼn draai op dié plaas gemaak om te kyk hoe dit met die kuikens gaan. Daar is bevind dat hulle rustiger is as kort ná die ongeluk.”

Die NDBV het die betrokke DBV-spanne, wat ingespring en gehelp het om die kuikens te red, bedank vir hul toewyding.

“Ons waardeer ook die hulp van die plaaslike polisie en verkeersdepartement wat die toneel beveilig het om te verseker dat ons veilig en ongehinderd die kuikens kon red.

“Ons betuig ook medelye aan die families wat geliefdes tydens die ongeluk verloor het.”

(Foto: NSPCA – National Council of SPCAs, Facebook)

(Foto: NSPCA – National Council of SPCAs, Facebook) 

(Foto: NSPCA – National Council of SPCAs, Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anthony ·

Arme goed ne, hulle was nou gespaar sodat ons hulle later kan dood maak……

Francois ·

20 paragrawe oor die kuikens en die ongeluk en dan net onderste paragraaf is medelye aan die mense wat omgekom het in die ongeluk ????

Eiervrug ·

Ek dink die stuk gaan oor die duisende kuikens wat op die hoofweg was… Dit was gaaf van hulle om medelye te betoon in die berig wat oor die kuikens gegaan het… Lees weer mooi, ek dink jy mis die punt van die storie.

Hennie J ·

Uiteindelik weet ek ook nou wat ‘the chicken run’ beteken.

Danie ·

Dat eenvoudige hoenderkuikens se lewes as waardevol geag word sê iets van die betrokkenes se opvoeding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.