Vyf in hof vir Vaalharts-moorde

Tshepo Visagie. Die vyf verdagtes wat aangekla word van Breggie, Dan en Elzabie Brand se moord, het Maandag in die hof in Kimberley verskyn. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die vyf verdagtes wat in verband met die moorde op Breggie Brand (73), haar man, Dan (83), en hul dogter Elzabie (54) in hegtenis geneem is, het Maandag in die hooggeregshof in Kimberley, Noord-Kaap, verskyn.

Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Realeboga Manyedi (20), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20) staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagtes van ontvoering en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg. Seoleseng word ook daarvan aangekla dat hy uit aanhouding ontsnap het.

Die Brand-egpaar se twee dogters, Trudie de Beer en Heidie Taljaard, asook dié se man, Wikus, het Maandag die hofsaak bygewoon. Die Taljaard-egpaar het al die pad van Brackenfell in die Wes-Kaap gekom om die hofsaak by te woon.

Die slagoffers is vermoedelik reeds die Sondagmiddag (26 Julie) ontvoer tydens ʼn aanval op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater. Daar was tekens van ʼn struweling en bloedspatsels in die huis.

Luidens die klagstaat het ʼn familievriend van die Brand-gesin Maandag (27 Julie) agtergekom dat die gesin, asook hul motors, waaronder ʼn rooi Nissan Micra en silwer Mazda CX5, weg is. Die Nissan Micra is later die dag in ʼn steengroef naby die Majaneng-nedersetting verlate gevind.

ʼn Soektog is deur die aand gehou.

“Die silwer Mazda 5 is die Dinsdag vroegoggend op die N12, in die rigting van Vryburg, gewaar. Polisielede het die voertuig voorgekeer. ʼn Man (vermoedelik Visagie) het uit die bestuurderskant geklim en in die veld verdwyn. Die oorblywende vier verdagtes was ook in die voertuig en is in hegtenis geneem,” lui die klagstaat.

“Die verdagtes is deursoek en ʼn swart Samsung Galaxy-selfoon is in die besit van Mpulwana gevind. Daar is vasgestel dat dié selfoon aan Breggie behoort het.”

Seoleseng is met sy inhegtenisneming agterin ʼn polisievoertuig gesit om hom polisiestasie toe te neem. Terwyl die polisie ʼn soektog na die vermiste Brand-familie uitgevoer het, het Seoleseng ontsnap, maar is later weer vasgetrek.

Visagie het die Sondag (26 Julie) ʼn Sahara-skootrekenaar en ʼn Samsung J5-selfoon wat aan die Brand-gesin behoort het, in ʼn pandjieswinkel in die Taung-omgewing verkwansel, lui die klagstaat.

“Hy is die Woensdag (29 Julie) weer in hegtenis geneem. Hy is in die besit van ʼn pienk geheuestokkie gevind, wat ook aan Breggie behoort het.”

Breggie se liggaam is ook Woensdag vroegoggend in die Taung-omgewing gevind, gevolg deur Dan en Elzabie sʼn op dieselfde dag. Al drie oorledenes was vasgebind.

“ʼn Handsak met persoonlike items wat aan Breggie behoort het, is Donderdag (1 Augustus) in Mpulwana se kamer gevind.”

Volgens die nadoodse ondersoek is die oorsaak van Dan se dood weens ʼn kopbesering wat deur ʼn stomp voorwerp veroorsaak is en Breggie weens veelvoudige wonde wat deur stomp en skerp voorwerpe veroorsaak is. Elzabie is dood weens verwurging.

Die verdagtes het sedert hul inhegtenisneming verskeie kere in die hof verskyn en is verlede jaar borgtog geweier.

Die Brand-moorde het die Vaalharts-omgewing geruk. Met die verdagtes se eerste verskyning in die landdroshof op Hartswater het honderde lede van die gemeenskap na die hof opgeruk om stem dik te maak teen dié moorde.

Van links: Donald Seoleseng, Tshepo Visagie, Realeboga Manyedi, Kgomotso Mpulwana en agter is Tsepaone Melato (Foto: Anja van der merwe/Maroela Media)

Lees Dinsdag Maroela Media se onderhoud met die susters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oosieoos ·

Gewetenlose monsters hulle hoort nie in ons samelewing nie

Danie ·

Die moorde sal nie stop daar geen afskikmiddel die regstelsel strawwe te lig.Dit is ook lekker in die tronke kos,medies en lekker vriende.Ek hoop die beskuldiges sien nooit weer die buitekant van die tronk.

domheks ·

Tronkstraf is SA is ‘n groot grap. Kry 3X lewenslank, dan is al drie gesamentlik m.a.w hulle sit vir 5 -6 jaar, Dan is die gemors weer op straat om verder te moor/verkrag.

Jannie van Niekerk ·

En dan is daar nogsteeds mense wat teen die doodstraf gekant is. Geen moordenaar, plaasaanvaller, transitorower, motorkaper, kindermolesteerder of dwelmhandelaar verdien om te lewe of aanspraak te maak op mensergte nie. Hang hulle, maar hang hulle pynlik en stadig.

KatjieDeKat ·

Ja maar jy behoort mos nou al te weet in Hierdie land sal slegs blankes die doodstraf kry. As hul dade van so n aard is dat hulle dit verdien, het ek ook geen probleem daarmee nie. MAAR daar MOET absolute regverdigheid wees, ALMAL wat die doodstraf verdien, moet dit kry. Nou vra jouself af – Is hierdie land se regstelsel regverdig? OF is daar twee stelle reels vir 2 verskillende bevolkings groepe?

JM ·

In die Arabiese lande is moordenaars en verkragters se straf óf die vuurpeleton, óf die galg. Hier word moordenaars en verkragters met handskoene hanteer. Geen wonder dat hulle nie afgeskrik word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.