Vrouemoord ‘globale pandemie’

(Argieffoto: Pixabay)

Suid-Afrika is een van die topvyf lande in die wêreld wat moord op vroue betref – wat as die tweede hoogste oorsaak van dood by individue, naas MIV/vigs, beskou word.

Só lui ’n artikel deur dr. Sheena Swemmer, hoof van die sentrum vir toegepaste regstudies by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

Swemmer het Woensdag as kenner in geslagsgebaseerde moord en vrouemoord in Gerhard Jansen van Vuuren (41) se voorvonnisverhoor getuig ter verswaring van sy vonnis.

Die staat skryf Jansen van Vuuren se gewese meisie, Andrea Venter (23), se moord aan geslagsgeweld toe.

Die staatsaanklaer in die saak, adv. Rolene Barnard, het geslagsgebaseerde geweld as ’n globale pandemie beskryf en navorsing aangehaal wat daarop dui dat 50% van alle vrouemoorde deur hul intieme maats gepleeg word.

Geslagsgebaseerde geweld is gebaseer op ongelykheid en diskriminasie teen vroue en kan verbaal, fisiek, ekonomies, emosioneel of selfs seksueel wees.

In Swemmer se artikel “Femicide and the Continuum of Gender Based Violence” verwys sy na ’n studie wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad in 2009 uitgevoer is, wat bevind het dat ’n vrou elke agt ure deur ’n intieme lewensmaat vermoor word.

Swemmer het in die hof getuig dat vrouemoord nie beperk word tot sekere kulturele of rasse-groepe of sosiale klasse nie.

In ’n verslag wat Swemmer vir die Jansen van Vuuren-saak saamgestel het, bevind sy dat 18% van verhoudings of huwelike wat beëindig word, tot vrouemoord lei.

Die verslag het ook bevind dat 68% van alle moorde op vroue, ’n geskiedenis van geweld in die verhouding toon.

In altesaam 61% van die gevalle is oormatige geweld gebruik.

“Volgens polisieverslae kan 32% van vrouemoordgevalle waar oormatige geweld gebruik is, aan vervreemding toegeskryf word, terwyl 11% van gevalle toegeskryf word aan mans wat uitgevind het hul vroue was ontrou,” lui die verslag.

Volgens die verslag is ’n mes die algemene vorm van wapen waarmee vroue doodgemaak word.

“Toenemende gevalle van vrouemoord wêreldwyd impliseer daar is ’n mislukking in die stelsel wat ten doel het om vroue teen geweld te beskerm,” sê Swemmer in haar artikel.

Sy het in die hof getuig dat die Suid-Afrikaanse regering reeds verskeie stappe gedoen het om eksplisiete vrouemoord te hanteer. Sy het ook verwys na president Cyril Ramaphosa wat aan die einde van die jaar ’n simposium gaan hou om die kwessie onder die loep te neem.

“Hoewel stappe aangekondig is om die probleem te hanteer, weet ek nie of dit al voldoende toegepas word nie.”

Risikofaktore

Swemmer skryf geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord hoofsaaklik toe aan die patriargale stelsel in die samelewing “waar vroue as voorwerpe beskou word wat deur die man beheer kan word”. Sy sê die Suid-Afrikaanse gemeenskap is veral nog op hierdie patriargale waardes gegrond.

“As ’n vrou in ’n gemeenskap is waar oortuigings en dade fundamenteel gewortel is in geslagsongelykheid en die patriargale stelsel, word geweld teen vroue aanvaar. Dit is ’n vorm van beheer deur mans wat glo dat handhawing van ’n hiërargie van seks of geslag fundamenteel is en behou moet word, selfs al moet geweld gebruik word,” lui Swemmer se artikel.

Swemmer sê sodra die samelewing sy siening oor die patriargale stelsel verander, sal vroueslaners hul houding en optrede ook begin verander.

Swemmer dui in haar verslag op faktore wat tot die vorming van ’n vroueslaner bydra:

  • aanskouing van geweld in die ouerhuis
  • fisieke of seksuele mishandeling as kind
  • lae selfbeeldprobleme
  • gehegtheid- en verwerpingsprobleme
  • persoonlikheidsversteurings
  • eksterne faktore soos die misbruik van dwelmmiddels

Waarom bly vroue in sulke verhoudings?

Swemmer het die afgelope week getuig dat vroue wel ’n sielkundige, liefdevolle verhouding met hul mishandelaar het en dit soms moeilik vind om daardie band sommer net te breek.

Soms het die vroue nie ’n ander heenkome nie en word gedwing om by hul mishandelaar te bly. Swemmer sê Suid-Afrika het nie genoeg skuilings vir slagoffers van geslagsgebaseerdegeweld wat aan vroue ʼn heenkome kan bied nie.

“Slagoffers bly soms ook by hul mishandelaar weens finansiële redes. Hulle is dalk werkloos en hul lewensmaat sorg finansieel vir hulle.”

Swemmer sê daar is talle gevalle waar vroue nie die nodige ondersteuning by familie of die samelewing kry nie.

“Partykeer val die slagoffer se noodkreet aan familielede op dowe ore of die familie sê dalk die vrou oorreageer. Daar is ook al gevalle aangemeld waar die polisie nie slagoffers van geslagsgebaseerde geweld by polisiestasies wou help nie.”

Swemmer sê dit is ook algemeen dat geweld erger word, en selfs tot die dood kan lei, wanneer vroue die verhouding met hul mishandelaar probeer beëindig.

“Om die verhouding of huwelik te beëindig, is die gevaarlikste tyd vir die vrou. Dit is dan wanneer sy op haar weerlooste is.

“Die idee dat die vrou hom gaan los, die idee van vervreemding en verwerping, kan meer aggressie en jaloesie in die mishandelaar aanwakker. Die man voel ‘hy verloor beheer’ en wil hierdie beheer terugkry deur middel van geweld. Die man besef sy ‘besitting’ is besig om hom te los, en dan probeer hy weer sy ‘eienaarskap’ oor die vrou terugkry.”

Swemmer sê soms slaag die vrou om uit die gewelddadige verhouding los te breek, maar dan spoor haar mishandelaar haar dalk weer op, wat eindelik haar haar lewe kan kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.